Ambulans gekaap; paramedici ontvoer, vasgebind

Die gekaapte ambulans in Nellmapius. (Foto: Verskaf)

’n Ambulans van die Gautengse nooddienste is Saterdag in die vroeë oggendure in Nellmapius, oos van Pretoria, gekaap. Twee paramedici is tydens die voorval na ’n skuiling in die bosse naby die Pienaarsrivier geneem en vasgebind.

JP von Benecke, adjunkdirekteur van die Gautengse nooddienste, sê ’n ambulans van die Gautengse nooddienste se basis in Mamelodi is omstreeks 02:25 na ’n huisadres in Nellmapius ontbied nadat ’n man (48) ineengestort het.

Twee paramedici het op dié noodoproep reageer. Terwyl hulle na die huisadres in die omgewing gesoek het, het twee mans die ambulans voorgekeer. Die mans het aanvanklik ’n gesprek met die twee paramedici gevoer voordat hulle skielik vuurwapens op die paramedici gerig het.

Die kapers én nog twee makkers het met die twee paramedici en die ambulans na ’n onbekende bestemming gery waar die paramedici met hul aankoms na ’n skuiling in die bosse naby die Pienaarsrivier geneem is. Die paramedici is hier vasgebind voordat die kapers hul selfone by hulle afgeneem en vir hul bankbesonderhede gevra het, sê kol. Dimakatso Nevhuhulwi, woordvoerder van die polisie.

Die gekaapte ambulans in Nellmapius. (Foto: Verskaf)

Die kapers het eindelik met die ambulans op die vlug geslaan en die twee paramedici in die skuiling agtergelaat.

Een van die paramedici kon daarin slaag om los te wikkel en die twee het hulp ontbied.

Die ambulans is later met behulp van ’n opsporingstelsel verlate in CT Spursstraat in Nellmapius gevind. Daar was egter geen teken van die kapers nie.

Von Benecke sê die twee paramedici het geringe skrape en kneusplekke tydens die voorval opgedoen, maar is erg getraumatiseer en sal traumaberading moet ontvang. Die nodige reëlings daarvoor sal binnekort getref word.

Nevhuhulwi sê die polisie ondersoek ’n saak van kaping en ontvoering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Di ·

Het nie meer woorde oor nie! Hierdie land is letterlik in die “glorie” in. Meer KRIMINELE as wetsgehoorsame burgers in hierdie hool

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.