ActionSA maan ook Ramaphosa teen NGV-wet

ActionSA-leier Herman Mashaba (Foto:ActionSA)

ActionSA het president Cyril Ramaphosa skriftelik versoek om nie die wetsontwerp oor Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), wat vandeesweek in die parlement goedgekeur is, te onderteken nie, sodat ʼn tweede fase van staatskaping in die land vermy kan word.

Ramaphosa se handtekening sal die NGV as wet bekragtig.

“Alhoewel die NGV goeie bedoelings het om gesondheidsorg-ongelykheid in Suid-Afrika te takel, is die voorstel gebrekkig, aangesien dit die weg sal baan vir grootskaalse korrupsie soos wat ons tydens die Covid-19-pandemie gesien het toe miljarde deur PPE en verwante korrupsie verlore gegaan het,” sê Herman Mashaba, president van ActionSA. “Ons moet nooit vergeet van fluitjieblasers soos Babita Deokaran wat hul lewens verloor het toe hulle korrupsie wou ontbloot nie.”

Mashaba sê die regering het deurlopend bewys hy is onbekwaam om geld of ingewikkelde stelsels te bestuur – soos gesien by Eskom, Transnet en Sassa, en die skep van ʼn ander gesondheidsmonster wat gevolglik min sal doen om gesondheidsorgprobleme te takel, en eerder die bedryf bloot te stel aan staatskaping en misbruik.

“In Suid-Afrika is ons probleem nie finansiering nie, maar die geld wat verlore gaan weens korrupsie en wanbestuur.”

In lyn met ActionSA se gesondheidsorgbeleid wat by die party se beleidskonferensie in September aanvaar is, glo Mashaba dat die regering eerder sy aandag daarop moet fokus om die huidige prestasie van gesondheidsorginstansies te verbeter.

“Sodra ons aan bewind is, sal ons die departement van gesondheid hervorm deur bykomende dokters en verpleegsters op te lei en korrupsie by staatshospitale uit te roei. Om toegang tot bekostigbare omvattende mediese versekering te verseker, sal ons die privaat mediesefondsbedryf hersien, minimum voorgeskrewe voordele vir privaat gesondheidsorggebruikers uitbrei en regulasies instel wat oorbetaling sal voorkom.”

ActionSA sal ook van ministers en parlementariërs vereis om slegs staatsgesondheidsorg te gebruik sodat hulle die impak van swak gehalte staatsorg kan begryp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.