Al meer SA’ners loop deur onder huisbrake

Argieffoto (Foto:
Nicola Nuttall/Unsplash)

Al hoe meer Suid-Afrikaanse huishoudings word die slagoffers van huisbraak.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) se jongste Slagoffers van Misdaad-verslag is Donderdag bekend gemaak en toon dat huisbraak tans die algemeenste misdaad is om Suid-Afrikaanse huishoudings te tref.

Die verslag toon verder dat agt uit tien Suid-Afrikaners nog bedags alleen in hul woonbuurt sal stap. Maar net drie uit elke tien sal dit ná donker waag.

ʼn Geraamde 1,6 miljoen voorvalle van huisbraak het in die 2022/’23-boekjaar voorgekom. Sowat 1,1 miljoen huishoudings is in die proses geraak. Dié huishoudings verteenwoordig 5,7% van alle huishoudings in Suid-Afrika.

Net sowat die helfte (51%) van dié huisbrake is egter by die polisie aangemeld.

Die tweede algemeenste soort misdaad wat Suid-Afrikaanse huishoudings ondervind, is huisroof. Altesame 195 000 huishoudings is in die 2022/’23-boekjaar deur dié soort misdaad geraak.

Luidens die opname weet al hoe meer huishoudings ook hoe dit voel wanneer ʼn voertuig gesteel word. Nie minder nie as 73 000 huishoudings het in 2022/’23 die diefstal van ʼn voertuig ondervind.

Dit is aansienlik meer as die 42 000 huishoudings wat die lot in 2021/’22 te beurt geval het.

Argieffoto

Sowat 238 000 gevalle van huisrooftogte het in 2022/’23 voorgekom, wat 195 000 huishoudings in totaal geraak het. Die syfer verteenwoordig 1% van alle huishoudings in die land.

Effens meer slagoffers (56,8%) het in hierdie gevalle die voorvalle by die polisie aangemeld.

Altesaam 68 000 huishoudings het aanrandings in 2022/’23 beleef; dit is sowat 0,4% van alle huishoudings. ʼn Geskatte 28% van hierdie huishoudings het aangedui dat die aanrander ʼn lid van die familie of huishouding was.

Wapens is in sommige van die aanrandingsvoorvalle gebruik en die opname toon dat ʼn mes die wapen van keuse in die meeste sulke gevalle was.

ʼn Geskatte 1,5 miljoen gevalle van diefstal van persoonlike eiendom het in die 2022/’23-boekjaar voorgekom, wat 1,2 miljoen individue van 16 jaar en ouer (2,9% van die Suid-Afrikaanse bevolking) geraak het.

Altesame 314 000 mense (0,7% van individue van 16 en ouer) het in die tydperk verbruikersbedrog ervaar in ʼn totaal van 487 000 gevalle. Die opname toon dat 38,1% van die slagoffers die voorvalle by die polisie aangemeld het;. Dit is ʼn afname van 6,1% vergeleke met die vorige jaar.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

StatsSA het met die opname ook bevind 80,8% van die bevolking voel veilig om bedags alleen in hul woonbuurt te stap, terwyl 37% veilig voel om dit snags alleen te doen.

Sowat 30% (29,7%) het aangedui dat hulle planne beraam het om hulself te beskerm. Byna 44% (43,8%) van die bevolking het aangedui dat hulle net gedurende sogenaamde veiliger ure stap om hulself teen misdaad te beskerm.

Altesame 79,7% van diegene van 16 jaar en ouer het veiliger gevoel nadat hulle maatreëls getref het om hulself teen misdaad te beskerm.

Ken jy jou bure?

Die aantal huishoudings wat hul bure se name ken, het van 91,9% in 2019/’20 tot 93,3% in 2022/’23 toegeneem. ʼn Effense afname is egter waargeneem in die aantal huishoudings wat hul naaste bure sal vra om hul huis dop te hou wanneer hulle weggaan.

Meer as 50% van die huishoudings wat aan die opname deelgeneem het, het aangedui dat hulle geen kennis dra van aktiewe forums wat gemeenskapsverwante kwessies in hul gebiede bespreek of hanteer nie. Die persentasie huishoudings wat van aktiewe forums geweet het, het van 33,5% in 2019/’20 tot 38,3% in 2022/’23 toegeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Frikkels ·

So sal dit wees as daar nie weggedoen word met misdadigers se menseregte nie! Misdadigers in Suid lagland het meer regte en voorregte as wetsgehoorsame burgers!

Gauteng Meisie ·

Sal interresant wees om te weet hoe die statistieke in % vorm in die provinsies is.

Vonny ·

N normaal in SA.
Die dat ons almal in komplekse ” bo op mekaar ” woon.
Waar gaan ons tog heen?

Net terug na God

Daniel ·

StatsSA of SAPS se statistieke is glad nie betroubaar nie! Hoeveel mense in die land het nie ‘n vermoe of wil nie ‘n saak by SAPS aanmeld nie. ANC sal altyd die Wes-Kaap laat vuil smeer.

christo ·

Suid-Afrikaners is uitgelewer aan die kriminele wolwe. Ek het reeds in 2017 met Ramaphosa se CR17 gesê dat Suid-Afrikaners maak ‘n fout om hulle geloof in Ramaphosa as die nuwe politieke mesias te plaas. Ek was nie verkeerd nie.

Harry ·

I would like to see statistics on how many house brakings/robberies take place during load shedding.

Ryan ·

Dalk kan Maroela n peiling onder hul lesers doen om te bepaal hoeveel al aan watter tipe misdaad blootgestel was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.