Agt aangekeer oor ontvoering, moord op polisiebeampte

(Foto: SA Polisie)

Agt persone is in hegtenis geneem in verband met die ontvoering en moord op ʼn 38-jarige polisiesersant van die Hillbrow-gemeenskapsdienssentrum.

Lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), sê sers. Siyabonga Enoch Shabalala se liggaam is Woensdag aangetref in ʼn veld in Mapelton naby die R103 Ou Heidelbergweg.

“ʼn Beeswagter het verbygestap en owerhede in kennis gestel toe hy op die liggaam van ʼn man afgekom het. ʼn Voorlopige ondersoek het onthul dat die man ʼn skietwond in sy maag opgedoen het.”

Shabalala is Dinsdag laas in Moriristraat, Windmill Park in Johannesburg saam met sy suster opgemerk. “Drie gewapende mans het hulle motor genader. Shabalala was nie in daardie stadium aan diens nie. Die verdagtes het sy suster uit die motor gedruk en die polisiebeampte geskiet voor hulle met hom in sy motor weggejaag het.”

Sy motor is Woensdag in Ulandolozostraat in Vosloorus gevind. “Drie verdagtes, Tumelo Molapo (30), Laurence Marindze (28) en Aubrey Shabalala (42) is deur die provinsiale ondersoekeenheid, Gauteng Valke se ondersoekspan, hoofwegpatrollie, Johannesburg-metro se honde-eenheid, Ekurhuleni-metropolisie en die Johannesburgse blitspatrollie aangekeer.”

Die mans was glo besig om die gekaapte voertuig te stroop en ʼn vuurwapen is op die perseel gevind. “Hulle het in die Boksburg-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van ʼn gekaapte voertuig en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Die saak teen die drie mans is tot 11 Julie 2022 uitgestel.”

Nog vyf verdagtes, tussen 23 en 30 jaar oud, is Donderdag deur nasionale misdaadintelligensie, Gauteng Valke se ondersoekspan, hoofwegpatrollie, Johannesburg-metro se honde-eenheid, Ekurhuleni-metropolisie en die Johannesburgse blitspatrollie in hegtenis geneem.

“Die span het op ʼn perseel in Phelindastraat in Phumula toegeslaan waar die verdagtes weggekruip het. Daar is tydens die soektog beslag gelê op drie vuurwapens, insluitend ʼn Z88-pistool wat aan die polisiesersant behoort het.”

ʼn 9 mm-pistool van Stallion Security, wat in Oktober 2021 in Alberton gesteel is, is ook gevind.

“Al vyf verdagtes is in hegtenis geneem en sal na verwagting ook Maandag saam met die aanvanklike drie verdagtes in die Boksburg-landdroshof verskyn op aanklag van moord, ontvoering en kaping.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.