ActionSA ontbind provinsiale komitee in KZN

(Foto: ActionSA/Facebook)

ActionSA het sy provinsiale uitvoerende komitee in KwaZulu-Natal met onmiddellike inwerkingtreding ontbind en sê dit het die afgelope paar weke duidelik geword dat ʼn groep mense die komitee “geïnfiltreer” het met die bedoeling om die party te destabiliseer.

Michael Beaumont, nasionale voorsitter van ActionSA, sê hierdie optrede word gedryf deur politieke magte buite die party en het te voorskyn gekom in ʼn vlaag openbare bedankings onder vals voorwendsels wat gemaak word om die party se naam skade te berokken.

“Hierdie individue is nie slagoffers nie, maar eerder verraaiers van KwaZulu-Natal se mense wat vir ActionSA gestem as ʼn alternatief tot die ANC,” sê Beaumont.

Hy verwys onder meer na ʼn opgeneemde gesprek tussen ʼn voormalige lid van die provinsiale uitvoerende komitee en iemand in die ANC wat gehandel het oor ʼn versoek dat ActionSA sy steun toesê om die ANC in die provinsie in ruil vir geld te help beskerm, wat die afgelope ruk se gebeure veroorsaak het.

“Die persoon se lidmaatskap is summier opgeskort omdat ActionSA nie die beskerming van die ANC geduld het nie en dit ook nie nou gaan doen nie.”

Die party sê sy lede wat verbind is tot ActionSA se pogings om die land reg te ruk, mag nie ly onder die optrede van diegene wat met “bymotiewe” optree nie.

Beaumont het benadruk dat daar steeds talle lede in die provinsiale uitvoerende komitee is wat hard daaraan werk om Suid-Afrika reg te ruk. “Ons is vol vertroue dat hulle sal voortgaan om strukture te bou wat vinnig dwarsdeur die provinsie groei.”

Die party se nasionale direkteur van operasies, John Moodey, sal intussen alle politieke bedrywighede in KwaZulu-Natal hanteer tot ʼn nuwe provinsiale voorsitter in Oktober aangewys kan word.

Steun vir ActionSA groei volgens Beaumont vinnig, nie net in KwaZulu-Natal nie, maar ook landwyd en Beaumont sê die steun gaan toeneem om te verseker inwoners van die provinsie het politieke alternatiewe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.