Agoa-forum kans vir SA om bande met VSA opnuut te versterk

Die Amerikaanse handelsverteenwoordiger, Katherine Tai, en die Suid-Afrikaanse minister van handel, nywerheid en mededinging, Ebrahim Patel (Foto: Verskaf)

Die forum oor die Afrika-groei-en-geleenthedewet – bekend as Agoa – wat volgende maand in Suid-Afrika aangebied word, is ʼn goeie geleentheid vir die Suid-Afrikaanse sakesektor om te wys hoe belangrik die sakeverhoudings tussen Suid-Afrika en die VSA is.

Busisiwe Mavuso, uitvoerende hoof van Business Leadership South Africa (BLSA), sê die aanbied van die forum op tuisbodem gee aan Suid-Afrika ʼn besondere geleentheid om sy verhouding met Amerika te bevorder.

“Ons moet demonstreer hoe Agoa die Amerikaanse ekonomie bevoordeel deur insette aan Amerikaanse voorsieningskettings en hoëgehalte-goedere, van voertuie tot wyne, vir Amerikaanse verbruikers te verskaf. Hierdie verhouding is vir ons baie belangriker in handelsvolumes as ons verhouding met Rusland.

“Amerika bied ʼn kritieke mark – van toerisme tot ondersteuning vir ons filmbedryf. Agoa help om die noue verhouding tussen ons private sektore te beskerm. As ons [Suid-Afrika se] buitelandse beleidsfoute opsy sit, is die verhouding tussen ons twee sakesektore vir albei belangrik en ons moet dit koester,” sê Mavuso.

Die pad om die beraad in Suid-Afrika aan te bied was egter nie sonder uitdagings nie, met verskeie Amerikaanse wetgewers wat nog onlangs gevra het dat die beraad elders moet plaasvind. Dié wetgewers het Suid-Afrika se voorkeur-handelsvoorwaardes met Amerika ingevolge Agoa bevraagteken, aangesien sulke voorkeurtoegang tot die Amerikaanse markte slegs oop is vir Afrika-lande wat nie Amerikaanse veiligheidsbelange bedreig nie.

Die Amerikaners was veral huiwerig oor Suid-Afrika se noue bande met Rusland ná die Lady R-debakel.

Verskeie Suid-Afrikaanse afvaardigings, onder wie politieke en sakeleiers, het verlede maand na Washington gereis om die Amerikaners se kommer te bespreek. Daar is ooreengekom dat die beraad steeds in Suid-Afrika sal geskied.

Volgens Mavuso is dit duidelik dat hierdie pogings om Suid-Afrika se verhouding met die VSA te herstel wel ʼn mate van sukses behaal het aangesien die beraad hier voortgaan.

“Ek beskou dit as ʼn positiewe aanduiding dat ons verhouding begin genees, aangehelp deur die ondersoek na die Lady R-kwessie wat geen bewyse gevind het dat die skip wapens aan boord geneem het wat vir Rusland se oorlogspoging bestem is nie.

“Daar was ook beter kommunikasie van Suid-Afrika se onverbonde posisie, een wat die belang van die Weste as ʼn gevestigde mark vir ons uitvoergoedere erken, terwyl die Ooste ʼn groeiende stel nuwe markte verteenwoordig waarby ons ook betrokke moet raak.”

Volgens Mavuso het Suid-Afrika baie gemeen met die VSA, veral vanuit die perspektief van die private sektor.

“Ons is albei grondwetlike demokrasieë wat in die oppergesag van die reg glo. Ons ondernemings werk in mededingende markekonomieë. Die verhouding tussen die twee lande se private sektors is diep; sowat 600 Amerikaanse maatskappye werk hier en die VSA is ʼn groot uitvoermark vir ons goedere en dienste – een wat deurgaans ʼn groot handelsoorskot in ons guns toon.

“Dit is ʼn belangrike mark vir ons vervaardigde goedere soos voertuie, asook landbou-uitvoere soos sitrus. Agoa-kwalifikasie is onder meer die sleutel tot die uitvoer van daardie goedere.”

Mavuso moedig Suid-Afrikaanse sakeondernemings aan om ten volle by die beraad betrokke te raak en stel voor dat BLSA-lede dit doen.

Die Amerikaners word gelei deur die Corporate Council on Africa, wat bestaan uit die meeste groot Amerikaanse ondernemings wat op die vasteland aktief is. Die aanbieding word gekoördineer deur die departement van handel, nywerheid en mededinging, in samewerking met BLSA, Business Unity South Africa (Busa) en die Amerikaanse Kamer van Koophandel.

Die forum word gehou onder die tema “vennootskap om ʼn veerkragtige, volhoubare en inklusiewe Agoa te bou om ekonomiese ontwikkeling, industrialisering en gehaltewerkskepping te ondersteun”.

Altesaam 450 verteenwoordigers van Agoa-geskikte lande oor die hele vasteland heen sal van 2 tot 4 November in Johannesburg vir die forum saamtrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Kan nie glo Amerika val vir die regime se stories nie. Die Uniegebou is buite beheer. Die Wes-Kaap moet afsonderlik werk vir voorkeur handel met Amerika. Ons ekonomiese struktuur is nie dieselfde as die res van SA nie.

Raadsman ·

Die ANC het reeds SA ge-etiketeer as ‘n vyand van VSA met geen morele waardes nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.