Al hoe meer mense soek hulp vir skuld

Algehele skuldvlakke het van die eerste kwartaal in 2016 tot vanjaar se eerste kwartaal met 19% toegeneem. (Argieffoto: Maroela Media)

Al hoe meer mense doen aansoek om skuldberading nadat die betalingsvakansies wat verlede jaar ná die uitbreking van die Covid-19-pandemie toegestaan is, begin verstryk het.

Benay Sager, hoof van die maatskappy DebtBusters, sê daar was ʼn toename van 31% in navrae vir skuldberading in vergelyking met dieselfde tyd ʼn jaar gelede.

Dit word boonop al hoe moeiliker om skuld te bekom.

Sager sê in die afwesigheid van ʼn werklike inkomstegroei het talle Suid-Afrikaners hul inkomste juis met ongesekureerde skuld ʼn hupstoot bly gee.

Nominale inkomste is 7% hoër in vergelyking met 2016, maar wanneer saamgestelde inflasiegroei van 24% ingereken word, het mense se werklike inkomste oor die vyfjaartydperk eintlik met 17% gekrimp.

Mense wend hulle dus toenemend tot ongesekureerde lenings om die gaping te vul.

Diegene wat meer as R20 000 per maand verdien, moet meer as 60% van hul maandelikse netto inkomste bestee net om dié skuld te hanteer. Hul skuld-tot-inkomste-verhouding is ook uiters hoog op 130%.

Ongesekureerde skuld is 53% hoër as die 2016-vlakke. Vir diegene wat meer as R20 000 per maand verdien, is die vlak selfs hoër: Dit staan nou op 76%.

Sager sê dit is ʼn regstreekse uitwerking van die wegkalwing van netto inkomste – die salaris wat jy elke maand huis toe neem – en verbruikers moes die vermindering met ongesekureerde skuld aanvul.

DebtBusters se jongste syfers wys diegene wat minder as R5 000 per maand verdien, gebruik die grootste gedeelte van hul salarisse om skuld terug te betaal. Tot 70% van dié salaristrekkers se inkomste word vir die afbetaal van skuld gebruik. Diegene wat meer as R20 000 per maand verdien, bestee 59% van hul inkomste daaraan om hul skuld te delg.

Algehele skuldvlakke het van die eerste kwartaal in 2016 tot vanjaar se eerste kwartaal met 19% toegeneem. Dit is veel minder as die tempo waarteen ongesekureerde skuld gegroei het en versterk die siening dat die groei in skuldvlakke eintlik aangedryf word deur die groei in ongesekureerde skuld.

Al hoe meer verbruikers soek egter al hoe vroeër hulp om hul skuldprobleme te oorkom.

Sager sê veral mans soek toenemend hulp en daar was ʼn jaarlikse toename van 56% in die getal mense wat DebtBusters genader het vir skuldberading.

“In ʼn samelewing waar daar nie regtig oor skuld gepraat word nie en baie mans dit dalk voorheen vermy het om hulp te vra, is die neiging bemoedigend,” sê Sager.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Alexander

Die knyptang om die noustroptrekkende middelklas raak al hoe stywer, en die vetkatte van die superrykklas raak al hoe ryker…………en hulle verlustig hulself daarin

Elize

Ek wens ek kon R20,000 per maand verdien! Hoe kan mens nie lewe met soveel geld nie?

Jan

Die pandemie is die sogenaamde “beskermingsmaatreëls” en die eensydige, omgekoopte “bevelsraad” – enigeen wat die gesaghebbende data van PANDATA bestudeer kan tot geen ander gevolgtrekking kom nie.

RICHARD

Hd berig is in stryd met wat sommige sg positiewe ekonome voorhou. Die middelklas is van kritieke belang vir die funksionering vd ekonomie en hul agteruitgang gaan wesentlike implikasies vir hoër inkomstegroepe inhou asook vir die massa armes en werkloses.

Karen

Grootste fout wat ek ooit gemaak het, met halwe inligting voorsien. Afgelope 3 jaar meer as R115 000 betaal, maar my skuld is meer.