Al meer besoek Kaapstad weer

Al hoe meer mense besoek weer die Moederstad. (Foto: Verskaf)

Die jongste toerismesyfers wys dat al hoe meer mense weer die Moederstad besoek – met minstens 25 000 mense wat daagliks deur die Kaapstadse Internasionale Lughawe reis.

Volgens data van die lughawe het binnelandse vlugte na die lughawe in Februarie herstel tot 79% van vlugte in dieselfde tydperk in 2019. Januarie se syfers het met 73% herstel in vergelyking met dieselfde tydperk drie jaar gelede.

Internasionale vlugte het toegeneem tot 76% van vlugte in dieselfde maand in 2019.

Dié lughawe ontvang nou eindelik weer – sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie – duisende passasiers.

Verskeie internasionale lugrederye het ook vanjaar hul roetes na Kaapstad hervat, met onder meer Emirates wat weer na en van Dubai vlieg en British Airways wat direk na die Heathrow-lughawe in Engeland vlieg.

Die VSA se United Airlines het ook onlangs aangekondig dat hy regstreekse vlugte tussen Kaapstad en New York van Junie vanjaar sal hervat. Die lugredery het ook aansoek gedoen om direkte vlugte tussen Kaapstad en Washington DC te bedryf.

“Die Stad Kaapstad ondersteun die lugredery se aansoek om hierdie roete moontlik te maak,” sê James Vos, die stad se burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese geleenthede en batebestuur.

“Ons het verder ook vordering gemaak as ʼn vaartbestemming met vyf skepe wat nog tussen nou en Mei verwag word. ʼn Verdere 104 skepe sal na verwagting tussen Oktober en Mei volgende jaar hier anker gooi.”

Die Moederstad se konferensie- en uitstallingsektor blyk ook weer goed op dreef te wees sedert die pandemie dié bedryf tot stilstand gedwing het. Minstens 140 geleenthede is vanjaar by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum bespreek, wat ʼn geraamde inkomste van R145 miljoen beloop.

“Hierdie getalle verteenwoordig nie net ʼn toename in die getal reisigers wat Kaapstad besoek nie, maar is ook ʼn aanduiding dat die stad verbind is met sleutelbronmarkte,” sê Vos.

“Dit sal handel en uitvoer van Suid-Afrikaanse produkte bevorder wat tot verhoogde produksie lei. Dus sal daar meer werksgeleenthede en ʼn sterker ekonomie wees.”

Die Stad Kaapstad beplan ook om ʼn hele aantal veldtogte te loods wat die stad verder bemark as een van die wêreld se voorste werk- en vakansiebestemmings.

“Daar is geen twyfel dat die afgelope twee jaar moeilik vir die ekonomie was nie, met toerisme wat beslis een van die sektore was wat die ergste geraak is,” sê hy.

“Ek is trots op ons harde werk, innovasie en samewerking wat Kaapstad in ʼn uitstekende posisie geplaas het.

“Die syfers maak dit duidelik: Kaapstad is oop vir sake.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marius ·

Die hawens was al die tyd nog daar. Weens wanbestuur, ewigdurende stakings en swak instandhouding van die hawens het alles uitmekaar geval. Kom ons hoop die voorneme hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.