AKA-moord: Polisie glo na aan deurbraak

AKA (Foto: Ddogc4, eie werk via Wikimedia Commons)

Die polisie het goeie vordering in sy ondersoek na die moord op die Suid-Afrikaanse kletsrymer (rapper) Kiernan “AKA” Forbes en Tebello “Tibz” Motsoane gemaak en sal moontlik binnekort selfs ’n inhegtenisneming kan doen, aldus die minister van polisie.

Min. Bheki Cele het vandeesweek tydens ’n mediakonferensie laat blyk dat daar ’n persoon van belang in die opspraakwekkende moordsaak geïdentifiseer is.

“Die motors is gevind, mense is geïdentifiseer, selfs die vuurwapen is gevind. So, hulle jaag hierdie persoon en is nie baie ver daarvan om die finale slag in hierdie saak toe te dien nie,” het Cele Dinsdag tydens die mediakonferensie in Pretoria gesê.

Forbes (35) en Motsoane (34), ’n sjef en sakeman, is in Februarie vanjaar buite ’n bekende restaurant in Durban doodgeskiet.

Lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, het onlangs gesê die polisie het intussen die moordwapen én die voertuie wat tydens en ná die moord gebruik is, opgespoor.

Nog niemand is egter tot dusver in hegtenis geneem nie.

Cele het versoek dat die polisie die nodige tyd en ruimte gegun word om die ondersoek na die moorde af te handel.

Forbes en Motsoane is op 10 Februarie in Floridaweg in Morningside, Durban, doodgeskiet kort nadat hulle aandete by ’n restaurant geniet het.

Maroela Media het vroeër berig twee gewapende verdagtes het die betrokke aand die straat oorgesteek en Forbes en Motsoane van naby geskiet voordat hulle weggehardloop het.

Forbes en Motsoane is op die toneel dood verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lood ·

“Polisie glo na aan deurbraak” beteken is SA meesal dat as die beskuldigde hom/haarself nie gaan oorgee nie, die SAPD nooit die saak sal kan oplos nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.