ANC-bates dalk gevat oor R102 miljoen-rekening

Die ANC skuld die maatskappy miljoene rande vir verkiesingsmateriaal. (Foto: IshaanHaffejee/GroundUp)

Deur Tania Broughton, GroundUp

Vier jaar nadat ʼn KwaZulu-Natalse bemarkingsmaatskappy ʼn R102 miljoen-kontrak gekry het om verkiesingsbaniere en -plakkate aan die ANC te lewer, is hy nog nie ʼn sent daarvoor betaal nie.

Die regerende party het appèl op appèl ingedien in ʼn poging om hofbevele, dat hy Ezulweni Investments moet betaal, ter syde te laat stel.

Die ANC se jongste aansoek in die appèlhof het nou verval omdat hy nie betyds hofstukke ingedien het nie.

In korrespondensie met Moroka Prokureurs, wat vir die ANC optree, sê die registrateur van die appèlhof, CL de Wee: “Die betooghoofde moes teen 28 Maart 2023 ingedien word. Tot dusver het ons dit nie ontvang nie en die appèl het dus verstryk.”

Shafique Sarlie, wat Ezulweni verteenwoordig, sê hulle het nou die Johannesburgse hooggeregshof gevra vir ʼn lasbrief vir beslaglegging. Dit sal na verwagting binne dae toegestaan word.

Die lasbrief sal die balju die mag gee om alle los items tot die waarde van R102 465 000 uit Luthuli-huis, die ANC se hoofkantoor, te verwyder en dit op ʼn openbare veiling te verkoop. Sarlie sê as die skuld nie op hierdie manier ingevorder kan word nie, sal hulle met ʼn likwidasieproses teen die party begin.

“Dit is nog nie tevore gedoen nie, maar hul optrede is onredelik. My kliënt sukkel om kop bo water te hou en salarisse te betaal.”

Die stappe kom ná twee vorige hofuitsprake in Ezulweni se guns. Die een was al in September 2020 en die ander was ʼn appèl wat aangehoor is deur ʼn volbank regters in die Johannesburgse hooggeregshof in Junie verlede jaar.

In hul uitspraak sê die drie regters die ANC se verweer is “vergesog”.

Regter Leicester Adams, wat die uitspraak geskryf het, sê op grond van die beskikbare getuienis is die ANC aanspreeklik vir betaling van die skuld op grond van ʼn mondelinge ooreenkoms.

Die ANC het hom probeer distansieer van hierdie ooreenkoms en het aangevoer die twee amptenare wat met die hoof van Ezulweni, Renash Ramdas, onderhandel het, het nie die mag gehad om dit te doen nie.

Die regter het gesê die feite is gestaaf deur onbetwiste WhatsApp-boodskappe wat tussen 29 April en 6 Mei 2019 gestuur is, en waarin terugvoer oor vordering met die projek gegee word.

Op ʼn groep genaamd “ANC 2019” gee Ramdas deurlopend terugvoer oor die bestelling van die baniere en plakkate. Hy het ook foto’s daarvan, voor en ná dit opgesit is, gedeel. Hy sê in een van die boodskappe dat 100 spanne die materiaal sal aanbring.

Ramdas voer aan ʼn mnr. Mabaso, die ANC se finansiële bestuurder, het hom weer aan ʼn mnr. Nkholise voorgestel. Hy was die persoon verantwoordelik vir verkryging namens die party vir die duur van die verkiesingsveldtog.

Omdat dit so ʼn groot bedrag beloop het, het Ezulweni in Maart van daardie jaar egter versekering by die ANC gesoek dat die kontrak wel geldig is.

Ramdas sê die party het hom voorsien van ʼn brief, op ʼn ANC-briefhoof, wat geteken is deur ANC-verkiesingshoof Fikile Mbalula. Dit is geadresseer aan die ANC se tesourier-generaal, Paul Mashatile. Daarin bevestig Mbalula dat “kameraad Lebohang Nkholise aangewys is as die ondertekenaar vir besprekings en geld vir die duur van die verkiesingsveldtog”.

