Afleggings by SAUK tydelik opgeskort

SAUK-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Die raad van die SAUK het bekend gemaak dat hy die afleggingsproses by die openbare uitsaaier vir ʼn tydperk van sewe dae gaan opskort.

“Dit sal alle belanghebbendes kans gee om verder in gesprek te tree en verdere opsies te ondersoek in ʼn poging om die finansiële volhoubaarheid van die SAUK te verseker,” lui ʼn verklaring van die raad.

Die SAUK is volgens die raad daartoe verbind om sinvol te beraadslaag met alle belanghebbendes terwyl daar voortgegaan word om die openbare uitsaaier finansieel volhoubaar te maak ten einde sy openbare mandaat te vervul.

Werknemers van die SAUK het die afgelope week in verskeie dele van die land protesoptredes gehou oor die SAUK se besluit om met afleggings voort te gaan. Die SAUK het vroeër aangekondig dat 400 van sy werkers afgelê moet word. Dit sluit diegene by sy nuuskantoor in. Daar is in hierdie stadium 170 vakante betrekkings waarvoor werkers kan aansoek doen, wat die getal geraakte betrekkings tot 230 verminder.

In ʼn poging om sy salarisrekening te verminder, het die SAUK ook verskeie voorstelle gemaak. Dit sluit in: salarisverminderings, die skrap van ʼn salarisverhoging vroeër vanjaar en die vries van jaarlikse salarisverhogings.

Die SAUK het ook gesê ná oorweging van verskillende voorstelle het hy onder meer besluit dat die volgende alternatiewe van 1 April volgende jaar geld: Alle salarisverhogings word vir ʼn moontlike drie jaar gevries, jaarlikse verlof word van 35 kalenderdae tot 28 verminder, opgehoopte verlof kan nie meer as kontant uitbetaal word nie en siekverlof word van ʼn jaarlikse 30 dae tot 36 dae oor ʼn driejaarsiklus verminder.

Die openbare uitsaaier se 2019-’20-jaarverslag is Dinsdag in die parlement ter tafel gelê. Aan die einde van Maart 2020 het die SAUK ʼn netto verlies van R511 miljoen gemeld terwyl die algehele inkomste op ʼn jaargrondslag met 12% tot R5,7 miljard afgeneem het.

Volgens die openbare uitsaaier kan dié daling hoofsaaklik toegeskryf word aan ʼn afname in advertensiebesteding in die bedryf en die vertraging in die finalisering van kommersiële vennootskappe op digitale platforms. Sy inkomste uit TV-lisensies het ook onder druk gekom weens die “moeilike ekonomiese omstandighede”.

Die SAUK het gesê hoewel hy nog ʼn moeilike jaar beleef het, kan lede van die publiek gerus wees dat die boustene om die openbare uitsaaier te stabiliseer nou neergelê is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nico ·

Hulle wil salaris vermindering toepas, die senior bestuur kry verhogings. Die SAUK is die oorsaak vir die pinarie waarin hulle nou is. Daar is baie wat roofkykers is.

Meyndert ·

Onderhandel vir elke top bestuur anc kader wat ook afgedank word kan hulle van 50 personeel ontslae raak. Julle sal verseker daardeur 400 personeel behou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.