AfriForum besorg oor nuwe skooltoelatingsbeleid

skoolskoene-2

Argieffoto

Die burgerregteorganisasie AfriForum het gesê hy neem met kommer kennis van die uitspraak van die Grondwethof waarvolgens die Gautengse onderwysdepartement nou mag beslis oor skoletoelating.

Volgens dié uitspraak kan die Gautengse onderwyshoof, Edward Mosuwe, besluit wanneer ʼn skool in Gauteng finaal vol is, en berus dié besluit nie meer by die beheerliggaam van die skool nie.

AfriForum is van mening dat indien die departement die uitspraak onoordeelkundig aanwend, dit tot growwe skendings van leerders se regte aanleiding sal gee, die standaard van Suid-Afrikaanse onderwys nog meer negatief kan beïnvloed en uiteindelik tot ʼn uittog van die mees belowende personeel en leerders uit openbare skole mag lei.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het die optrede van die provinsiale en die nasionale onderwysdepartement, en in die besonder van die LUR van onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, in die onlangse verlede weinig gedoen om vertroue te skep dat die uitspraak in die beste belang van leerders aangewend sal word.

Lesufi is veral berug vir sy omstrede uitsprake oor alternatiewe skolebestuur en rassistiese veralgemenings teen Afrikaanse onderrig.

“AfriForum sal die uitspraak deeglik bestudeer om te verseker wat die implikasies daarvan is en hoe dit onder meer kwessies soos skoolplasing in ander provinsies, die aanbieding van moedertaalonderrig, die bepaling van klasgroottes en weiering van leerders met ʼn kriminele rekord raak. Al hierdie aspekte het ʼn direkte invloed op die lewering van gehalte onderrig,” het Bailey gesê.

Sy het beklemtoon dat AfriForum die reg van elke kind tot toegang tot gehalte onderrig erken. “Geen kind se regte kan egter bevorder word deur regte van ʼn ander kind weg te neem nie. Die wyse om te verseker dat onderwysregte in die land verwesenlik word, is onder meer deur die aanbod van moedertaalonderrig te vergroot, disfunksionele skole reg te ruk en meer skole te bou om in die groeiende vraag te beantwoord. Die departement faal tans egter in al hierdie opsigte en AfriForum vrees in die lig van die hofuitspraak dat die kitsoplossing gaan wees om eenvoudig meer kinders in funksionele skole te plaas.”

Benewens regsadvies oor die omvang en implikasies van die uitspraak, sal AfriForum ook die toepassing daarvan met internasionale kundiges en instellings opneem, indien basiese regte soos die reg op moedertaalonderrig daardeur geskend word. “AfriForum is lankal reeds in kontak met internasionale taalregte- en onderwysinstellings. Indien die gevolge van die uitspraak wel gehalte moedertaalonderrig ondermyn, sal internasionale aksies onderneem moet word waar plaaslike regsremedies nie meer verligting bied nie.”

Bailey het genoem dat privaatskole ʼn luukse is wat die meerderheid Suid-Afrikaners tans nie kan bekostig nie. Indien dit egter op die lang duur die enigste opsie vir gehalte onderrig sonder ideologiese inmenging sou word, sal opsies om dit bekostigbaar aan te bied, deur alle instellings wat ernstig oor uitnemende onderrig is, ondersoek moet word.

“Die toekoms van ons jeug is eenvoudig te belangrik om dit aan onderwysowerhede wat selfs met basiese kwessies soos handboeklewering, assesseringstoetse, geweldpleging in skole en die verkoop van onderwysposte spartel, toe te vertrou,” het Bailey bygevoeg.

Lees alle vorige berigte oor die skooltoelatingsbeleid op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

24 Kommentare

Koos ·

Afriforum moet meer finansiële steun kry en Afrikaanse skole bou waar die rassiste geen se het nie en waar skole demokraties bestuur word soos dit behoort te wees

Leendert van Oostrum ·

Waarom moet Afrikaners met gevoude hande sit en wag vir Afriforum om skole te bou?

Die Engelse en die Moslems maak daagliks nuwe skole oop (en trek baie Afrikaanse kinders).

Ander Koos ·

Met respek, kommer gaan nie help nie. Hierdie is die realiteit wat gebeur as ‘n gemeenskap nie politieke mag het nie. Moet ook nie te veel verwag van internasionale groeperinfs/instansies nie, die Afrikaanse gemeenskap is nie vir hulle van wesenlike belang nie. Kreatiewe planne en saamwerk is nou meer belangrik as ooit

Leeukop ·

Die oplossing is n kombinasie van nuwe onderwystegnologie, privaatskole en tuisonderriggroepe wat saamwerk vir die wat nie privaatskole kan bekostig of naby het nie.

Etienne ·

Die polimiek rondom om al die verskillende bedreigings , wat die Afrikaner tans in die gesig staar , skole sport, BEE, grondonteiening ens. herinner my aan ‘n gesprek vroeg in 1994 .

