Afvalbierwater besproei nou spinasie

Afvalbierwater word gebruik om spinasietuine te besproei in die Oos-Kaap. (Foto: SAB)

Die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) het ʼn projek van stapel gestuur om afvalwater wat tydens die brouproses ontstaan as besproeiing vir spinasietuine in die Oos-Kaap te gebruik.

SAB se Ibhayi-brouery gaan nou, in samewerking met die Wêreld-Natuurfonds vir Suid-Afrika, ʼn kommersiële drupbesproeiingstelsel ontwikkel om spinasietuine in verhoogde beddings op ʼn volhoubare wyse te laat groei. Die stelsels sal 2 000 m² groot wees.

Dit is glo die eerste volhoubare biologiese behandelingstelsel vir ʼn brouery in Afrika. Kenners meen dit het die potensiaal om Suid-Afrika se beperkte waterhulpbronne beter te benut en werk te skep.

Afvalwater, afkomstig van die brouproses van bier, sal in die water- en voedingsbehoeftes van die gewasse voorsien sonder dat kunsmis of bykomende water benodig word.

“Met dié projek kan afvalwater waarvan ons normaalweg ontslae raak, in voedingstowwe vir groente soos spinasie omskep word,” het Josh Hammann, direkteur van landbou-ontwikkeling by SAB, gesê.

Dié projek is geïnisieer deur die bekende tekenprent Popeye, wat telkemale sy geliefde Olive met ʼn gesonde dosis spinasie red. Dit beoog ook om ʼn opkomende landbouonderneming, TaylorMade Water Solutions (TMWS), op die been te bring.

“Met Projek Popeye kan ons die water waarvan ons normaalweg ontslae moes raak, aan TMWS gee om gewasse mee te laat groei. Hierdie gewasse kan hulle dan aan die plaaslike gemeenskap verkoop.”

SAB het onderneem om die nodige kapitaal in TMWS te belê om bedrywighede op die been te bring.

“Ons sal TMWS vir die eerste 12 maande ondersteun deur die onderskeie fases vir die oprigting en kommersiële vestiging te finansier, asook bykomende tegniese en sake-afrigting aan te bied. Daarna sal dié onderneming selfstandig kan funksioneer,” het Hammann gesê.

Volgens Hammann gebruik die spinasiebeddings net sowat 10% van die afvalwater waarmee dit besproei word. Dit stel die ander 90% beskikbaar vir hergebruik.

“Die spinasie verminder die voedingskonsentrasie van die afvalbierwater, wat veroorsaak dat die gehalte van die oorblywende water verbeter word. Dié hoër gehalte water kan dan in die brouery heraangewend word.”

ʼn Idee kry lewe

In 1988 het Martin Davies van Rhodes-Universiteit in Grahamstad en ʼn span navorsers dié konsep aan SAB voorgelê. Hoewel dit ʼn baanbrekerinisiatief was, was dit ietwat voortydig en is dit eers in 2008 deur SAB aanvaar toe die groep aanvanklik R1 miljoen in Projek Eden, waaruit Projek Popeye ontstaan, belê het.

Oor die volgende 13 jaar het prof. Cliff Jones van Rhodes-Universiteit hierdie navorsing saam met SAB ontwikkel. In samewerking met gewaswetenskaplikes van die Universiteit van KwaZulu-Natal en met finansiering van die Waternavorsingskommissie (WRC) het hulle dié idee op klein skaal ontwikkel en getoets.

“Projek Popeye is die volgende stap om te bewys dat die konsep wat jare gelede ontwikkel en getoets is, nou op groot skaal kan werk,” het Hammann gesê.

Volgens Dhesigen Naidoo, uitvoerende hoof van WRC, word die weg gebaan vir die volhoubare benutting van Suid-Afrika se beperkte waterbronne.

“Hierdie inisiatief het ook beduidende en tasbare maatskaplike voordele, aangesien dit soos ʼn soort kringloop-ekonomie werk,” het hy gesê.

“Wat begin het as ʼn projek om ons brouerye se water te behandel, het in ʼn volhoubare biologiese behandelingstelsel ontwikkel wat die potensiaal het om op groot skaal werksgeleenthede te skep en ekonomiese onafhanklikheid te verseker,” het Hammann gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JohanR ·

Ons sal seker nou sien in elke kroeg in die land, hoe mense siten spinasie eet as die drank verbod nie op gehef word nie. Hoeveel spinasie moet jy eet voordat jy oor die limit is?

annie ·

As die groen mannetjie langs jou in die kroeg vir jou sê: Ek is nie Afrikaans magtig nie. Kan jy Marsiaans praat? Dan vra jy die mooi tannie agter die toonbank om asb jou vrou te bel.

Harley Davidson ·

Baie goeie inisiatief, meer hiervan is nodig om mense te leer visvang in pleks om vir hulle ‘n vis te gee.

Francois Le Cochon ·

Ek wonder hoeveel water word gebruik om een liter bier te maak. Wat ek wel weet is dat 2500 liter water gebruik word om n McDonalds burger te maak.

DIABLO ·

Dis nou n lekker artikel om te lees. Fantastiese inisiatief!

Belinda ·

Niks beter om water te kan herwin nie. Wel gedaan aan SAB om so initiative te gebruik. Eks seker die spinasie gaan nou baie mooi groei. Kan hulle dit nie met ander plante ook doen? Boere gaan ook nou lekker spaar siende hulle nie hoef kunsmis ens te gebruik nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.