Misdaadstatistieke skets wéér donker prentjie

Bheki Cele, minister van polisie. (Foto: Fikile Marakalla/GCIS)

Die polisie se jongste kwartaallikse misdaadstatistieke skets weereens ʼn donker en bebloede prentjie vir Suid-Afrika, hoewel die syfers ietwat beter lyk as vorige kwartale.

Altesame 6 289 mense is tussen Januarie en Maart vanjaar in die land vermoor; hiervan was 1 214 vroue en kinders. Daar was wel ʼn afname van byna 20% in die getal kindermoorde (245).

Bheki Cele, minister van polisie, het die jongste syfers Dinsdagoggend bekend gemaak.

Die moordsyfer dui op ʼn algehele toename van 3,4% wanneer dit met die dieselfde tydperk verlede jaar vergelyk word.

“Die meeste moorde is met ʼn vuurwapen, messe, skerp óf stomp voorwerpe, klippe en selfs mense se kaal hande gepleeg,” het Cele tydens sy toespraak gesê.

“Die meeste moorde was in KwaZulu-Natal (1 589), gevolg deur Gauteng (1 556), die Oos-Kaap (1 112) en die Wes-Kaap (872). In die meeste van die gevalle was argumente, boendoegeregtigheid en roof die grootste motiewe. KwaZulu-Natal het ook die hoogste syfers van veelvuldige moordsake (206) aangeteken, gevolg deur die Oos-Kaap (155).”

Hoewel die Wes-Kaap steeds een van die provinsies met die hoogste moordsyfers is, het dit ook die grootste afname (14,1%) in moord aangeteken. Afnames in moord is ook in die Noord-Kaap (10,5%) en die Vrystaat (9,2%) aangeteken.

 

“Terwyl meer werk steeds gedoen moet word om kontakmisdaad te beveg, verwelkom ons die afname in dié moordsyfers. Hierdie syfers dui ook daarop dat die Wes-Kaap vordering met die bekamping van kontakmisdaad maak. Dit is grootliks te danke aan gekombineerde pogings deur wetstoepassingsowerhede wat hoëmisdaadgebiede soos die Kaapse Vlakte teiken,” het Cele tydens sy toespraak gesê.

Meeste kontakmisdaad neem toe

Benewens moord het die meeste ander kontakmisdaad ook in hierdie tydperk toegeneem. Poging tot moord het met 8,3% van 5 717 tot 6 192 toegeneem, terwyl aanranding met die doel om ernstig te beseer met 98 voorvalle tot 43 090 gestyg het. Dit dui op ʼn toename van 0,2%.

Roof met verswarende omstandighede het met 5,1% gestyg: Van 32 783 voorvalle tussen Januarie en Maart verlede jaar tot 34 460 voorvalle in die eerste drie maande van vanjaar.

Onder roof met verswarende omstandighede toon die polisie se statistieke ʼn toename in huisroof (5,9%), terwyl kapings en voorvalle van sakeroof onderskeidelik met 5,2% en 5,3% gedaal het.

 

Algemene aanranding en roof het onderskeidelik met 7,6% (49 226) en 8,9% (11 744) gestyg.

Volgens die polisie was daar wel ʼn daling van 4,3% in die aantal seksuele oortredings wat tussen Januarie en Maart vanjaar aangemeld is. Luidens die statistieke het dié syfer met 594 voorvalle gedaal nadat 13 799 gevalle verlede jaar in dieselfde tydperk aangemeld is.

In die eerste drie maande van die jaar is 10 512 voorvalle van verkragting by die polisie aangemeld, teenoor 10 818 voorvalle verlede jaar. Daar was ook ʼn afname van 14,9% in die aantal seksuele aanrandings wat aangemeld is.

Pogings om seksuele oortredings te pleeg het egter met 21,2% toegeneem.

Miljoene aan bekamping van moord, kontakmisdaad toegeken

Cele sê R65 miljoen is vir die 30 polisiestasies bewillig waar die meeste moord- en kontakmisdaadvoorvalle aangemeld word, om dié misdade te bekamp.

Daar sal ook ʼn skerper fokus op die opleiding van taktiese reaksiespanne wees – wat veral in hoëmisdaadgebiede ontplooi sal word.

