Akademia, Hongaarse universiteit vat hande

Die private Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia het Dinsdag ’n samewerkingsooreenkoms met die Hongaarse Universiteit van Landbou- en Lewenswetenskappe (MATE) – een van die grootste hoëronderwysinstellings vir landbou in Europa – onderteken.

Dit is Akademia se eerste vennootskap met ’n internasionale instelling en die Suid-Afrikaners en Hongare blyk ewe opgewonde oor dié nuutgevonde vriendskap te wees.

“Hier is iets aan die gebeur in Pretoria,” het dr. Dávid Bencsik, hoof van die Direktoraat vir Internasionale Sake en Buitelandse Verhoudinge van MATE, Dinsdagaand tydens die ondertekening van die ooreenkoms by Akademia se Centurion-kampus gesê.

MATE, voorheen bekend as die Szent István-universiteit, is in Gödöllő naby Boedapest geleë.

“Ons Hongare gaan by julle leer en ons hoop dat ons op ons beurt iets tot hierdie samewerkingsooreenkoms kan voeg wat jul ervarings, geleenthede en ondersteuning kan verryk en jul drome en ambisies kan fasiliteer.”

Die ooreenkoms tussen Akademia geld vir die volgende vyf jaar en behels die wedersydse uitruil van studente vir studie en navorsing, die uitruil van professore, navorsers en administrateurs deur middel van besoeke sowel as die uitruil van inligting en publikasies tussen die twee instellings.

Prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia, sê landbou is ’n vakgebied wat tans vinnig ontwikkel en uitbrei.

“Dit is daarom belangrik dat Akademia bande bou met van die beste landbou-universiteite in die wêreld, soos MATE, met die vooruitsig om ons aan die voorpunt van landbouontwikkeling in die wêreld te kan posisioneer.”

MATE volg ’n multidissiplinêre benadering. Dit sluit in natuurlike hulpbronne, die omgewing, water, landskappe en lewensgehalte.

Rautenbach sê hierdie benadering komplementeer Akademia se strewe om die groter geheel raak te sien.

“Akademia streef daarna om te ontwikkel tot ’n hoëronderwysinstelling van wêreldgehalte, terwyl daar steeds gestand gedoen word aan ons bestaansrede, visie en waardes. Dit is daarom belangrik dat ons verhoudings ontwikkel met van die beste universiteite in die wêreld wat na soortgelyke horisonne strewe.

“Die Hongare is baie soos die Afrikaner-gemeenskap en ook baie gesteld daarop om hul kultuur te behou. Ons het daarom dadelik gevoel dat ons kan saamwerk,” sê Rautenbach aan Maroela Media.

Bencsik beaam dit.

“Ons glo dat ons baie soortgelyke waardes en ’n opvoedingsideaal met Akademia deel, en ons glo dat hierdie memorandum van verstandhouding maar net die begin is van baie toekomstige ondernemings.”

Akademia en MATE se samewerkingsooreenkoms volg nadat die Solidariteit Beweging Hongarye oor die afgelope paar jaar verskeie keer besoek het juis met die oog op die ontwikkeling van nouer samewerkingsbande tussen dié land en Suid-Afrika.

Akademia vorm deel van dié beweging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.