SA’ner wen kompetisie met treffende tarentaal-foto

’n Abstrakte foto van ’n tarentaal het aan die Suid-Afrikaanse fotograaf Leon Pelser die gesogte hooftoekenning van Fotograaf van die Jaar tydens die jaarlikse Africa Photo Awards 2022 besorg.

Die wenners van die toekennings – ’n kompetisie sonder winsbejag wat die beste fotografie van die vasteland ten toon stel – is onlangs tydens ’n uitstalling in Johannesburg aangekondig.

Pelser sê hy het sy wenfoto van ’n enkele blou tarentaalkop wat tussen die gespikkelde lywe van die res van die trop opduik, tydens ’n vakansie in Marlothpark aan die grens van die Krugerwildtuin in Mpumalanga geneem.

Hy vertel dat hy die betrokke dag moes wegkruip om nie die trop tarentale te laat skrik nie. Terwyl die tarentale kop onderstebo op die grond rondgepik het, het een tarentaal sy kop opgetel om die omgewing behoedsaam te bespied; dit is op daardie oomblik dat Pelser sy wenfoto geneem het.

“Dit is Afrika op sy beste; dit is eenvoudig, dit is heeltemal anders en dit het op sy eie uitgestaan. Die foto is amper te perfek,” sê Dennis da Silva, een van die beoordelaars.

Leon Pelser se “Guinea Fowl Abstract”.

Die paneel beoordelaars het uit 12 van die topfotograwe op die vasteland bestaan, onder wie Sarah Waiswa (Uganda), Mauro Pinto (Mosambiek), Neo Ntsoma (Suid-Afrika) en Héla Ammar (Tunisië).

Dit is die vierde jaar dat die Africa Photo Awards aangebied word.

Da Silva sê die beoordelaars het hierdie keer gesukkel om slegs tien foto’s per kategorie te kies.

Volgens Da Silva was daar ’n merkbare verhoging in standaard in die meeste kategorieë. Dit was ook duidelik dat die betrokke fotograwe baie meer oor die komposisie van hul foto’s nagedink het, sê hy.

Da Silva het ook ’n afname in die oordadige gebruik van sagteware om die foto’s te redigeer opgemerk.

Deon Brits, hoofbestuurder van die Imaging Solutions-afdeling by Fujifilm Suid-Afrika, een van die kompetisie se borge, sê ook die fotograwe van 2022 het die algemene standaard van foto’s verhoog.

“Die Africa Photo Awards bied ’n platform vir Afrika-fotograwe om hul beste werk ten toon te stel, en uit dit wat uitgestal is, is dit duidelik dat die algehele gehalte sedert die eerste kompetisie verbeter het.”

Só lyk die wenners:

Abstrak en algehele wenner: Leon Pelser – “Guinea Fowl Abstract”

Leon Pelser se “Guinea Fowl Abstract”.

Konseptueel: Pieter Pieters – “Raw Natural Power”

Pieter Pieters se “Raw Natural Power”.

Redaksioneel: David Forbes – “Dying For Change”

David Forbes se “Dying For Change”.

Mode: Ashley Marié – “Untitled”

Ashley Marié se “Untitled”.

Beeldende kuns: Martini Coetzee – “Immortality from the Light tracing Thyself”

Martini Coetzee se “Immortality from the Light tracing Thyself”.

Landelik en stedelike foto’s: Kim Stevens se “Under the Flyover”/… “Opera house in Valencia” ontwerp deur Calatrava

Kim Stevens se “Under the Flyover”/… “Opera house in Valencia”.

Portret: Emma O’Brien – “Zapa”

Emma O’Brien se “Zapa”.

Troues: JCclick Photography – “No limits: ‘Groomsmen throwing the bride’”

JCclick Photography se “No limits: ‘Groomsmen throwing the bride’”.

Natuurlewe: Devon Jenkin – “TURMOIL”.

Devon Jenkin se “TURMOIL”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

TruthDealer ·

Pragtige foto’s, baie geluk aan die wenners. The TURMOIL photo is just beyond brilliant, a next level totally epic image. One of the best photo’s i have ever seen and i have probably seen millions, from photographers all over the planet. Unforgettable.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.