Adjunkpresident nou spoghuise, superjag in SA kwyt

Teodoro Nguema Obiang Mangue tydens ‘n besoek aan Suid-Afrika in 2019. (Foto: Michele Spatari / AFP)

Die Suid-Afrikaanse owerhede het nou beslag gelê op twee huise en ʼn superseiljag wat aan Ekwatoriaal-Guinee se adjunkpresident, Teodoro Nguema Obiang Mangue, behoort nadat ʼn Suid-Afrikaanse sakeman hom gedagvaar het vir onwettige inhegtenisneming en marteling.

Daniel Janse van Rensburg is 491 dae lank onwettig in ʼn berugte tronk in Ekwatoriaal-Guinee aangehou én gemartel nadat ʼn sakeonderhandeling in 2013 skeefgeloop het.

Maroela Media het destyds berig daar het glo ʼn geskil tussen Janse van Rensburg en Gabriel Bela Angabi, ʼn sakeman van Ekwatoriaal-Guinee met ʼn noue verwantskap met Obiang, ontstaan oor ʼn lugvaartkontrak van R30 miljoen.

Janse van Rensburg is weens die geskil in hegtenis geneem nadat hy destyds na dié land gevlieg en Angabi ontmoet het.

Die hooggeregshof het in 2021 gelas dat Obiang – die seun van Teodoro Obiang Nguema Mbasogo wat Ekwatoriaal-Guinee al 44 jaar lank regeer – skadevergoeding van sowat R40 miljoen aan Janse van Rensburg betaal.

Errol Eldson, Janse van Rensburg se prokureur, sê nou daar is twee weke gelede beslag gelê op twee huise van Obiang in gegoede voorstede van Kaapstad voordat daar verlede Dinsdag op die superseiljag in Kaapstad beslag gelê is.

Obiang se meubels is ook reeds opgeveil.

Volgens Eldson is sy kliënt destyds deur Angabi gehuur om ʼn lugredery in Ekwatoriaal-Guinee tot stand te bring.

“Werk aan die nuwe lugredery is ná twee jaar voltooi, alles was mooi agtermekaar en die vliegtuie gereed om te begin vlieg” toe Angabi onverwags Janse van Rensburg bel met die versoek om na Ekwatoriaal-Guinee te vlieg. Volgens Eldson was Janse van Rensburg onder die indruk dat dit waarskynlik met die bekendstelling van die lugredery te doen het.

Angabi het met Janse van Rensburg se aankoms aangedui dat hy kop uittrek en sy geld wil terughê. Janse van Rensburg het versuim om die geld terug te betaal aangesien hy in daardie stadium reeds al die beskikbare geld aan die projek bestee het.

“Angabi het dadelik adjunkpresident Obiang gebel. Die owerhede was binne tien minute daar … hulle het Daniel opgelaai en hom in die Black Beach-gevangenis gegooi.”

Janse van Rensburg skryf in sy memoires wat in September verlede jaar gepubliseer is: “Wat veronderstel was om ʼn kort sakereis na Ekwatoriaal-Guinee te wees, het in ʼn reis na die dieptes van die hel verander.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Eugene ·

Goeie Vader. Geen normale mens kan Sy name uitspreek nie. Sal op kursus moet gaan.

Chris ·

Nou hoe werk dit – ons kyk weg indien miljoene US$ in ‘n rusbank gevind word, maar le beslag op ander lande se regerings amptenare se besitings? Indien die US$ in ‘n hoofstroom media “ongewensde” se rusbank gevind was sou ons 80% van ons media tyd daaraan moes afstaan. Dit is duidelik hoe die spreekwoordelike “koekie krummel”.

Nico ·

Hoekom word dit nie ook gedoen nie, die mense wat betrokke by korripsie en bedrog, daar is baie.

Riaan ·

Ja ek het so paar keer probeer om daai naam uit te spreek toe begin die meubels in die sitkamer opstyg

Di ·

Dis reg, laat hulle betaal!!! Dink hulle kan wegkom met hulle skelmstreke. BAIE van ons MINSTERS se bates moet ook verkoop word vir al die geld wat verduister is

Papsak ·

Dit is reg laat hulle betaal wil mos skelm wees leer hulle n les almal van hulle is skelms

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.