Adams sê die brief, “en nog belangriker” die feit dat dit aan Ezulweni verskaf is, word nie deur die ANC betwis nie. Dit word ook nie betwis dat Ezulweni in April twee fakture aan Nkholise gestuur het nie.

Die ANC beweer die brief is voorberei deur Nkholise wat Mbalula se handtekening “elektronies” daarop aangebring het.

“Die idee was, só beweer Mabaso, dat die brief in een of ander stadium aan Mbalula vir bevestiging gegee sou word. Dit het oënskynlik nooit gebeur nie. Dit beteken dus, aldus die weergawe van die ANC, dat die bestelling en die inhoud van die brief nooit bevestig of goedgekeur is nie,” het regter Adams gesê.

Die regters sê egter hierdie weergawe is onwaarskynlik, vergesog en moet verwerp word.

Adams sê voorts daar kan met vertroue gesê word dat die optrede van die partye, veral dié van die ANC, die gevolgtrekking staaf dat daar ʼn ooreenkoms was en dat die ANC se weergawe nie water hou nie.

Die drie regters het gevolglik die ANC se versoek om verlof tot appèl (dat hy moet betaal) van die hand gewys, maar wel spesiale verlof tot appèl toegestaan.

Amos Phago, die ANC se woordvoerder, het nie op boodskappe met versoeke vir kommentaar gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Heinrich ·

Dis nou die president van die land wat baas staan oor hierdie party wat in die howe baklei om nie hulle finansiële verpligtinge hoef na te kom nie…dit verduidelik baie.

Theunis ·

Ongeag enige feite en verwysings omtrent die skrywe moet die werklikheid van die aangeleentheid besef en gekommunikeer word aan ALLE Suid Afrikaners en die buite wêreld : Dit is dieselfde ANC wat tans in beheer van die land is, so ook ons toekoms. Enige persoon wat nie hieroor bekommerd is moet hulself die vraag vra, wat mis ek?

Sobymykoolkop ·

Waar kry die kabaal van die anc dan die geld om Rusland toe te gaan. As die Russe betaal gaan hulle iewers hulle pond vleis eis. Of anders gaan ons, die belastingbetaler op een of ander onderduimse manier daarvoor betaal, sakgeld ingesluit.

Renier ·

Gaan die ANC dieselfde truuk probeer by IMF, wereld bank en die Chinese?

Herman L ·

Kom ons hoop dat die beslaglegging ‘n positiewe uitwerking op aanstaande jaar se verkiesing sal meebring. Baie hulpbronne is nodig om ‘n verkiesing te wen. Miskien sal genoeg stemgeregtigdes nou sien deur wie ons land tans regeer word. Hulle kan nie hulle personeel en ook nie hulle krediteure betaal nie. Daar is egter altyd die moontlikheid dat die staatskas op een of ander manier sal help. Kom ons hoop dat dit nie gebeur nie.

Sê maar net ·

So gemaak en so gelaat staan.
Hulle kan daai geld op hul magies skryf en met hul hempies afvee. ANC staan vir niks en niemand pa nie, nie eens hul eie skuld nie.
Verkoop hul goed op ‘n veiling….êrens moet hulle vasgevat word. A nee a!

Casper ·

Ramptoestand oor krag en toe eskom kwytskelding,wonder maar net.

Mariana ·

Wou dit seker verniet hê en nou weier hulle om te betaal. So tipies

Anel ·

En volgende jaar wil hulle weer plakate hê. Wonder wie gaan dit dan lewer? Sê maar verder niks.

annie ·

Dalk… Maak nie saak hoeveel regters betrokke is nie. Die ANC regeer. Punt!

Wondermaarnet ·

Elke verskoning in die boek sal nou gebruik word hoekom hulle nie betaal het nie. As jy nie eers salarisse kan betaal nie, hoe gaan jy jou krediteure betaal? Vrotsig verby. Hoop dit is ‘n BEE maatskappy wat nou hul les geleer het om nie sake met die ANC te doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.