Afrikaanse sanger ‘dankbaar’ hy leef ná ongeluk

Johan Anker (Foto: Facebook)

Die Afrikaanse sanger Johan Anker sê dit is net genade dat hy leef nadat hy die afgelope naweek in ʼn botsing betrokke was waarin sy motor afgeskryf is.

Anker sê Woensdag aan Maroela Media hy het Sondag op pad van sy ouerhuis in Port Elizabeth na Johannesburg die dood net-net vrygespring toe hy ʼn vragmotor verbygesteek het en beheer oor sy motor verloor het.

Volgens die sanger kon hy aanvanklik nié enige aankomende verkeer sien nie en het daarom besluit om die vragmotor teen ʼn “bultjie” verby te steek. Hy sê hoewel hy teen ʼn opdraande gery het, was daar nié ʼn sperstreep nie.

“Ek het die vragmotor reeds halfpad verby gesteek toe ek ʼn motor in die aankomende verkeer sien aankom,” sê hy. “Ek het aanvanklik gedink die bestuurder sal stadiger begin ry, maar dit het nie gelyk of die persoon spoed verminder het nie. Ek het geweet ek sal moet skerp briek trap om weer agter die vragmotor in te kom.”

Anker sê dit is toe dat hy beheer oor die voertuig verloor het. “Ek het onmiddellik geweet iets is nie reg nie. Die motor het begin tol en daar was niks wat ek daaraan kon doen nie; al wat ek kon doen was vasklou. Toe tol my motor teen die vragmotor vas en die impak van dié slag het die motor toe twee keer, tot van die pad af, laat rol.

Anker se Honda ná die ongeluk (Foto: Facebook)

“Dit het gevoel soos iets wat vir ewig gaan aanhou. ʼn Mens kan nie beskryf hoe dit voel wanneer ʼn motor met jou rol nie. Jy is absolute magteloos. Ek het net heeltyd gedink ‘maar wat as ek nou doodgaan’. Ek het gedink aan hoe baie ek nog sou wou doen, en aan my ouers. Daar is nie tyd vir bang wees nie. Die motor het uiteindelik op sy wiele met sy neus nog in die pad tot stilstand gekom en die eerste ding wat ek gedink het, was ‘dankie, liewe Heer, ek leef’.”

Die sanger sê hy is “aangenaam verras” deur weldoeners wat stilgehou het om nooddienste na die toneel te ontbied. Volgens hom was ʼn finale jaar mediese student, ʼn jong paramedikus en ʼn dominee onder ʼn groep mense wat op die toneel stilgehou het.

“Die paramedikus en die student het my uit die motor gehelp en my laat regop sit terwyl van die ander mense my solank gehelp het om my ouers te bel. Dit is wonderlik om te weet dat mense nog omgee,” sê hy.

Die vragmotorbestuurder het ook langs die pad stilgehou. Hy het geen beserings opgedoen nie.

Anker sê hy het ʼn fraktuur aan sy linkerarm en aan die regterkant van sy bors opgedoen. Hy sê hy het ʼn “baie seer” oop wond aan sy linkerarm opgedoen en sy nek is ook baie styf.

Die sanger sal na alle waarskynlikheid weer eerskomende Maandag op die been wees. Die verfilming van sy jongste musiekvideo vir die liedjie “Deel dit uit” is ook onbepaald uitgestel.

Anker se Honda ná die ongeluk (Foto: Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Francois le Cochon ·

In die vervolg, sit maar agter die vragmotor totdat dit 100% veilig is, sperstreep of nie.
Kom eerder later by jou bestemming aan as nooit.

Dankbaar ·

Dankbaar jou lewe is gespaar en geen ander is beseer of noodlottig.., sterkte vir jou en jou ouers en geliefdes. Géén regdenkende vra vir so iets maar duur lesse en wysheid glo ek kan uit foute geleer word.

Boesman . ·

Ek stem volkome saam met Francois. Die probleem waarmee ons sit is die swak paaie en ook dat baie van ons paaie se strepe byna nie meer bestaan nie. Swak instadhouding. Sterkte Johan.

Neilia ·

Ek verstaan waardeur hy gegaan het, my man was in 2 ongelukke 4 maande uitmekaar. As jy daai oproep kry is dit asof jou wereld stil staan. En nie een was sy skuld. Jy het lig daarvan afgekom. Hopelik is n les geleer.

Francois Joubert ·

My oom het ons geleer dat jy nooit die sperstrepe moet vertrou nie. Meeste is destyds deur ‘n persoon in ‘n lorrie gemerk en tot vandag slaafs nagevolg, dit terwyl jy in ‘n motor ry wat aansienlik laer is op die pad as die motors van destyds. Kyk vir jouself, en dan gaan jy verby. Ek sal selfs op ‘n sperstreep verby gaan indien die sigbaarheid volgens die verkeersreels korrek is, want die een wat die pad gemerk het het dalk nie eers ‘n rybewys. Ry van die Kaap Oudsthoorn toe dan kyk jy hoe die stippel in die middel van die pad aandui dat jy maar kan verbygaan terwyl die bosse langs die pad sigbaarheid beperk tot 50m.

strepie ·

Die sperstrepe op die pad help niks nie, vanaf Johannesburg Kaap toe gery en meer as een keer gesien dat hy partykeer wys jy kan maar verby gaan, maar eintlik kan jy glad nie sien of daar iets van voor af aankom nie, die probleem is erger in die aand, dis stiknag donker en jy sien nie ‘n lig van voor af nie, die sperstreep wys jy kan verby gaan, maar in die dag sou jy geweet het jy kon nie,

Wolf ·

Jou “loss” DR. Dankbaar niemand is dood of ernstig beseer nie. Dankie aan almal wat gehelp het.

Kannaland ·

Mens kan mos nie net oor n bult ry nie, en dan van aankomende verkeer verwag om remme aan te slaan nie. Ek hoop ons almal leer hieruit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.