80-jarige vang doktorsgraad by UJ

Rob Jeffrey (Foto verskaf deur UJ)

Henry Ford het gesê: “Enigiemand wat aanhou leer, bly jonk. Die beste ding wat jy in jou lewe kan doen, is om seker te maak jou verstand bly jonk.”

Dit is veral waar vir die 80-jarige PhD-gegradueerde, Robert Jeffrey.

Dié ervare geleerde en afgetrede sakeman het op 23 Maart die verhoog betree by die Universiteit van Johannesburg se Kingsway-kampusouditorium om sy doktorsgraad in ingenieursbestuur te ontvang.

Jeffrey, vergesel deur sy familie, het gesê hy was tegelykertyd op sy senuwees en opgewonde. Die gehoor het vir hom ʼn staande applous gegee toe hy sy graad ontvang het.

Sy tesis, Assessing the actual costs of alternative electricity generating technologies in South Africa in line with its economic development requirements, is ʼn onderwerp wat hom al sy hele loopbaan lank interesseer.

Rob Jeffrey en sy familie (Foto verskaf deur UJ)

Die oupa van agt, nou afgetree, wou ʼn projek takel wat vir hom ʼn doel sou gee ná hy die gebruik van een van sy bene verloor het.

“Dit is belangrik om ʼn doel te hê en ek wou ʼn onderwerp takel wat my sou uitdaag en ʼn positiewe uitslag sou gee vir alle Suid-Afrikaners, veral werkloses en armes.”

Onderwys was ʼn natuurlike pad vir Jeffrey wat vir ʼn kort rukkie lank in die spore van sy ouers, wat albei onderwysers was, gevolg het.

Deur sy loopbaan was hy besturende direkteur en finansiële direkteur van groot maatskappye, ʼn ekonomiese analis en raadgewer vir die Reserwebank, hy het in konstruksie en energie-evaluering gewerk en was ook betrokke by maatskappysamesmeltings, maatskappyverkrygings en finansiële projekte in ʼn rits bedrywe.

Oor die afgelope sewe jaar het hy as ʼn onafhanklike energie- en ekonomiese konsultant gedien.

“Ek is baie trots en tevrede met die doelwitte wat ek gestel het om dié doktorsgraad te verwerf. Onderwys gaan daaroor om die hele land te ontwikkel en moet, deur ekonomiese groei, tot voordeel strek vir armes en werkloses. Goeie onderwys is die belangrikste voordeel wat enige ouer hul kind kan gee.”

Rob Jeffrey by sy huis waar hy ure aan sy doktorsgraad gewerk het (Foto verskaf deur UJ)

Sy tesis is ʼn onafhanklike ekonomiese analise oor die kragopwekkingsbedryf in Suid-Afrika en om die beste roete te bepaal wat die land kan inslaan om sy kragopwekkingshulpbronne te ontwikkel. In sy tesis, wat vier jaar lank geduur het om af te handel, het Jeffrey die impak van bestendige kragtoevoer bepaal – of dit nou fossielbrandstof of hernubare elektrisiteit is – op die ontwikkeling van ʼn land se ekonomie.

Sy tesis kom in ʼn tyd waar Suid-Afrika in ʼn kragkrisis gedompel is met deurlopende beurtkrag wat druk plaas op die ekonomie.

“Jeffrey het die Universiteit van Johannesburg vir sy doktorale studie gekies, aangesien die universiteit vir hom die toerusting gebied het wat hy benodig het om te werk aan ʼn projek wat ʼn impak kan hê op die samelewing,” sê Mpiletso Motumi, woordvoerder van die universiteit.

Tesis-toesighouer prof. Andre Nel het gesê Jeffrey was ʼn plesier om mee saam te werk en het homself daarop toegespits, selfs deur die Covid-19-periode waar hy siek was. “Hy het baie hard gewerk aan die onderwerp en baie moeite gedoen met sy tesis,” sê Nel.

Jeffrey, ʼn uitnemende spreker, voorsitter en aanbieder, beplan om voort te gaan om die vordering van energie in die land te bly studeer en ook op sy fotografie te fokus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.