‘Afname’ in seksuele oortredings dalk nie so akkuraat

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

Hoewel die polisie se jongste misdaadsyfers ʼn afname van 4,3% in seksuele oortredings toon, moet dié syfers nie as ʼn akkurate weerspieëling van die werklikheid aanvaar word nie, het kenners Dinsdag in reaksie op die oënskynlike daling gesê.

Een van die grootste redes hiervoor is dat seksuele oortredings doodeenvoudig nie altyd by die polisie aangemeld word nie. Die polisie se syfers berus boonop suiwer op voorvalle wat amptelik by polisiestasies aangemeld word.

Dr. Chris de Kock, onafhanklike misdaadontleder en voormalige hoof van misdaadinligtingsbestuur by die polisie, sê die enigste werklike akkurate misdaadsyfers is vir moord en poging tot moord. Die aantal seksuele oortredings is moeiliker om te bepaal omdat dit aan die aanmelding van dié misdade onderhewig is.

Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society, sê dit is wel goed om te hoop daar is ʼn afname in dié misdade, hoewel dit nie so eenvoudig is nie.

“Die probleem is dat seksuele oortredings geweldig wisselvallig is, juis omdat die seksuele oortredings meestal nie aangemeld of opgevolg word nie. Dit lei tot ʼn gebrek aan akkurate getalle,” het Cameron gesê.

Die syfers toon boonop steeds, ondanks die daling, dat byna 120 verkragtings elke dag in Suid-Afrika plaasvind. Dit kom neer op vyf verkragtings elke uur – en dit is net die gevalle wat wél aangemeld word.

Moord op vroue en kinders

Cameron sê die syfers vir moord en poging tot moord bly ook kommerwekkend.

Maroela Media het vroeër berig dat moord in die land met 3,4% gestyg het, terwyl poging tot moord met 8,3% toegeneem het. Luidens die kwartaallikse statistieke wat Dinsdag deur Bheki Cele, minister van polisie, bekendgestel is, was daar wel ʼn afname in moord in sommige provinsies en ʼn 20%-afname in moord op kinders.

Kindermoorde het van 306 voorvalle tussen Januarie en Maart verlede jaar tot 245 in die eerste drie maande van vanjaar afgeneem. Poging tot moord op kinders het egter met 29 gevalle van 331 tot 360 toegeneem.

Cameron sê dit dui op vier sake van poging tot moord op ʼn kind elke dag.

“Drie kinders is elke dag in die afgelope kwartaal vermoor. Dit is verskriklik. Dit gaan my verstand te bowe dat kinderhowe en die polisie steeds nie die nodige hulpbronne inspan om die drastiese toename te verhoed nie.”

Moord op vroue het in die vierde kwartaal met 71 voorvalle toegeneem, dus van 898 verlede jaar tot 969 tussen Januarie en Maart 2023.

“Dit beteken 11 vroue word elke dag in Suid-Afrika vermoor: een vrou elke twee uur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Harley Davidson ·

Die statistieke word so gekook dat dit glad nie die ware getalle is nie ,en dan is die meeste slagoffers te bang om sake te rapporteer agv van onbevoegde polisie.

Delia ·

Statistieke is net so goed soos die mense wat dit moet hou. So as jy weggewys word by n polisiestasie..onder watter statistiek tel dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.