AfriForum vier 18 jaar van selfdoen

V.l.n.r. Jacques Broodryk (hoofwoordvoerder: gemeenskapsveiligheid), William Waugh (hoof: organisasiebou), Kallie Kriel (uitvoerende hoof), Linda Cronje (bestuurder: ledevoordele) en Alana Bailey (hoof: kultuursake)

AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar.

Dié burgerregteorganisasie is op 26 Maart 2006 vir die eerste keer aan die publiek bekendgestel in ’n berig oor sy stigting wat op bladsy 19 van die Afrikaanse Sondagkoerant Rapport verskyn het. Sedertdien het dié organisasie van krag tot krag gegaan, reuse-ondernemings soos Nestlé en selfs groter politieke opponente soos Julius Malema en Jacob Zuma die stryd aangesê, geveg vir die behoud van Afrikaners se kulturele identiteit en taal, landwyd veiligheidsnetwerke gevestig en vele meer – dít alles in die naam van geregtigheid.

Die burgerregtewaghond het in 2006 met slegs drie personeellede begin wat reggestaan het om te baklei vir ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms in Suid-Afrika. Vandag is dié organisasie 182 personeel en meer as 10 000 vrywilligers sterk.

Volgens Kallie Kriel, wat reeds sedert AfriForum se ontstaan aan die stuur daarvan staan, kon dié organisasie nie ’n aks van die sukses wat behaal is, bereik sonder die lede wat in AfriForum se missie en visie glo nie. AfriForum het in sy eerste jaar ’n skamele 560 lede gehad en teen 2024 aangegroei tot ’n ledetal van meer as 315 000 lede.

“AfriForum se krag oor 18 jaar lê in genade van Bo, maar ook lojale lede en besondere kollegas vir wie hul werk ’n roeping was en is,” sê Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum. Bailey is, soos Kriel, reeds sedert AfriForum se ontstaan, betrokke by dié organisasie.

AfriForum se eerste groot veldtog was om te veg vir die behoud van Pretoria se naam. Hierdie veldtog het oor etlike jare gestrek voordat dit uiteindelik vrugte afgewerp het en vandag is Pretoria steeds Pretoria.

Terwyl AfriForum nog in sy kinderskoene was, het hy ook die voedselreus Nestlé aangevat ná dit aan die lig gekom het dat dié maatskappy ’n melkkontrak met die toenmalige Zimbabwiese presidentsvrou, Grace Mugabe, gehad het. Dít ondanks die menseregteskendings wat op daardie stadium in Zimbabwe gepleeg is en die feit dat Mugabe onderhewig was aan verskeie sanksies wat deur die VSA en die Europese Unie teen haar, haar man, Robert, en verskeie ander Zimbabwiese amptenare gegeld het. Nestlé het kort ná hierdie veldtog afgeskop het, onderneem om nooit weer melk by Mugabe aan te koop nie.

Vandag spits AfriForum hom veral daarop toe om selfstandige gemeenskappe te help vestig wat met ’n selfdoeningesteldheid na hul eie gemeenskappe en veiligheid omsien. Dit beteken dat baie werk op voetsoolvlak gedoen moet word en AfriForum se 165 takke en 172 buurtwagte gryp hierdie geleentheid met albei hande aan.

“Ek is dankbaar dat ek die voorreg gehad het om sedert AfriForum se stigting, 18 jaar gelede, deel te kon wees van die organisasie se opwindende groeipad en veral die menigte suksesse wat in dié tyd behaal is. Ons was aan die begin net drie personeel, met nul lede en min hulpbronne en kyk waar is ons nou. Ek is veral trots daarop dat ons, in talle gemeenskappe met ’n ons-sal-self-benadering, vandag op groot skaal ’n rol kan speel in die bou van ’n toekoms vir ons, ons gemeenskappe én ons nageslag,” sluit Kriel af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Delia ·

Die behoud van SA tot op hede het baie te doen met sterk burgerorganisasies. Dankie Afriforum

annie ·

Baie trots op jul! Die groot werk kom egter nog. ‘n Grootskaalse indringende opname van Afrikaners se lewensgehalte wat werksgeleenthede, inkomste en verblyf insluit, is dringend nodig. Geen name moet aangeteken word nie anders sal die ware prentjie nie geteken kan word nie. Soos ná die Boereoorlog en die depressie, sit Afrikaners in sak en as. Die kerke het gesink in selfverval en spartel in denkwyses vreemd aan die Bybel. Ons taal en skole word vernietig. Die regering verbly hom in ons ellende en beplan nog meer vergrype . Maar die Hemelvader sien alles. Ons sal ons sondes tov van ons verwaarlosing van naaste, kultuur en godsdiens moet bely en om Hulp bid. Die verstes moet dit self doen. ONS olie is op! (Vergeet dit VF+) Dit is dringend nodig!

Chris ·

Met God as ‘n volk se anker kan sukses behaal word. Dankbaar vir jul deursettings vermoë om te baklei vir ons op grondvlak. ????

christo ·

Dit is alles goed en wel dat die gewone burger inspring inspring en van die plaaslike regering
(munisipaliteite) se werk , of verantwoordelikhede oorneem, maar dit maak die plaaslike ANC en ander lakse partye nog net méér laks om hulle pligte na te kom, terwyl hulle maandeliks ons erfbelasting invorder sonder om enige pligte waarvoor die regering verantwoordelik is, na te kom. ‘n Onderhoud met twee kenners op RSG het dit duidelik gestel dat hierdie selfde
‘ doen dit self’ projekte onvolhoubaar is.

skurweberg ·

Annie, as lid en ondersteuner van AfriForum, deel ek jou kommentaar heelhartig. Omstandighede self in die middelklas in ons eie volkshuishouding is besig om met spoed te verander. Die gelykenis van die “tien meisies” maak my baie bang en bekommerd. Vertrou en Glo dat ons die genade sal ontvang om te bly “waak” soos in Matt. 25:13.

Vrijburger ·

“AfriForum, ’n organisasie wat vandag meer as 315 000 lede in elke uithoek van die land verteenwoordig, vier vandag sy agtiende bestaansjaar.” Moet asb nie AfriForum se lede wat trekarbeiders in die buiteland is, uitsluit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.