Afrikaans 2 allesbehalwe maklik

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die vrae in die tweede Afrikaans-huistaal-vraestelle in vanjaar se eindeksamen was nes dié in die eerste vraestel “vreemd en onduidelik” gestel.

“Dit was nie ’n moeilike vraestel nie. Jy was net nie seker wat hulle wil hê jy moet antwoord nie,” verduidelik Janka Swanepoel, ’n matriekleerder aan die Hoërskool Rustenburg in Noordwes.

Marié Gräbe, onderwysspesialis verbonde aan die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), meen ook dit was nie ’n maklike vraestel nie, maar steeds billik en op standaard.

Die letterkunde-vraestel het uit drie afdelings, naamlik poësie, prosa en drama, bestaan. Die poësie-afdeling het twee voorbereide gedigte en ’n onvoorbereide gedig ingesluit.

Gräbe sê die vrae in dié afdeling was “allesinsluitend” ten opsigte van retoriese middele, stylfigure en struktuurelemente.

“Die opstelvraag se vraagstelling lei leerders om ’n goedgestruktureerde langvraag te kan beantwoord. Die kontekstuele vrae was billik en toeganklik vir goedvoorbereide kandidate. Alle vrae is afgespits op poëtiese elemente wat die geheelprentjie van gedigontleding vorm.”

Afdeling B het bestaan uit ’n voorgeskrewe roman waarin leerders die keuse tussen ’n opstelvraag of kontekstuele vrae gebied is. Swanepoel het nes die meeste van haar klasmaats verkies om eerder ’n opstel oor Onderwêreld deur Fanie Viljoen te skryf.

Die laaste afdeling het gehandel oor dramas.

Gräbe wys daarop dat die vrae in die prosa- en drama-afdelings rondom karakterbeelding en wedersydse karakterbeïnvloeding sentreer. “Ek sou persoonlik in een van die genres iets wou sien wat pertinent verwys na die rol van die milieu in die uitbeelding van die karakters en die temas – dit is sake wat ten nouste saamloop en waaraan baie aandag gewoonlik in die klaskamer gegee word.”

Tog meen sy die kontekstuele vrae is volgens die vereiste standaard gemeet aan kognitiewe vlakke. “Genoeg vrae word vanuit die aangehaalde teksgedeeltes kontekstueel aan die groter tekste gekoppel, waardeur leerders ten opsigte van inhoud, afleidingstegnieke, meningvorming en waardeoordele getoets word.”

Swanepoel vertel op haar beurt dat sy genoeg tyd gehad het om die vrae te beantwoord. Kandidate is vanoggend twee en ’n half uur gegun om die vraestel te voltooi.

Matrieks skryf op 2 Desember hul laaste Afrikaanse vraestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Meerkat ·

Matrieks skryf op 2 Desember hul laaste Afrikaanse vraestel.

Raadsman ·

Hulle moet afrikaans makliker maak dat daar meer belangstelling in afrikaans is.
Ons sit juis met ‘n dilemma dat nog net 44 mense dit magtig is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.