Afsondering: Gemeenskappe langs wildtuine kry swaar

Vir baie gemeenskappe langs nasionale parke het hul inkomste weens ‘n gebrek aan toeriste nou heeltemal opgedroog. Minister Barbara Creecy sê duisende kospakkies sal aan dié inwoners uitgedeel word. (Foto: Departement van omgewingsake)

Kospakkies en watertenks is reeds aan gemeenskappe in Limpopo en Mpumalanga wat langs die Krugerwildtuin woon verskaf in ʼn poging om hulle tydens die staat van landwye afsondering by te staan.

Toerisme, die gemeenskappe se grootste bron van inkomste, het opgedroog sedert die afsonderingstydperk in werking gestel is. “Dit is hoekom ons probeer om hul lewens in dié beproewende tye minstens effens makliker te probeer maak,” het Barbara Creecy, minister van omgewing, bosbou en visserye, Vrydag gesê.

Die meeste nasionale parke is in landelike gebiede geleë wat reeds swaar getref word deur armoede, werkloosheid en talle ander sosio-ekonomiese probleme. Gemeenskappe in dié streke maak staat op die parke vir oorlewing, hetsy deur werk- of ander sakegeleenthede.

(Foto: Departement van omgewingsake)

Finansiering vir die projek, wat landwyd na alle nasionale parke uitgebrei gaan word, word verkry van SANParke se Ereveldwagters en die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram.

Soveel as R6 miljoen sal aangewend word om dié gemeenskappe van voedselhulp, higiëniese produkte, studiemateriaal en watertenks te voorsien. Altesaam 7 500 gesinne sal hulp ontvang.

Die eerste hulppakkies is vroeër vandag in Mpumalanga en Limpopo oorhandig.

Dit 1 500 pakkies bestaan uit seep, skoonmaakmiddels, maskers en kruideniersware. Tagtig watertenks is reeds in die gebiede met die grootste behoefte geïnstalleer.

“Ons sal verseker dat die hulppakkette gesinne help wat as kwesbaar geïdentifiseer is,” het Creecy gesê.

“Ons weet dat kinders, werklose vroue en bejaardes wat klein kindertjies versorg dikwels aan die hoof van dié huishoudings taan. Dit is belangrik dat ons so veel as moontlik van die broodnodige hulppakkies uitdeel en verseker dat hulp uitkom waar dit die nodigste is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Michael 1 ·

Ek vind dit altyd snaaks wanneer iemand veral persone verbonde aan politieke partye iets vir ander doen dat daar altyd n kamera is om die proses af te neem sodat almal daarvan moet weet.Ek het geleer jy doen goed sonder om iets terug te verwag en dat dit stil gehou word.

Joe Olivier ·

Stem saam met jou Michael, veral as jy dit met ander mense se geld doen.

marius ·

Waarom wil politici altyd in die kollig wees ? Bruintjie punte , dis al.

Kokerboom ·

Ek stem saam met jou Michael 1. Alles is so skyn. Dis soos sosiolisme…dit werk net totdat die ander se geld op is. Dit maak my ongelukkig dat politici ons die middelklas so laag kyk.
Die realiteit is dat kospakkies tydelik is en NIE die langtermyn probleem van werkloosheid en hongersnood oplos. Na 26 jaar het die ANC jammerlik gefaal om die massiewe sosio-ekonomiese probleme van die land konstruktief op te los weens verskeie bekende redes. Hul verpas die een geleentheid na die ander. Solank die geboortesyfer tans die groeikoers 3x plus oortref is daar geen kans!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.