Afgestorwe bewaarders én hul dapper dierewagters vereer

Veldwagters én hul vierpotige helpers word vanjaar vereer. (Foto: Verskaf)

Op 31 Julie word daar wêreldwyd hulde gebring aan veldwagters wat onvermoeid in sommige van die mees afgeleë en uitdagendste omgewings van die wêreld werk om bedreigde spesies en delikate ekostelsels teen onwettige aktiwiteite te beskerm.

Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) het vandeesweek in ooreenstemming met Wêreldveldwagtersdag, wat jaarliks op 31 Julie gevier word, hulde gebring aan plaaslike veldwagters by geleenthede in al 21 Suid-Afrikaanse nasionale parke.

Pam Yako, SANParke se raadsvoorsitter, het tydens vierings by die Tsitsikamma-afdeling van die Tuinroete Nasionale Park in die Oos-Kaap, veldwagters as rentmeesters beskryf wat die wêreld inspireer met innoverende bewaringspraktyke.

Volgens Yako het ʼn totaal van 148 veldwagters wêreldwyd hul lewens verloor van Junie 2022 tot Mei 2023 weens diere-aanvalle, moord of beroeps- en voertuigongelukke.

In Afrika alleen het 65 veldwagters die afgelope jaar gesterf.

“Suid-Afrika beveg die bedreiging teen sy natuurskoon op soveel fronte, van stropery, die onwettige oes van plante en vis, asook besoedeling. Omdat baie van die veldwagterkorps se pligte op teenstropery gefokus is, kry ander operasionele vereistes soos gebiedsintegriteitsbestuur nie altyd die nodige aandag nie.”

Hoewel stropery steeds ʼn brandende kwessie in groot dele van Suid-Afrika is, sal dit volgens Yako onregverdig teenoor die mans en vroue wat hul lewens waag om stropery te beveg wees om in die lig van Wêreldveldwagtersdag te fokus op kommerwekkende syfers en statistiek.

“As dit nie vir die pogings van hierdie veldwagters was nie, sou die prentjie wat ons tans in die Krugerwildtuin sien baie meer tragies en desperaat gewees het as wat dit tans is.”

Sy het moorde op Suid-Afrikaanse veldwagters ook ten sterkste veroordeel. “Ek wil ʼn spesiale huldeblyk aan ons afgestorwe veldwagters bring omdat hulle hul lewens toegewy het terwyl hulle ons wild beskerm.”

Volgens Yako staan veral gierigheid in die pad van wildbewaring.

“Ons land se natuurlike erfenis is die grondslag van die toerisme-ekonomie en sonder die bydrae van hierdie dapper mans en vroue sou die bewarings- en toerismesektore armer wees. Ons staan ​​in solidariteit met die res van die wêreld terwyl ons hierdie dapper en omgeehelde wat ons veldwagters noem, vier en salueer.”

Dapper wildbewaarders ook vereer

Ook die bekende dierekoshandelsmerk, Hills, het vanjaar weer die kollig op wildbewaarders, veldwagters én hul vierpotige helpers geplaas met ʼn kort dokumentêre reeks, genaamd Making Contact.

“Dié hartverwarmende reeks erken nie net die merkwaardige rol wat hierdie honde speel in die beskerming van ons natuurlike erfenis nie, maar ook hul ongelooflike hanteerders wat deur hul toewyding om met die honde te werk, ʼn werklike verskil maak in die stryd teen stropery,” sê dr. Guy Fyvie, veeartsenykundige en sakebestuurder by Hill’s Pet Nutrition.

Hill’s borg al die afgelope dekade vir verskeie honde-eenhede kos, toerusting en die nodige gesondheidsorg. (Foto: Verskaf)

Fyvie verduidelik dat daar aansienlike koste verbonde is aan opleiding, voeding en versorging om die gesondheid van die honde-eenhede te verseker, daarom borg Hill’s al die afgelope dekade vir verskeie eenhede kos, toerusting en die nodige gesondheidsorg.

Hy sê dat daar verskeie maniere is waarop die publiek die onskatbare werk van veldwagters kan ondersteun en gee ʼn paar wenke om betrokke te raak:

Lig jouself en ander in

Neem die tyd om meer te leer oor die rol van veldwagters in bewaringspogings en die uitdagings wat hulle daagliks in die gesig staar. Deel hierdie kennis met vriende, familie en kollegas om bewustheid oor die belangrikheid van hul werk te verhoog.

Pas verantwoordelike toerisme toe

Wanneer jy nasionale parke, reservate of natuurlike gebiede besoek, maak seker jy volg die riglyne wat deur parkowerhede gestel is. Respekteer die wild en hul habitatte, vermy rommelstrooiing en ondersteun ekovriendelike toerismepraktyke wat positief tot plaaslike gemeenskappe en bewaringspogings bydra.

Sluit aan by gemeenskapsopruimingsinisiatiewe

Neem deel aan gemeenskapsopruimingsgeleenthede in jou area. Die skoonmaak van parke, strande en ander buitelugareas bevoordeel nie net die omgewing nie, maar help ook om wild teen besoedeling te beskerm.

Neem volhoubare praktyke aan

Probeer om so veel as moontlik volhoubare gewoontes in jou daaglikse lewe toe te pas. Hergebruik bestaande items, waar moontlik, om jou ekologiese voetspoor te minimaliseer.

Raak betrokke by sosiale media

Gebruik jou sosialemediaplatforms om bewustheid oor die pogings van veldwagters te versprei. Deel inspirerende stories, foto’s, video en inligting oor bewaring en moedig jou volgelinge aan om ook aan te sluit.

Ondersteun teenstropery-inisiatiewe

Ongelukkig bly stropery ʼn beduidende bedreiging. Ondersteun teenstropery-organisasies wat met veldwagters saamwerk om stropery en onwettige handel in wild te bekamp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lillian ·

God seën elkeen van an julle wat Sy diereryk beskerm teen dié wat dit wil vernietig!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.