AfriForum gaan Botswana help met vervolgingsaak

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid. (Foto: Reint Dykema/AfriForum)

Die Botswana-regering het AfriForum se privaatvervolgingseenheid se hulp gevra om die vervolging van ’n voormalige agent van die land se direktoraat van intelligensiedienste te behartig.

Welheminah Mphoeng Maswabi word tans in die streeklanddroshof in Broadhurst vervolg vir die besit van onverklaarbare eiendom en die aflê van ’n valse verklaring met betrekking tot ’n paspoort. Hy word ook verbind met ʼn hoëprofielsaak waarin AfriForum reeds die Botswana-regering verteenwoordig.

Die regering het adv. Gerrie Nel, adv. Phyllis Vorster (aanklaer) en Andrew Leask, hoofondersoeker van die privaatvervolgingseenheid, aangestel om die voorverhoorverrigtinge van Maswabi se saak te behartig.

Behalwe vir die klagtes wat Maswabi reeds in die gesig staar, maak mediaberigte bewerings dat hy homself ook aan “terrorisme” aandadig gemaak het.

Maswabi word ook daarvan beskuldig dat hy saam met Bridgette Motsepe-Radebe ’n mede-ondertekenaar was van rekeninge ter waarde van miljarde pula. Nel en Vorster is verlede jaar deur die Botswana-regering aangestel om hom in dié hoëprofiel geldwassery-en-bedrogsaak te verteenwoordig.

Motsepe-Radebe is pres. Cyril Ramaphosa se skoonsuster en die voormalige minister in die presidensie, Jeff Radebe, se vrou.

Motsepe-Radebe en Maswabi is geïdentifiseer as medeondertekenaars van twee bankrekeninge, ’n Absa- en ʼn Nedbank-rekening, wat meer as R150 miljard beloop het. Dié geld is na bewering van die Botswana-regering gesteel om ’n “staatsgreep” voor die nasionale verkiesing in daardie land te finansier.

Daar is tot dusver geen terugvoer kragtens die versoek vir wedersydse regshulp van die departement van justisie en korrektiewe dienste ontvang nie. Die privaatvervolgingseenheid het in Desember bekend gemaak dat die departement versuim het om die aansoek te opponeer wat ten doel het om dié departement te dwing om die wedersydse regshulp aan die Botswana-regering te fasiliteer in die Motsepe-Radebe-aangeleentheid. Die aansoek is op die ongeopponeerde hofrol geplaas vir 7 Julie 2021.

Nel sê die versuim van die Suid-Afrikaanse regering om uitvoering te gee aan Botswana se aansoek vir wedersydse regshulp het nie net veroorsaak dat sekere klagte teen Maswabi teruggetrek word nie, maar ook konflik ten opsigte van die saak in Botswana veroorsaak.

“Dit is ’n pluimpie vir lede van die privaatvervolgingseenheid en AfriForum om internasionaal erken te word vir die werk wat ons doen. Dit gee nie net erkenning aan die unieke konsep van private vervolging nie, maar ook aan die konsep om kundige aanklaers en ondersoekers in een kantoor te setel wat sonder politieke druk op die reg kan fokus,” sê Nel.

“Die beginsel van gelykheid voor die reg en vervolging sonder politieke inmenging is een van die hoofredes waarom die privaatvervolgingseenheid gestig is en dit behoort nie net in Suid-Afrika te geld nie, maar ook internasionaal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pieter ·

Ons kannie eers die skelm ANC menisters of zuma in die tronk kry nie wat nog te se van cyril se sussie.

Althes ·

Kom ons wees positief. Die vrugte sal ons pluk met ons deursettingsvermoë.
Baie geluk Afriforum en hul vervolgingseenheid.
Elke stap is ñ groot oorwinning.

Hennie J ·

Is dit werklik een van die funksies wat Afriforum ingedagte gehad het toe die eenheid gestig is? Ek glo en vertrou die werk word nie pro bona gedoen nie, maar dien as n inkomste vir Afriforum en is nie tot nadeel van ander belangrike sake nie.

Elsa ·

Afriforum het belowe hul gaan Julius Malema ook vervolg. (Dit was 2jaar+ gelede) Ons wag nog.

Elize ·

Ja want die regering betaal nie soos Botswana nie. Julius lag vir die spul

Jaco ·

Dis seker baie edel van Afriforum om by dié saak betrokke te wees, maar 2 goed pla wel:
1. Hulle verteenwoordiging van swart mense gaan deur ons anti-wit regering gesien word as sogenaamde “window dressing”, ‘n poging van ‘n, volgens die ANC, “wit regse rassistiese organisasie” om “non-racial” te lyk. Hulle hou egter nie van wit mense nie. Punt. Watse mooi goed ons ook al doen, sal ALTYD afgeskiet word.
2. Wat van sake van ons eie mense?Eendag wen Afriforum dalk dié saak en kry al die verering en “limelight”, maar dan is hulle geld ook op en dan is Afriforum magteloos om te help met sake waar regstellende aksie en BEE en ander vorms van diskriminasie en rassisme ons eie mense al hoe meer benadeel.
Vergeet nou eers die prestige en die “limelight” en konsentreer NET op dit wat ons eie mense regtig raak. Betrokkenheid by ‘n saak wat NIKS met Afriforum se eintlike belangegroep te doen het nie, help ons eie mense wat reeds so swaarkry absoluut NIKS.

Elize ·

Ja hulle val nou oor na die anderkant en sal ons fone weer onophoudelik begin lui om asseblief te help met een of ander saak wat hulle moet doen maar nie geld voor het nie. As ek hoor dit is hulle op die foon druk ek net dood want hulle sit te veel op die draad en stel ek nie belang nie. Hoeveel van ons mense het hulle nodig maar het seker nie die regte hoeveelheid fondse om te betaal nie. Nou kan julle maar begin klippe gooi want julle weet wat ek hier sê is die waarheid!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.