AA-studie: Suid-Afrikaners voel steeds onveilig

(Argieffoto: pixabay)

Nagenoeg 76% van Suid-Afrikaners het in ʼn studie van die Automobiel-Assosiasie (AA) aangedui dat hulle al slagoffers van misdaad soos rooftogte, verkragting en huisbraak was.

Die algemeenste misdaad waaronder mense deurgeloop het, was rooftogte en diefstal.

Die AA het Dinsdag die bevindings van die omvattende verslag oor Suid-Afrikaners se persoonlike veiligheid bekend gemaak. Die amptelike misdaadsyfers van die regering is saam met ʼn vraelys wat aan respondente gestuur is, gebruik om die verslag saam te stel.

Van watter misdaad was jy ʼn slagoffer?
Huisbraak69,17%
Roof58,95%
Skade aan eiendom35,94%
Voertuigdiefstal33,98%
Bedrog32,78%
Aanranding16,09%
Motorkaping13,83%

Die navorsers het bevind dat 43,5% van Suid-Afrikaners meestal veilig in hul huise voel. Net 15% van respondente het aangedui dat hulle heeltemal veilig tuis voel, ʼn “skokkende bevinding gegewe die feit dat jou huis veronderstel is om ʼn veilige hawe te wees,” sê die AA.

misdaad

(Argieffoto)

ʼn Skamele 4,9% van mense het egter aangedui dat hulle heeltemal veilig voel wanneer hulle tussen die werk en hul wonings pendel.

Luidens die verslag voel mense minder veilig in openbare ruimtes soos parke, as in binnenshuise omgewings soos winkelsentrums. Net 1% van mense voel heeltemal veilig in plekke soos parke. Weens dié gevoel van onveiligheid verander talle Suid-Afrikaners hul gedrag, vermy hulle sekere omgewings en situasies en tref hulle al hoe meer veiligheidsmaatreëls by hul huise.

Mense verkies onder meer om nie enige waardevolle items saam met hulle te dra nie, of hulle maak dubbel seker hul besittings is behoorlik beveilig wanneer hulle dit wel êrens heen waag. Meer as die helfte van Suid-Afrikaners gebruik eerder nie hul selfone wanneer hulle in openbare ruimtes is nie en nagenoeg 7% van mense dra ʼn vuurwapen. Mense is ook hiperwaaksaam.

sekuriteitskamera-3_vuurvreters_pixabay.jpg

(Foto: pixabay)

Die navorsers het bevind meer as die helfte van Suid-Afrikaners het diefwering, veiligheidshekke en ʼn alarmstelsels by hul huise geïnstalleer. Nagenoeg ʼn kwart van respondente het ook elektriese hekke, paniekknoppies, private veiligheidsdienste, bewegingsgeaktiveerde ligte en elektriese heinings aangebring. Net minder as ʼn kwart van mense het veiligheidskameras by hul huise.

Weens vrees vir hul eie veiligheid of dié van ander, vermy 65% van mense sekere plekke of situasies, 41% ervaar gevoelens van angs. Sowat ʼn kwart van mense voel vyandig teenoor ander weens vrees vir hul veiligheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ricus ·

Ons was nog nooit in die afgelope 28 jaar veilig gewees in SA

Boortor ·

Wie kan veilig voel met iemand soos cele wat in ” beheer” is? Niemand nie!!

Leon ·

In ons omgewing patroller die veiligheids maatskappye die strate en sowel die polisie. Maar, die straat waar ons bly sien jy NOOIT ‘n veiligheids maatskappy of polisie of selfs die GPF wat ook patroleer se voertuie nie. Die enigste wat jy hulle sien as daar ‘n misdaad was of as jy weg is en jou alarm afgaan.
Ons is dus GLADNIE veilig nie.

Michael 1 ·

Ek sal graag wil sien watter deel van die SA bevolking verantwoordelik is vir die sitsuasie.

Gerhard ·

Ek glo ons almal ken die antwoord op daai vraag Michael 1…

Chuck ·

Al bogenoemde bring vrees , maar die grootste bekommernis is malema hy blaas haat aan teen Wit mense ,en dit is tasbaar oral waar jy gaan.
Dit het begin by hom ,en almal sonder insig volg hom.
Plaas aanvalle is n hartseer .

Genis ·

Misdaat is uit beheer… en ek kannie verstaan dat CR, dit nou regruk nie.. Stel nou die regte mense aan, nie n hoet pupit wat dink hy is n komediant nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.