Aftree-oordmoord: Saak na hooggeregshof

Tersius du Plessis tydens ‘n vorige hofverskyning. (Foto: Tania Heyns)

Die saak teen Johanna Rossouw van Emalahleni (Witbank) se vermeende moordenaar sal binnekort in die hooggeregshof aangehoor word.

Tersius du Plessis wat vroeër in soveel woorde gesê het dat hý Rossouw in Januarie vanjaar by haar huis in die Eden Park-aftreeoord in Emalahleni vermoor het, het Maandag weer vlugtig in die plaaslike landdroshof verskyn voor die saak tot later vandeesmaand uitgestel is.

Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Mpumalanga, sê Du Plessis moet nou weer op 29 Julie in dié hof verskyn wanneer ’n hooggeregshofdatum na verwagting vasgestel sal word.

Die ondersoek na die moord op die 86-jarige Rossouw is reeds afgehandel.

Maroela Media het vroeër berig Rossouw is op 31 Januarie in haar huis in Fuchsiastraat in die Eden Park-aftreeoord oorrompel en vermoor. Sy is sowat 30 keer met ’n mes gesteek. Haar hande is agter haar rug vasgebind en ’n mus is in haar mond gedruk. Seep is oor haar gesig uitgegooi.

Du Plessis het glo ná die moord met Rossouw se wit Honda Jazz die perseel verlaat. ’n Ondersoek het die polisie na Krugersdorp gelei waar die motor verlate gevind is.

Du Plessis het hom kort daarna by die Mondeor-polisiestasie in Johannesburg oorgegee en tydens sy eerste hofverskyning gebieg dat hy Rossouw vermoor het.

“Ek is skuldig,” was sy woorde.

Du Plessis staan tereg op aanklagte van moord en motordiefstal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.