Afrikaans in skole bly in gedrang ondanks Bela-aanpassings

skool-skoolbank-klaskamer-deltaworks.jpg

Argieffoto (Foto: Kohji Asakawa / Pixabay)

ʼn Afrikaanse skool kan stééds in ʼn oogwink deur ʼn provinsiale onderwysdepartementshoof tot ʼn meertalige skool verklaar word as die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) in sy formaat soos aanbeveel deur die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) gestalte kry.

Daarom bly Solidariteit ten sterkste gekant teen die wysiging van artikels 5 en 6 in die Bela-wysigngswetsontwerp wat oor skole se taal- en toelatingsbeleid handel.

Volgens Johnell Prinsloo, onderwysnavorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut, bring die jongste aanpassings beslis nie verligting nie en kom dit uiteindelik steeds neer op presies dieselfde onheil.

“Selfs al lui die jongste aanpassings dat beheerliggame die skool se taal- en toelatingsbeleide self mag opstel, trek ʼn ander bepaling ʼn streep daardeur.

“Die regering skep die indruk dat beheerliggame hierdie magte self sal kan uitvoer, maar stroop die waarde daarvan deur aan ʼn hoof van die onderwysdepartement (HOD) en ʼn LUR vir onderwys die mag te gee om eensydige en afdwingbare besluite daaroor te kan neem,” sê Prinsloo.

Ingevolge Bela kan die departementshoof, waar dit volgens hom of haar as prakties en uitvoerbaar beskou word, ʼn openbare skool beveel om meer as een onderrigtaal te aanvaar.

Prinsloo vra of dit regtig dan gesê kan word ʼn beheerliggaam stel sy eie taalbeleid op as dié beleid eenvoudig daarna deur die departementshoof verander kan word.

“Wat beteken die selfstandige opstel van beleid dan hoegenaamd as ʼn regeringsamptenaar dit na eie goeddunke kan verander of ongedaan maak? Sou die skool teen die verandering appelleer, is al wat die LUR boonop hoef te doen is eenvoudig om die skool van sy of haar besluit in die verband in te lig,” sê Prinsloo.

Solidariteit sê alhoewel die gekose komitee van die NRP die wysingswetsontwerp nou finaal verwerk het en die NRP eersdaags daaroor sal stem, die geveg teen Bela nou maar eers begin het.

“Ons sien presies deur hierdie aanpassings, want die gevolge daarvan bly dieselfde. Die regering het volgens die wysigingswetsontwerp die laaste sê oor taal en toelating by skole, en dit kan maklik as ʼn ideologiese wapen teen Afrikaanse onderrig gebruik,” sê Prinsloo.

‘Toegewings’ aan BELA-wetsontwerp bied geen gerusstelling

AfriForum vind ook geen gerusstelling in die gewysigde weergawes van die Bela-wetsontwerp nie. Dié burgerregtewaghond gaan dus voort om vir regsaksie voor te berei indien die wetsontwerp aanvaar sou word.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof vir kultuursake, is AfriForum se kernbeswaar steeds dat die provinsiale onderwyshoofde die reg het om oor toelatings- en taalbeleide te besluit. Indien die beheerliggame nie met sodanige besluite tevrede is nie, kan hulle na die LUR appelleer, wat beteken dat die hoogste gesag steeds by ’n politieke aanstelling sal berus.

Soos AfriForum tevore aangedui het, beweer die departement van basiese onderwys gereeld dat beheerliggame kinders kwaadwillig en wederregtelik uitsluit. Waar bewerings teen spesifieke skole gemaak is, soos in die geval van Hoërskool Overvaal, het die howe ná lang en duur regstryde bevind dat die departementele bewerings ongegrond was.

“Ons vra die departement gereeld vir voorbeelde van uitsluiting en bied aan om die sogenaamde kwaadwillige optrede van skole te help ondersoek en omkeer, maar die departement bly in gebreke om spesifieke skole te noem. Ons kan wel skole noem wat oorvol is of verengels het weens departementele inmenging en druk op skoolgemeenskappe en -personeel,” sê sy.

“Die kernprobleme, naamlik dat die regering magshonger is en namens ouers oor hulle kinders wil besluit, asook dat daar ’n algehele onvermoë by die departement bestaan om voldoende skole vir die land se kinders te bou, word nie aangespreek nie. Die omstrede dele van die Bela-wetsontwerp wat met beheerliggame se besluitnemingsmagte en ander aspekte soos tuis- en mikroskoolonderrig handel, word nou ingesluit om die monde te snoer van mense wat hierdie probleme probeer uitwys en aanpak,” sê Bailey.

Die volgende stap is dat ’n sitting op 2 Mei 2024 sal plaasvind, waar die provinsies volgens hulle finale mandate oor die wetsontwerp sal stem, waarna dit na verwagting na die NRP vir debatvoering verwys sal word.

AfriForum hou by die voorneme om die Bela-wetsontwerp teen te staan solank dit ’n bedreiging vir die voortbestaan van Afrikaanse skole inhou. Die publiek kan hulle mandaat vir AfriForum in hierdie verband gee by www.stopbela.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Danie ·

Afrikaans sal n bedreiging bly tot ons laaste dorp en monument vernietig is.

minnie muis ·

dat minder as 5 miljoen die 60+miljoen so laat bewe. dit se iets ne ?

Jaco ·

Maak alles net engels. Dis darem nie ‘n moeilike onverstaanbare taal nie. Dis ook ‘n baie algemene taal in SA. En lag dan vir dié mense wat Afrikaans, die sogenaamde taal van onderdrukking, maar net met ‘n ander taal van onderdrukking vervang het.
Engels kom uit ‘n klein wit landjie in Europa, waar die Engelse eers Engels op die aangrensende Walliesers, Skotte en Iere afgedwing het. Later het die British Empire, wat ook van Engeland af ontstaan het, ‘n empire van 1 derde van die wêreld se landoppervlak beheer en ORAL daar was Engels die taal van onderdrukking.
Net so terloops, baie van die apartheidswette is gebaseer op wette van die Britse koloniale heersers. So, alles in Engels, is wette gemaak wat onder andere swart tuislande en “native locations” tot gevolg gehad het.
So ek wonder maar net, watter taal van onderdrukking was nou die grootste en wie nog moet ook maar jammer sê vir apartheid en kolonialisme?

Nici ·

Een van die laaste goeie dinge wat oor is in ons land is ons goeie skole. Hierdie mense moet afbreek anders het hul nie vrede nie. Al wat goed is, als wat mooi is, skoon is en werk. Het ons as belastingbetalers geen reg om skole wat aan ons kinders se behoeftes voldoen nie?

ES ·

Die regering probeer baie hard om die Afrikaner op elke liewe moontlik te onderdruk. Ongelukkig vir hulle is ons baie soepel. Ons en ons voorvaders het al baie oorleef in die land, veral met die boere-oorlog. Daardie bloed loop nog in ons are. Ons is nie swakkelinge nie.

Cassie Carstens ·

Es, ek stem 100% saam met jou. Selfs TV2 is nou verengels. Nou wil ons die nuus op TV3 luister halfnege in die aand, dan is daar sokker en dus geen nuus nue. Hierdie wet bly drakonies net soos die arbeidswette en moet geskrap wprd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.