Ál meer SA’ners huur huise

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Daar was in 2017 laas só min residensiële eiendom om te huur in Suid-Afrika soos nou. Maar ondanks ʼn sukkelende ekonomie en stygende rentekoerse, kom huurders hul huurverpligtinge na, wys ʼn nuwe verslag van die maatskappy TPN Credit Bureau.

TNP sê die vraag na huurhuise in Suid-Afrika is tans hoog met die hoeveelheid residensiële huureiendomme in Suid-Afrika wat leeg staan, wat tot 6,76% in die derde kwartaal van die jaar gedaal het. Dit is die laagste koers die afgelope ses jaar.

Die verslag wys ook dat die aantal huurhuise wat leeg staan op ʼn jaargrondslag met gemiddeld 11,52% afgeneem het.

Waldo Marcus, bedryfshoof by TPN Credit Bureau, sê die huurmark het voordeel getrek uit vanjaar se hoë rentekoerse wat baie mense daarvan weerhou het om huise te koop weens die hoë koste van skuld.

Die nadeel van hoë rentekoerse is egter dat dit beleggers se kontantvloei beïnvloed weens die hoë koste van skuld en stygende onderhoudskoste.

“Dit is dus belangrik om te verseker dat ʼn huureenheid nie leeg staan nie.”

Die verslag toon voorts dat hoe hoër die maandelikse huur, hoe groter is die kans dat die eiendom gaan leeg staan.

Leë huureenhede teen R3 000 of minder per maand het ʼn skerp afname tussen die tweede en derde kwartaal – van 14% tot 7,07% – beleef. Leë huureenhede tussen R3 000 en R4 500 per maand het ʼn soortgelyke patroon getoon: van 112% in die tweede kwartaal tot 7,9% in die derde kwartaal.

“Dit is nie ʼn ongewone neiging nie,” verduidelik Marcus. “Ons het dit vantevore gesien met ʼn styging in minstens een kwartaal in ʼn kalenderjaar, maar wat dan goed herstel, maar bo die nasionale leegstaansyfer bly.”

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Huureenhede teen R4 500 tot R7 000 per maand word egter nié so vinnig opgeraap nie. Die aantal leë eenhede in dié prysklas het vir drie opeenvolgende kwartale toegeneem van 6,23% in die eerste kwartaal tot 6,52% in die tweede kwartaal en 6,68% in die derde kwartaal.

Eiendomme teen R7 000 tot R12 000 per maand huur het ʼn soortgelyke neiging gehad met 5,07% van die eenhede wat in die eerste kwartaal leeg gestaan het. Die hoeveelheid leë eiendomme in die prysklas het tot 5,55% in die tweede kwartaal en 5,88% in die derde kwartaal toegeneem.

Die hoogste leegstaankoers is in die huurwaardeband van R12 000 tot R25 000 met 8,56% van dié huureiendomme wat in die derde kwartaal leeg gestaan het, teenoor 6,49% in die tweede kwartaal.

Marcus sê egter hoewel vakante eiendom in die middel tot hoër waardebande toeneem, bly dit onder die nasionale gemiddeld en spog dit met die laagste leegstaansyfers in die algemeen.

Die Wes-Kaap is tans die provinsie met die hoogste marksterkte. Dit het egter drie opeenvolgende kwartale van verhoogde onbesette wooneenhede beleef: 1,66% in die eerste kwartaal, 3,62% in die tweede kwartaal en 4,57% in die derde kwartaal.

“Die provinsie het ʼn waargenome onderaanbod van huurvoorraad en ʼn groot aanvraag. ʼn Hoër aantal onbesette woonplekke kan egter die vraaggradering laat daal en, gekombineer met meer aanbod wat aanlyn kom, die marksterkte-indeks in die laaste deel van 2024 verswak.”

