Alle aanklagte teen Booysen en kie laat vaar

Booysen saam met ander lede van die Cato Manor-eenheid. Foto: ANA

ʼn Sewe jaar lange regstryd het Woensdag skielik in die hooggeregshof in Durban tot ʼn einde gekom toe alle aanklagte teen Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, en sy medebeskuldigdes laat vaar is.

Booysen, wat in Februarie verlede jaar uit die Suid-Afrikaanse Polisiediens getree het, en ander speurders in sy eenheid is daarvan beskuldig dat hulle by die sogenaamde Cato Manor-moordbende betrokke was.

Die groep het gesamentlik op 116 aanklagte tereg gestaan en is van ʼn reeks misdade beskuldig, insluitend rampokkery en dat hulle minstens 28 mense doodgemaak het. Die beamptes is in 2012 in hegtenis geneem nadat die Sunday Times die storie aan die lig gebring het.

“Ek is instruksie gegee dat die aanklagte soos dit op die klagstaat verskyn, teruggetrek moet word,” het die staatsaanklaer aan regter Kate Pillay gesê.

Pillay het hierna beslis dat die aanklagte teruggetrek word en dat Booysen se paspoort aan hom teruggegee word, ʼn versoek wat sy regsverteenwoordiger al maande lank rig.

Booysen saam met ander lede van die Cato Manor-eenheid. Foto: ANA

Dit is nog nie duidelik of lede van die groep nou individueel aangekla sal word nie. Dié besluit berus nou by adv. Elaine Zungu, waarnemende direkteur van openbare vervolgings in KwaZulu-Natal.

Die voormalige waarnemende nasionale direkteur van openbare vervolgings, adv. Nomgcobo Jiba, en die voormalige nasionale direkteur van openbare vervolgings, adv. Shaun Abrahams, het onderskeidelik op 17 Augustus 2012 en 16 Februarie 2016 magtiging verleen vir vervolging.

Die Sunday Times het in Oktober verlede jaar ʼn verskoning uitgereik in verband met sy beriggewing oor Cato Manor se “moordbende”.

Bongani Siqoko, redakteur van die Sunday Times, het toegegee dat “iets iewers skeefgeloop het” in die proses van inligtinginsameling en verslaggewing in verband met die stories. Dit het geblyk dat van die Sunday Times se bronne glo self deur die Valke ondersoek is en dat van die foto’s van dooie verdagtes wat deur die koerant gepubliseer is, niks met Cato Manor te doen gehad het nie.

Booysen, wat intussen afgetree het en in die private sektor werk, het deurentyd volgehou dat die besluite om hom te vervolg polities gemotiveerd was.

Die besluit om vervolging te staak kom nadat adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolgings, verlede week aangekondig het die aanklagte van rampokkery word teruggetrek. Sy het egter gesê Zungu sal oor die ander aanklagtes besluit.

Drie van die Cato Manor-eenheid se lede is dood in die tyd wat die verhoor plaasgevind het. Die oorblywende lede wat nie afgetree het of bedank het nie, het hul werk in die polisie hervat nadat hulle tydens interne verhore onskuldig bevind is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Heksie ·

Meestal blanke lede … die eingstes wat seker nog weet hoe om hul werk te doen!!!!

Wat ‘n skande dat SAPS van hulle ontslae wou raak …

Piet parys ·

So en ek hoop hulle gaan nou die laat vervolg wat n heksejag op hulle los gelaat het maar in private hoedanigheid

KrokodilBotha ·

Ja, die bestes onder hulle word so behandel. Hoop hulle dagvaar sewe soorte waks uit almal wat hulle so behandel het. Defnitief politiek hier agter.

Zumie ·

Tyd vir ‘n eis teen die staat vir kwaadwillige vervolging.

BlinkStephaans ·

Ek sal nogal daarvan hou as iemand ñ som kan maak oor wat hierdie onsinnigheid die staat gekos het… en ek het ñ vermoede hulle het nognie klaar betaal… die eise kom nou. Weereens baie geluk aan elkeen wat ñ hand hierin het… julle is die ware vyand… nie die ouens wat nou na sewe jaar se tyd mors uit die hof stap.

Magda ·

Hoop julle gaan n Groot Eis instel teen almal wat julle lewe vir 7 jaar hel gemaak het -LOOI HULLE, ten minste gaan ons belasting betalers se geld na mense toe wat dit verdien.

Jerry ·

Geen geregtigheid wat seevier, kan ooit die skade wat aangerig was deur die doelbewuste kwaadwillige vervolging, regmaak nie. Wat ookal vorentoe met Jiba gaan gebeur (herontplooiing) is soos water onderdeur die brug vir diegene wie reeds deur sewe jaar van hel is. Opposisie partye en organisasies moet ophou om net doodeenvoudig soos die SAPD op alles te reageer vir geregtigheid en eerder voorsorg tref deur maatreels in plek te kry wat manipulasie van stelsels vroegtydig kan identifiseer om sodoende te kan verhoed dat toekomstige kwaadwillige vervolgings ingestel kan word. Opposisie partye se skadu kabinette gaan waaragtigwaar hulle kant moet begin bring! Dit is net soos staatskaping fase1 wat voor opposisie partye en organisasies se oe plaasgevind het sonder dat hulle besef het van wat die ANC nou eintlik mee besig was. Al waartoe opposisie partye en organisasies instaat was om te doen, was om te reageer nadat die skade reeds aangerig was! Dit is totaal en al verbysterend om na alles wat al gebeur het en die lesse wat veronderstel was om daaruit geleer te word, te moet sien hoedat die opposisie partye in die parlement sit en toekyk hoe staatskaping fase1 se skade herstel word deur nog groter skade wat deur staatskaping fase2 aangerig word. Hou op om die toneelspel van die kommissies gade te slaan en daarop te reageer en begin eerder om agter die kap van die byl te kom en verhoed die ANC om verder woer woer met julle te speel!

Andreas ·

Dit laat my dink aan die VF Plus se veldtog Slaan Terug! Hy moet maar dieselfde doen en as ek die berigte lees, is dit presiés wat hy gaan doen.

Jerry ·

Daar is n gesegde van die Engelse wat Suid Afrikaners maar gerus ter harte kan begin neem, “prevention is better than cure”! Booysen kan maar terugslaan, maar die skade wat gedoen moes word, is gedoen. n Boer wat vermoor word kan nie terugslaan nie. Aanvalle moes daarom ten alle koste verhoed word, maar dit het nie gebeur nie, want iemand het besluit dat boere nie eerste moet slaan nie, maar moet wag om terug te slaan! Soos ouboet altyd se, lekker stupid!

aj ·

Gewetenlose karakter moord is onmenslik, boos, satanies!

Die bende karakter ‘moordenaars’ is uiters gevaarlik en die gemeenskap behoort teen hulle beskerm te word.

Verwyder hulle (permanent) uit die samelewing?

ES ·

Dit klink vir my of die Sunday Times skuldig bevind moet word vir swak en valse verslaggewing wat daartoe gelei het dat die staat onnodige geld moes bestee om mense te vervolg wat waarskynlik niks verkeerd gedoen het nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.