Afsondering: Binnelandse sake bied bykomende dienste op vlak 3

(Argieffoto)

Die departement van binnelandse sake het aangekondig dat hy bykomende dienste op vlak 3 van die afsonderingregulasies wat Maandag in werking getree het, bied en sê hy moet ʼn balans vind tussen toegang tot dokumente en die veiligheid van sy amptenare en diegene wat sy kantore besoek.

Bykomend tot die dienste wat hy reeds op vlak 4 begin lewer het, gaan die departement nou ook weer huweliksertifikate uitreik en versoeke verwerk vir laat geboorteregistrasies. Dit sal slegs op afspraak gedoen word.

Mense sal nou ook hul identiteitsdokumente en tydelike ID’s kan gaan afhaal en paspoorte word uitgereik aan diegene wat in die uitvoer- en vragbedryf werk. Geboorte- en doodsertifikate word uitgereik en die heruitreiking van dié sertifikate word ook weer hervat.

Die departement sal dié dienste Maandag tot Vrydag tussen 08:30 en 15:30 lewer.

Paartjies wat in dié tyd wil trou, moet ʼn afspraak by hul naaste kantoor van binnelandse sake maak en op die dag van die seremonie kan hulle die kantoor met ʼn enkele getuie besoek om getalle tot die minimum te beperk.

“ʼn Afspraak is ook nodig wanneer aansoek gedoen word vir die laat registrasie van ʼn geboorte – dit verwys na ʼn aansoek wat ingedien word 30 dae ná ʼn geboorte.

“Kinders wat tydens die afsonderingstydperk gebore is, volg nie dié proses nie. Dit sluit kinders in wat van 26 Februarie gebore is, maar weens die afsonderingstyd nie geregistreer kon word nie.”

Tussen 27 Maart en 28 Mei is 133 251 kinders gebore, het die departement gesê. Gauteng en KwaZulu-Natal het in dié tyd elk meer as 27 000 geboortes gehad.

Byna 79 000 sterftes is geregistreer en 55 761 tydelike identiteitsdokumente is uitgereik. Die departement sê daar was ʼn groot vraag na dié sertifikate, asook vir die heruitreiking van geboortesertifikate.

“Altesaam 51 844 geboortesertifikate is vervang. Om ekonomiese bedrywighede en voedselsekerheid te steun, is 475 paspoorte aan diegene in die uitvoer- en vragbedryf uitgereik.”

Meer as 66 000 slim ID’s is afgehaal, maar die departement sê dit is ʼn druppel aan die emmer van die enorme hoeveelheid slim ID’s – meer as 411 000 – wat steeds nie afgehaal is nie.

Al die departemente se kantore is ontsmet en diegene wat dit besoek, moet afsonderingsprotokolle gehoorsaam, maskers dra en buite die perseel ʼn sosiale afstand handhaaf.

Onwettige immigrante wat aangehou word, sal gedeporteer word. Vlugtelingkantore bly in dié stadium steeds gesluit, maar diegene wie se wettige permitte tydens die afsonderingstydperk verval het, se permitte sal tot 31 Julie geldig bly.

“Geen visum- of permitfunksies in Suid-Afrika of by sy missies in die buiteland word tydens vlak 3 hervat nie.”

Navrae aan die departement kan gerig word by 0800 60 90 11 of [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stof ·

‘n Interresant kinkel hierin, is dat van ons as huweliksbebestigers, klagtes van kontrakbreuk teen ons in die gesig staar weens die feit dat ons reeds al die klarings en afsprake wat maande gelede al gemaak is met bruidspare, nie kan nakom nie.
Wet 25 van 1961 bepaal ook dat huwelike binne drie werksdae na die bevestiging, ook fisies ingepons moet word. Van die huwelike wat net voor die president begin nies het, is steeds nig nie ingevoer nie, en dit veroorsaak dat ons nou buite wet 25 is en dus vervolg kan word.
Van hierdie sake teen van ons kollegas is deur die polisie aanvaar.
Is dit regtig billik dat ons nou vervolg word omdat Broer Cyril genies het? Of is dit deel van die viktimisasie van Evangelie-dienaars?

Oom Hennie Pennie ·

Nou wat van die wat hulle huweliksdag spesiaal wil maak en op ‘n wynlandgoed trou???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.