Daar was egter minder leë residensiële huureiendom in KwaZulu-Natal in die derde kwartaal (7,36%) vergeleke met die vierde kwartaal (12,05%), asook in Gauteng: van 8,8% in die tweede kwartaal tot 6,85% in die derde kwartaal.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Marcus verduidelik egter dat Gauteng histories ʼn effens hoër leegstaankoers ervaar in vergelyking met die nasionale gemiddeld aangesien die waargenome aanbod hoër is as die waargenome vraag “wat aandui dat die provinsie se huurmark vir ʼn geruime tyd nie in ewewig was nie. Hierdie wanbalans het huurgroei beïnvloed”.

Marcus sê die derde kwartaal se data dui daarop dat die residensiële huurmark veerkragtigheid toon.

“Residensiële huureiendom wat leeg staan, word primêr beïnvloed deur vraag en aanbod wat [in die derde kwartaal] meer na ʼn hoër vraag en stadiger aanbod geleun het.”

Die TPN Credit Bureau se huurmarksterkte-indeks bly ook relatief hoog op 57,15 punte in die derde kwartaal, wat ʼn mark in ewewig vertoon met effens meer aanbod, maar volgehoue ​​hoë vraag.

Marcus sê die toename in indiensnemingsgetalle dra by tot hierdie algehele positiewe sentiment.

Die residensiële huurmark, verduidelik hy, is in ewewig wanneer vraag en aanbod gelyk is op 50 punte. “ʼn Gesonde huurmarksterkte-indeks bied eiendomsbeleggers die ruimte om hul huur te laat groei terwyl hulle laer onbesette wooneenhede geniet.”

Marcus verduidelik dan dat die hoë werkloosheidkoers onder diegene tussen 25 en 34 jaar oud ʼn negatiewe impak op die residensiële huurmark het aangesien hierdie mense normaalweg die huurmark betree wanneer hulle met hul loopbane begin.

“Daar is egter min verwagting dat rentekoerse binnekort sal daal, wat die residensiële huurmark sal bevoordeel en wat verseker dat dit ʼn bekostigbare behuisingsalternatief bly.”

Marcus waarsku egter dat daar gewoonlik meer huureiendomme in die vierde kwartaal leeg staan wat beteken dat 2023 met ʼn effens hoër jaarlikse niebesettingsvlak kan eindig. “Ondanks hierdie potensiële toename in onbesette woonplekke of leegstaande eenhede in die vierde kwartaal, dui die algehele neiging vir 2023 op ʼn bemoedigende afname in die leegstaansyfer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

JD ·

“You will own nothing and be happy” alla Wêreld Ekonomiese Forum.

Mari ·

@JD,

Dis waar wat jy hier sê van WEF. Dit is hulle plan, daarom het hulle ook gesorg dat duisende klein besighede hulle deure moes toe maak tydens die pestilensie.

JohanR ·

Huur – soe jy betaal iemand anders se plek af vir hulle instede van ‘n huis van jou eie?

Barney ·

As jy R25000 huur per maand moet betaal kan jy net sowel jou eie plek afbetaal.

George ·

@Barney, as jy R25000 aan huur betaal, dan is jy beslis onbevoegd vir jou werk.

George ·

Mense, dis ook nie net van “koop plaas van huur” nie. Baie mense kan R6000 – R9000 huur bekostig, maar sal nie dieselfde area/plek/grootte/gemak/veiligheid ens kan bekostig om te koop teen dieselfde prys nie, nie te praat van die eind bedrag na 20 – 25 jaar nie.

Daisy ·

Ek stem saam met @JohanR – ek sien geensins die doel om te huur en iemand anders se eiendom te betaal nie.
As jy huur is dit nooit joune nie, jy kan geen veranderinge maak of verbeter nie, behalwe as jy wil geld weggooi en trek jy kry jy niks terug vir die tyd wat jy daar gebly het nie.
As jy koop kan jy die waarde verbeter en teen ‘n wins verkoop

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.