“Die polisie sal ook gespesialiseerde opsporingspanne versterk, wat op ʼn provinsiale en distriksvlak opgelei sal word om oortreders meer doeltreffend op te spoor en in hegtenis te neem.

“Die verbetering van polisiesigbaarheid bly ons grootste wapen. Die polisie het R1,8 miljard toegeken vir die verkryging van polisievoertuie om sigbaarheid te verhoog. Die polisie skaf ook onbemande hommeltuie aan om beter vanuit die lug te polisieer,” het Cele gesê.

Nog ʼn prioriteit is volgens Cele die aanskaffing van lyfkameras vir polisiebeamptes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Sê maar net ·

Praat, praat, praat. Waarom smile jy op al jou foto’s? Jy behoort te huil en jou kop in skaamte te hang. Begin iets doén!!!

Danie ·

Ek het n saak aangemeld by die sapd en die OB het vir bykans 3 jaar niks gedoen nie.Hulle is useless.

Amelia ·

En hy het hoeveel lyfwagte en wagte ens Se ook vir ons watter ras teen watter ras die misdade pleeg glo ni sal sal gese word nie want ons weet reeds

kragaap ·

Help niks hoe kan misdaad afneem as die wat veronderstel is om die land te regeer self kriminele is ?

Althes ·

Stem hierdie regering uit volgende jaar, dan sal daar geen donker prentjie wees nie. Die verandering gaan by ons kiesers wees en nie by regering

CRDP ·

Bheki Cele gee nie om wat die syfers se nie, hy verstaan in elk nie geval nie syfers nie. Hy sou miskien verstaan het in ‘n land soos Ysland of New-Zeeland want daar is al die misdaad statistieke nommers onder 10, enige iets bo 10 verstaan hy nie. Die hele ANC kabinet gee nie om hoeveel mense elke dag in ons land doodgaan nie, hoeveel mense doodgaan van honger, werkloosheid, hulle voel ‘n veer. Gaan kyk bietjie op Youtube na Cyril in die kabinet, hy lag oor alles, dis al wat hy doen, as iemand foute uitwys dan lag hy, dis vir hom snaaks as daar vir hom vertel word hoeveel mense doodgaan in ons land. Die statistieke moet gewys word maar ongelukkig gaan niks verander solank die ANC regeer nie, dinge gaan net erger word

Wondermaarnet ·

Net so donker soos jou humosin Cele. Jy dink mos SA is ‘n grap en jy is die hoofnar.

Papsak ·

Hoekom smile jy so op al jou fotos Bheki Cele definitief nie maagpyn nie maar weet jy hoekom jy kry lekker oor al hierdie land se elende jy deel daarvan erken dit daarom raak Ramaphosa nie van jou ontslae nie julle is korrupt misdaad neem toe nie af nie alles isdinker in SA deur julle

Koos 100 ·

68 moorde per dag! Bykans 25000 per jaar. Daar is nie genoeg speurders om dit te ondersoek nie, en dan smile Cele nog!!!!

Pieter ·

Stats skets nie die prent nie, dit bevestig net die prent wat reeds geskets is…

Eugene ·

Hoedman, laat ons mekaar mooi verstaan my outa, stastitieke is niks en getalle is niks. As jy net jou werk ordentlik doen, sal daar nie plaasmoorde wees nie. Hou op om die misdadigers te beskerm en luister as die baas praat.

Sarel ·

Hoeveel van die Fondse gaan aangewend word:
Voertuie = geen Brandstof
Polisiebeamptes = Geen Bestuurdlisensie
Polisiebeamptes = Geen Vuurwapen Opleiding.

anko ·

Dit wil voorkom of daar by amper elke stasie stukkende voertuie staan. Daar is gereeld ongelukke.

KaRoOkWaGgA ·

Met ‘n krimineel as minister is dié stats wat deurgegee word geen verrassing nie.

Minnie ·

Glimlag altyd, maar totaal onbevoeg mbt sy werk.
Menselewens beteken niks vir ons regering nie. Hul stry so onder mekaar in die parlement dat geen agenda item bespreek word nie.
Als gaan net oor hul eie ego.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.