Aanvraag na ivermektien plaas druk op dieregesondheidsbedryf

(Foto: SA Polisie)

Die skielike aanvraag na ivermektien, gebaseer op menings dat die produk Covid-19 kan voorkom en behandel, het ʼn direkte impak op die dieregesondheidsbedryf.

Dr Peter Oberem, uitvoerende hoof van Afrivet, het in ʼn verklaring gesê daar is geen geregistreerde of gelisensieerde ivermektien-produkte in Suid-Afrika wat geskik is vir menslike gebruik nie. “Desperate mense, mense wat berigte in die media en op sosiale media gesien het van verskeie dokters en geloofwaardige internasionale bronne dat die produk gewettig moet word vir die bekamping en behandeling van Covid-19 doen desperate dinge,” het hy gesê.

“Dit het gelei tot ʼn toename in die swartmark vir die invoer en moontlik vervaardiging van ivermektienprodukte in die land. Talle mense maak ook van diere-formules gebruik. Dié formules verskil van dié wat vir menslike gebruik geregistreer is. Die veiligheid daarvan is nog nooit in mense getoets nie. Dit is ook onwettig om die gebruik daarvan vir mense aan te beveel,” het Oberem bygevoeg.

Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) het intussen Woensdag aangekondig dat hy ʼn “beheerde toegangsprogram om menslikheidsredes” vir die gebruik van ivermektien deur mense – vir die gebruik by Covid-19-pasiënte – gaan toelaat.

Daar was die afgelope paar weke toenemend oproepe van nie net gewone burgers nie, maar ook van talle mediese praktisyns desperaat vir ʼn manier om hul Covid-19-pasiënte te help, dat die gebruik van ivermektien toegelaat word.

Sahpra het tot dusver gesê daar is bloot nie genoeg studies en data beskikbaar om die gebruik daarvan vir die behandeling van Covid-19 te regverdig nie. Ivermektien was boonop nie geregistreer vir menslike gebruik in Suid-Afrika nie.

Die burgerregteorganisasie AfriForum beskou Sahpra se aankondiging as ’n stap in die regte rigting. Die wettige gebruik van die middel is egter uiters beperkend, sê AfriForum. Daarom gaan die organisasie se hofsaak teen Sahpra op 2 Februarie steeds voort.

Maroela Media het vroeër berig AfriForum, ʼn Pretoriase dokter en twee van sy pasiënte het Sondag ’n dringende hofaansoek gebring teen Sahpra en dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, om te verseker dat ivermektien wat vir menslike gebruik ontwikkel is, beskikbaar kan wees sodat dokters dit vir die behandeling van Covid-19 kan voorskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Ann ·

Vir ons wat in die dierebedryf werk is dit bitter moeilik om te weet dat as gevolg van mense se paniekaankope, die vee daaronder ly. Daar is nêrens beskikbaar nie!! Mense besef nie die impak wat dit op ons het nie.

Wikkelwillie ·

Dit is n GROOT frustrasie vir ons wat die entstof vir diere benodig. Jy kry net nerens 1% Ivermektien nie

Cornelis ·

Ek moes iemand soebat om’n 500ml bottel gekoop te kry aangesien hy dit nodig geag het om 30 bottels op eenslag te koop. En dit in ‘n tyd waar ons baie sukkel met parasiete in ons diere in ons omgewing.

Pieter J ·

Dit is ongelukkig wat gebeur as jy met so ń magsbehepte regering sit wat dink hulle weet alles.

annie ·

En ons weet wat volgende gaan gebeur: Regstellende aksie met ‘n groot finansièle kick aan ‘n onbekende swart maatskappy onder Indiese-toesig waarna die middel teen astronomiese pryse verkoop word. Natuurlik eerste aan swart burgers en hul diere beskikbaar gestel (gepledge deur Cyril) en dan aan Afrika-lande en die res van die wèreld met plaaslike wittes laaste in die tou. Dieselfde paadjie wat entstof gaan volg. Viva dwaasheid.

Piet ·

Die middel kan nie Covid VERHOED nie, kan dalk help met behandeling as jy dit klaar het.

ES ·

Daar is nie genoeg toetse gedoen om te kan bewys dat Ivermektien effektief werk vir COVID nie. Mense doen nou “panic buying” sonder dat hulle hulself opvoed oor die gevare daarvan… en waarvoor dit eintlik gebruik moet word.

Dis eintlik skokkend.

Piet ·

Korrek, met al die (valse) hype dink mense nou dat dit gelykstaande is aan of ‘n alternatief is vir ‘n entstof wat spesifiek ontwikkel is om Covid te keer. Nog meer skokkend is dat sommiges die veemedisyne blykbaar meer vertrou as die entstowwe wat deeglik getoets is op mense en reeds aan miljoene mense toegedien is. Die veemedisyne gaan nie keer dat jy Covid kry en ander mense aansteek nie.

Irma ·

ES, mense is desperaat om ‘n middel te kry wat moontlik met die behandeling van Covid-19 kan help. Dit is eintlik ‘n enorme risiko wat hulle neem.

Piet ·

Hoeveel kos so ‘n pakkie ivermektien pille? Is die pille vir menslike gebruik al beskikbaar in SA?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.