Agterstand met koopkrag kan Pretoria-ondernemings raak

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Talle sakelui en inwoners met Tshwane-koopkragmeters kan moontlik sonder kragtoevoer sit weens agterstande in die allokering van koopkragbetalings. Bykomende druk weens die stad se finansiële jaareinde is vir die agterstand blameer.

Die Pretoria Sakekamer het Vrydag ʼn dringende kennisgewing aan die stadsbestuur van die Tshwane-munisipaliteit gerig om in te gryp.

“Op ʼn navraag deur ʼn lid van die Pretoria Sakekamer het ʼn Tshwane-werknemer dit laat blyk dat betalings wat sedert 29 Junie vir koopkrag gedoen is, nog nie geallokeer is nie,” sê Fergus Ferguson, voorsitter van die Pretoria Sakekamer. “Dit is onverstaanbaar dat ʼn stad soos Tshwane se stelsels skynbaar nie geoutomatiseer is nie. Die moontlike gevolg is dat ondernemings en inwoners wie se krageenhede tans laag is, se kragtoevoer moontlik onderbreek sal word indien die allokeringsprobleem teen daardie tyd nog nie opgelos is nie, met groot skade en verliese vir ondernemings.”

Volgens Ferguson is die kwessie Vrydag deur een van die sakekamer se lede by die Pretoria Sakekamer aangemeld en dit is dadelik geëskaleer. “Ons doen ʼn beroep op enige onderneming in Pretoria om dringend hulle krageenhede na te gaan en indien hulle vermoed dat hulle deur hierdie probleem geraak kan word, die Pretoria Sakekamer per e-pos by [email protected] daarvan in kennis te stel.”

“Hoewel die Pretoria Sakekamer net lof het vir die stadsbestuur se pogings om agterstallige rekeninge in te vorder, kan sakelui en inwoners wat betaal vir krag beslis nie in die donker gelaat word tot die allokerings gedoen is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.