Genl. Viljoen het ons besoek met die stigting van die FV op Stellenbosch. Tydens een van ons gesprekke het hy aan my die vgl gese : ” Lanties, (weermag bynaam ), die Afr ly nog nie honger nie en staan dus nog nie saam nie. Hopelik sal ons dit begin doen voor omstandighede so vererger dat dit ons Volk se voortbestaan bedreig .”

Profetiese woorde. Natuurlik het die” liberales” dit afgemaak as wensdenkery en voorspel ons land gaan ongekende voorspoed beleef, daar is nie plek vir sulke “rassistiese ” opmerkings soos hierdie nie !

Nou wonder ek waarom aanvaar ons alles so gelate. Spandeer duisende rande aan tevergeefse hofsake teen ‘n regbank wat lankal nie meer onafhanklik is nie . Ons prober die internasionale gemenskap oortuig van ons lot – en wat dit ons sover gebaat . Wat het die ANC vermag toe hulle met dieselfe uitdagings gekonfronteer is in soortgelyke omstandighede ?

Die Afr. beskik oor baie meer “wapens ” in sy arsenal as wat hulle destyds gehad het : intilektuele , finansiele en organisatoriese vaardighede wat hierdie land uit niks uit gebou het nie .Die realiteit en tragedie van die Afr. deur die eeue is sy verdeeldheid . Dit is hierdie verdeeldheid ( en hensoppers) wat die vyand uitbuit en ons soos osse rondlei : geduldig, gedienstig, gedwee ……..

Christo ·

As die bestuursraad nie meer die basiese reg het nie, kan hulle maar ontbind en sodat die korrupte beamptes alle besluite neem om so die disfunksionele gepeupel te akkommodeer !

Leendert van Oostrum ·

Beheerliggame het hul mag reeds teen die jaar 2000 oorgegee, toe hulle ingestem het dat die kurrikulum nie ‘n ouersaak is nie, maar binne die “professionele bevoegdheid” van die hoof en onderwysers val. Dat beheerliggame daar geen sê oor het nie.

Kort voor lank het die onderwysminister daardie bevoegdheid vir homself toege-eien. (Met die kopknikkende instemming van instellings soos die onderwyserunies en selfs organisasies wat voorgee om beheerliggame te verteenwoordig).

Volgens die internasionale reg is dit in die beste belang van kinders dat hul ouers besluit oor die inhoud wat hulle op skool leer. Sedert ons daardie bevoegdheid weggegee het maak die res eintlik nie meer saak nie. Die suksesvolle beheerliggame sorg eintlik maar net dat die stelsel doeltreffend werk om die kinders te breispoel met die ANC se ideologie-gelaaide kurrikulum.

Cobus ·

Daar is net een uitweg. Hoe gouer ons besef ons is aan onsself oorgelewer hoe gouer sal die dryf kom om vir onsself te sorg. Ons as kinders van die Lewende God is nêrens in die toekoms van die owerhede nie. Solank ons die slawe is en lewer , is dit goed, regte op-eis is uit. Dus moet ons Afriforum en Solidariteit ondersteun om gerespekteerde onderrig in te stel.

Leendert van Oostrum ·

Nee, ons kan nie terugsit en wag nie.

Ons moet ons kloutjies uit ons moutjies steek en dit self inisieer. Solidartieit/Afriforum kan ondersteuning bied as hulle wil.

Emile Zaayman ·

Die regering sal alles doen wat hulle kan om Afrikaans af te breek. Maak nie saak wat ons doen nie dit sal gebeur of ons nou daarvan hou of nie.
Tans gee die regering R190 per kind, per jaar waar my kinders skool gaan. Hoe meer gegoed die gebied hoe minder geld. Die skool kan nie eers toilet papier vir die jaar koop met daai geld nie. Ons ouers betaal alles verder.
Ons moet besef die regering gaan nie na ons kyk nie. Ons sal na ons self moet kyk. Kom ons bou ons eie Afrikaanse privaat skole.
Ons betaal in elk geval vir meeste van die kostes. Eendrag maak mag !

Leeukop ·

Dankie vir die harde syfers, m.a.w. Die regering dra inelkgeval niks by nie, daarom laat ons propivaatskole stig, en ons akkrediteer dit via top internasionale organisasies in plaas van hierdie laestandaard land se stelsels.

Leendert van Oostrum ·

Baie geldige argument. Kwintiel 5 – skole (gebiede soos Linden in Johannesburg, die grootste deel van Centurion, Pretoria-Oos en die Moot) kry in elk geval baie min van die staat – die enigste beduidende voordeel om ‘n staatskool te wees is die gebruik van die geboue en die salarisse van sommige onderwysers wat deur die staat betaal word.

