
Angelo Agrizzi, voormalige hoof van Bosasa, tydens ‘n vroeëre hofverskyning. (Foto: Timothy Bernard/ANA)
Angelo Agrizzi, voormalige hoof van die omstrede maatskappy Bosasa, kon weens gesondheidsredes nie Donderdag in die Pretoriase handelshof verskyn op aanklagte wat verband hou met tenders ten bedrae van meer as R1,8 miljard nie.
“Hy is steeds in die waakeenheid. Hy word beslis beter, maar dokters sal hom weens sy longe en niere nog nie ontslaan nie,” sê adv. Daniel Witz, Agrizzi se regsverteenwoordiger.
Agrizzi staan saam met Linda Mti, die voormalige kommissaris van korrektiewe dienste, Patrick Gillingham, die voormalige finansiële beampte van korrektiewe dienste, en die maatskappy se voormalige finansiële hoof Andries van Tonder, tereg op aanklagte van bedrog, sameswering om bedrog te pleeg, korrupsie en geldwassery.
Die saak is vanoggend tot 18 Februarie uitgestel om die verdediging kans te gee om die dossier te bestudeer.
Die saak is verlede maand ook uitgestel nadat Agrizzi weens ernstige gesondheidsprobleme in die hospitaal opgeneem is – kort nadat hy borgtog geweier is in die saak teen hom en oud-ANC-LP Vincent Smith. Die besluit is intussen omgekeer en Agrizzi is sedertdien op borgtog vrygelaat.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
12 Kommentare
Stres is n lelike siekte
Swak gesondheid… wat is nuus akmal geleer by Zuma en Sjeik
Wel…hy het nog nooit gesond gelyk nie, ñ tikkende tydbom.
En nou is ‘n lasbrief uitgereik vir hom omdat hy nie verskyn het nie. En Zuma loop nog vry rond?
Ons het dit mos al voorheen teëgekom by Mnre Zuma , Shaik en selfs Oscar. Raak vreeslik siek en hoop die aanklagtes verdwyn stilletjies.