Ál meer teenkanting oor wysigings aan Skolewet

Argieffoto. (Foto: Elaine Krige)

Suid-Afrikaners is oënskynlik vasberade om sterk standpunt in te neem teen voorgestelde wysigings aan die Skolewet en sal alles in die stryd werp om dit te stuit.

Die portefeuljekomitee oor basiese onderwys het Dinsdag aangekondig dat ʼn uitgebreide openbaredeelnameproses volgende maand sal begin om belanghebbendes kans te gee om insette te lewer.

Alana Bailey, hoof van kultuursake van die burgerregteorganisasie AfriForum, sê die instansie mobiliseer sy hulpbronne landwyd in ʼn poging om die voorgestelde wysigings teen te staan, aangesien dit ʼn blatante “haatveldtog teen Afrikaanse kinders en skole” is.

Die DA het ook sterk standpunt oor die voorgestelde wysigings ingeneem en, nes AfriForum, ʼn petisie teen die wetsontwerp van stapel gestuur.

“Die ANC-regering is magshonger en het by monde van byvoorbeeld die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, al sy haat vir Afrikaans en weersin in Afrikaanse onderrig duidelik gemaak,” sê Bailey.

Die beplande wysigings aan die Skolewet beoog om die provinsiale onderwysdepartement die reg te gee om oor skole se taal‑ en toelatingsbeleid te besluit, eerder as dat hierdie besluit by skole se beheerliggame berus. Die beheerliggaam van ʼn openbare skool sal onder meer ook die skool se taal‑ en toelatingsbeleid vir goedkeuring aan die departementshoof moet voorlê, waarna dié opdrag kan gee dat die skool meer as een onderrigtaal moet aanneem.

AfriForum se regsmening is gereed vir voorlegging en lede van die organisasie mobiliseer op groot skaal om aan die openbarekommentaarproses oor die wetsontwerp deel te neem.

“AfriForum word gereeld genader deur ouers van Afrikaanse skole wat deur die onderwysdepartement onder druk geplaas word om te verengels. Parallelmediumskole loop uiteindelik die pad om enkelmedium- Engelse skole te word, soos ons onlangs weer in die geval van Laerskool Theresapark gesien het,” sê sy.

“Openbare universiteite het reeds teen die internasionaal erkende voordele van moedertaalonderrig standpunt ingeneem deur te verengels. Ons kan nie toelaat dat ons kinders op skoolvlak ook van die reg ontneem word en seggenskap oor die taal, aard en finansies van skole van gemeenskappe weggeneem word nie.”

Die DA meen dat die wetsontwerp, indien dit deurgevoer word, katastrofiese gevolge vir moedertaalonderrig sal inhou.

“Die wetsontwerp poog om die nasionale departement van basiese onderwys, gelei deur min. Angie Motshekga en [LUR] Lesufi, onbeperkte mag te gee om skole te hernoem soos hulle goeddink,” sê Baxolile Nodada, die DA se skaduminister vir onderwys.

“In wese sal ʼn gelaaide wapen aan hierdie ministers gegee word om die langdurige oorlog teen moedertaalonderrig af te handel.

“Die DA sal nie toekyk terwyl ANC-kaders die fundamentele regte van ons gemeenskappe en skoolbeheerliggame wegneem nie.”

  • Kry AfriForum se petisie hiér en die DA sʼn hiér.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

casper ·

Ons moet hierdie beskou as ‘n vyandelike aanval op Afrikaans en dit so hanteer !!
Daar is nie ‘n keuse nie !!!!

Swerwer ·

Hierdie is net weer tyd en geld mors. Die ANC Kader sal nie kopgee dat hul totaal en al misluk het nie. Dat die sogenaamde onderwysdepartement aan ploeg met hul mislukte onderwys stelsels en skole, en die ouers wat wel omgee vir hul kinders, van ander onderwys instansies gebruik maak. Wie wil in elk geval in vandag se chaotiese onderwysstelsel nog hul kinders by staatskole inskryf. Agri Forum dit is tyd dat jul hande neem en ‘n Onderwysstelsel vir die ouers daar stel wat veilig is waarheen die “rassistiese” kinders kan gaan en die res dan maar hul ANC gedrewe opvoeding in die reeds daargestelde staatskole voortsit.

AmY ·

Die Afrikaner is die enigste teen wie daar in hierdie land gediskrimineer mag word.
Alle ander dinge is ‘reg en aanvaarbaar.’

H.A. ·

Ons afrikaners word bly aangeval. Waar is my oom tog nou, oom eugene (E.T).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.