Afsondering: Duidelikheid geëis oor sertifikate vir boere

Argieffoto (Foto: AfriForum)

Groot onduidelikheid heers onder boere rakende die sertifikaat deur die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) wat hulle as noodsaaklike diensverskaffers identifiseer gedurende die algehele landwye afsondering. Die onduidelikheid het ontstaan weens teenstrydighede in die regering se kommunikasie rakende dié sertifikaat, meen Saai, die landbounetwerk vir familieboere.

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, het Vrydag in ’n verklaring gesê Saai is die afgelope week oorval met oproepe van gefrustreerde familieboere wat verhoed is om verby padblokkades te reis omdat hulle nie oor dié sertifikate beskik nie. Dít nadat die departement van landbou gesê het boere het nie so ʼn sertifikaat nodig nie.

Volgens hom het Saai klagtes ontvang van kleinboere wat hul laaste spaargeld moes opdok om aanlyn vir CIPC-sertifikate te betaal – ’n diens wat gratis is. Hulle moes ook geld betaal om die nodige dokumente by die padblokkades te koop. Dit is onwetting, verduidelik Rossouw.

Die regulasies wat Suid-Afrikaners se doen en late tydens afsondering reguleer, bepaal die nodige dokumente wat vereis word vir noodsaaklike diensverskaffers om met hul pligte voort te gaan. “Ingevolge dié regulasies is die landboubedryf tot ’n noodsaaklike diens verklaar. Die enigste dokument wat boere dus nodig het om te reis is ’n vorm wat substansieel ooreenstem met Vorm 1 in Bylaag C van die regulasies,” verduidelik Rossouw.

Volgens Rossouw moet die hoof van ’n instelling dié vorm uitreik. Dit beteken dat die eienaar of bestuurder van die boerdery dit moet uitreik. Instellings wat noodsaaklike dienste verrig gedurende die afsonderingstydperk moet ook by die CIPC geregistreer wees. Dit is ’n vereiste wat nie eenmansake insluit nie.

(Foto: SA Polisie)

Die departement van landbou het egter ’n verklaring uitgereik wat boere van die vereiste CIPC-registrasie onthef, sodat hulle met hul noodsaaklike dienste kan voortgaan,” verduidelik Rossouw.

Dié verklaring is reeds twee keer uitgereik, maar daar is steeds beamptes by sekere padblokkades wat eis om die sertifikaat te sien voordat boere hul reis mag voortsit.

“Hier is ’n duidelike verwarring in kommunikasie tussen departemente – iets wat deur die departement van samewerkende regering die hoof gebied behoort te word,” verduidelik Rossouw.

Saai doen nou ’n beroep op die departemente van handel en nywerheid, landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling en die departement van samewerkende regering en tradisionele sake om hul amptelike standpunte in ooreenstemming te bring en op grondvlak aan die polisie en weermag deur te gee sodat boere hul werk in dié tyd kan voortsit.

Saai versoek ook dat boere wat probleme ondervind of onwettige aktiwiteite by padblokkades ondervind, dit aanmeld by Saai se WhatsApp-lyn 066 071 6094 sodat die nodige stappe gedoen kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

PieterP ·

So weet die linkerhand nie wat die regterhand doen nie. Verkoop van sertifikate? Een van die dae het ons net 40 polisiemanne oor, die res…. Opgesluit

Jack Russel ·

Hierdie probleem is twee ledig, geen kommunikasie en polisielede wat glad nie weet wat aangaan nie. Nog n struikelblok in boere se pad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.