Agt jaar vir R6,6 miljoen se bedrog

An-nei Stumke (Foto verskaf deur die NVG)

An-nei Stumke (25) is Donderdag in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Port Elizabeth tot agt jaar tronkstraf gevonnis op 71 aanklagte van bedrog ter waarde van net meer as R6,6 miljoen.

Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het gesê Stumke was ʼn administrateur by die Nuwelande Agri, ʼn landboumaatskappy in Patensie. Haar pligte het ingesluit om betalings te administreer aan krediteure en werknemers van die maatskappy.

“Haar verantwoordelikheid was ook om dokumente in elektroniese formaat saam te stel vir die direkteur van Nuwelande Agri. Die .csv-lêers [Excel] het die volledige besonderhede bevat van die betalings wat aan krediteure en werknemers gemaak is. Dié inligting het ook die bedrae verskuldig en bankbesonderhede bevat van elke krediteur en werknemer. Die maatskappy se direkteur het dan Stumke se lêers gekopieer op hul internetbankprofiel en massabetalings goedgekeur.”

Tussen 24 Junie 2016 en 29 Januarie 2019, ʼn paar maande ná Stumke by Nuwelande Agri aangestel is, het sy haar persoonlike FNB-rekeningbesonderhede op die .csv-lêers ingevul en die maatskappy het uiteindelik bedrae ter waarde van R6 624 949.47 aan haar oorbetaal.

Die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) het Stumke op 23 Desember 2019 in hegtenis geneem. Ná haar inhegtenisneming het sy ʼn bedrag van R3,5 miljoen aan die maatskappy terugbetaal.

Die staatsaanklaer, senior staatsadvokaat Clint Jacobs, het aangevoer dit sal onregverdig wees om Stumke tot korrektiewe toesig te vonnis, omdat bedrog van R6,6 miljoen ʼn baie ernstige oortreding is. Hy het gesê Stumke het haar werkgewer se vertroue misbruik. “Sy was in ʼn vertrouensposisie. Die beskuldigde het die klaers bedrieg en self erken sy het hulle as ʼn sagte teiken gesien omdat hulle haar vertrou het. Sy het hulle in die gesig gekyk en vir hulle gelieg om haar misdade weg te steek,” het hy gesê.

Landdros Lionel Lindoor het met Jacobs saamgestem dat die oortreding van ʼn baie ernstige aard is. Lindoor het gesê Stumke se modus operandi het beplanning en vaardigheid vereis omdat sy drie jaar lank met die misdryf kon wegkom. “Jy het baie tyd gehad om jou bedrog stop te sit. Maar jy was op ʼn pad waar daar nie meer ʼn ommekeer was nie totdat die werkgewer self die rem getrap het. Jy sou versnel het, as dit nie gebeur het nie.”

Die landdros het gesê ʼn vonnis van direkte tronkstraf is behoorlik in dié geval weens die erns van die misdaad en dat die vonnis as ʼn afskrikmiddel moet dien vir ander oortreders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Marianna ·

Nou wonder ek net, as sy agt jaar kry vir 6miljoen, wat moet Zuma en al die ander kry???

pompies ·

dit het ek ook gewonder dan kan hulle nie minder as lewens lank kry sonder parool nie.

Realis Thailand ·

Sal nie een dag sit nie
Hulle is bo die hof verhewe

Daniel ·

Dis reg dat sy tronk toe gaan maar die groot visse in die regering wat bedrog gepleeg het, is nog op vrye voet!

Nie Verbaas ·

Verbasend hoe gou sy gevonnis is en dit mom haar toe. Meer verbaas dat die Zumas, Magashules en sekere EFF lede se sake net sloer. Weereens, klein vissies word vinnig gevonnis.

Colin ·

As ek die boek Animal Farm kan aanhaal: “All animals are equal, some are more equal than others.”

Menan ·

8 jaar en R6.6m…. kan lewenslank net op die rente leef …

Flip ·

Dit sal nie werk nie want oor 40 jaar is daardie R6.6m net R165,000 werd. n brood wat 40 jaar gelede net 30 sent gekos het sal oor 40 jaar R480 kos…… Tensy jou lewenslank nie langer as 5 jaar is nie, sal die rente nie langer kan hou nie.

H ·

sy moes niks teruggegee het nie … die boer wou haar in die tronk he maak nie saak wat nie. bring my terug na malema , hoekom is die ding nog nie in die tronk nie …

JohanR ·

Jacob Zuma – nul jare vir miljarde se bedrog. ANC’s NEVER go to jail!

Bella ·

Solank as wat al die ander groot diewe nog op vrye voet is, kan ek nie sien hoekom sy so n swaar straf opgelê moet word nie. Die beloning daar buite is estates, Nkandla, belasting betalers geld om die dag in die hof uit te stel. Geld om die land mee te verlaat en veilig te wees, want praat is mos aan die orde van die dag, nie aksie nie.

Danie ·

Ek sal ook gaan sit vir 8 jaar want na 4 kom sy uit op parool.

Pieter J ·

In SA is diefstal tans ń baie ernstiger oortreding as moord.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.