Alle paaie in suide van Krugerwildtuin gesluit

Nwaswitshaka-laagwaterbrug (Foto: SANParke Krugerwildtuin)

Swaar reën in die Krugerwildtuin het reeds daartoe gelei dat verskillende kampe ontruim moes word, en alle paaie in die suide van die wildtuin Sondag is gesluit.

SANParke het in ʼn plasing op sosiale media gesê riviervlakke styg vinnig en gaste word gemaan om eerder binnenshuis te bly. Rampbestuurspanne is op hoë gereedheidsgrondslag geplaas.

Die pad van Phabeni na Skukuza was Sondagmiddag vroeg nog oop, maar spanne hou ʼn ogie op die Nwaswitshaka-laagwaterbrug aangesien dié rivier se vlakke ook bly styg.

Slegs een laan van die N4 in die Laeveld was Sondag oop ná twee vragmotors by die Waterval-Boventonnel op rotsstortings beland het. Volgens SANParke is daar ook rots- en grondstortings by Schoemanskloof en De Beersnek.

“Die enigste pad uit Nelspruit in die rigting van Middelburg en Gauteng is dus via Badplaas, Carolina en ʼn aansluiting met die N4 by Wonderfontein. Van die Krugerhek af, moet motoriste van Sabie, Longtompas en Lydenburg-pad gebruik maak.”

Toeriste met besprekings by Skukuza word gemaan om SANParke te kontak by 076 801 9679 of 013 735 0197 vir bystand. Indien die situasie verbeter, sal persone na en van die lughawe via die Shalatibrug hanteer kan word.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het vroeër aangedui dat verskeie dele van die Krugerwildtuin nog reën kan verwag tot Vrydag, 17 Februarie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.