In daardie selfde gebiede is die fooie vir privaatskole (wat sonder die “bling” klaarkom) laer as die skoolfondse in die staatskole. Die Centre for Development and Enterprise het ‘n paar jaar gelede ‘n verslag uitgebring oor “Hidden Assets – South Africa’s low fee private schools”. Dis skole wat toe R1000 per maand of minder gevra het en kom hulle kom voor in alle gemeenskappe – van landelike dele in Limpopo tot Alexandra, tot Butterworth. Die kinders presteer beduidend beter as in staatskole in dieselfde gebiede.

Dit is van die armste gebiede in die land. Afrikaers kan hulle nie nadoen nie?

andrea ·

Dis al uitweg!
Privaatskole kan aanvanklik van bv. Sondagskoollokale by plaaslike kerke gebruikmaak, soos n paar skole waarvan ek weet, reeds doen.
Daar is baie goedopgeleide, ervare onderwysers wat sekerlik bereid sou wees om in beter omstandighede te werk, al is die salaris minder. Ek is n dosent aan n universiteit en sal bereid wees om te gaan skoolhou by só n skool as dit beteken ek kan in beter omstandighede werk!

Andrea ·

Dit is al uitweg! Privaatskole kan v bv. Sondagskoollokale by kerke gebruikmaak. Heelwat privaatskole doen dit, of het só begin.
Ek is seker daar is heelwat goedopgeleide, ervare onderwysers wat bereid sou wees om in beter omstandighede te werk, al is die salaris dalk minder. Ek sal dit beslis doen!

Leeukop ·

Andrea maak n belangrike voorstel, privaatskole kan deur bestaande infrastruktuur begin groei, nie net kerke nie maar instansies soos Voortrekkers, konferensie en dalk trou venues wat leeg staan deur die week, winkels en ligte industriee wat spaarkapasiteit het, en selfs huise, soos kyk hoe suksesvol die huiskerk beweging gegroei het. Baie groot besighede het baie klein en informeel begin.

Marius Nortje ·

Dis net n poging om die laaste paar afrikaanse skole ook te verengels. Ons weet mos almal die verset is nie so seer teen wit mense nie, maar teen afrikaanssprekende afrikaners.

Penellope Jones ·

Daar waar politiek sy neus indruk kom die grootste probleme. Hoekom dan skoolhoofde aanstel as hulle nie eintlik se gaan he nie? Dis absoluut belaglik.
Hoe seker is ons dat privaat skole nie ook nie op een of ander manier deur politiek en die regering ondermyn sal word nie?

Leendert van Oostrum ·

Penelope Jones se vrees is lankal reeds bewaarheid.

Die privaatskole word deur oorregulasie omskep in plekke waar die kinders dieselfde slop gevoer word as in staatskole – partykeer net met ‘n silwerlepeltjie.

Die probleem is nie om privaatskole te stig nie – dit word daagliks gedoen, meesal deur die Engelse en die Moslems (en hulle trek baie Afrikaanse kinders).

Die probleem is om die owerheid in sy boksie terug te dwing en te verseker dat hy nie onregmatig inmeng met die vryheid van die onderwys nie. Tans is die enigste onderwysvryheid wat oorgebly het te vinde in die “onwettige” sektor van ongeregistreerde privaatskole en tuisonderwys.

leeukop ·

Baie goeie punt, daarom is dit belangrik om so min moontlik van die dept afhanklik te wees, sommer oorsese akkreditasie. Op alle gebiede moet ons so min moontlik afhanklik wees van die regering.

Christo ·

Die verligte Afrikaners het meerderwaardig altyd n slim plan gehad, waar is die yuppies nou !

Xa ·

Hulle het heel eerste weggehol buiteland toe nadat hulle besef het hoe verkeerd hulle was, of sit lekker knus binne groot luukse estates en hulle kinders in wit privaatskole.

Flippie ·

Toe die ANC aan bewind gekom het was die model C skole onafhanklik. Die regering was net verantwoordelik vir die besoldiging van ‘n beperkte aantal onderwysers. Die titelaktes van die skole was in die naam van die skoolraad en was dus nie staatseiendom nie.

Kom 1996 eis die regering die titelaktes op en siedaar die onafhanklike skole is in ‘n ommesientjie omskep na regeringskole. Sederdien is die skole wat deur ouers instand gehou en verbeter is stelselmatig deur die ANC regering toegeëien.

Miljarde rande wat ons as ouers in ons kinders en hulle kinders se toekoms belê het is toegeeien deur ‘n parasiete soos Lusufi.

Bygesê die NP van 1996 het dit begin deur die herroeping van die titelaktes te ondersteun.

Xa ·

Nie net ons skole nie maar alles wat ons opgebou het, en selfs baie van ons se lewens. Gaan net almeer van ons se lewens wees, ons pensioen, en ook ons spaargeld, eiendom. Dit als te danke aan die wat ons land weggegee het sodat ons die god Rugby kon dien op internasionale velde.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.