ANC-burgemeester geskors oor ‘boesman’-uitlating

‘n Skermgreep wat wys hoe Nkosinjane Speelman lede van die weermag toespreek.

Die ANC het ʼn burgemeester van die Vrystaat tydelik geskors, nadat ʼn video aan die lig gekom het waarin hy na ʼn bruin gemeenskap buite Welkom as “boesmans” verwys.

Die DA het Woensdag gedreig om ʼn klag by die Menseregtekommissie in te dien teen die burgemeester van die Matjhabeng-munisipaliteit (Welkom) op die Vrystaatse goudveld, nadat hy glo rassistiese uitlatings oor bruin Suid-Afrikaners gemaak het, asook xenofobiese opmerkings teen Nigeriërs en Pakistani’s.

Die burgemeester, Nkosinjane Speelman, het ʼn groep weermaglede by ʼn polisiestasie toegespreek voor hul ontplooiing kragtens die ramptoestand wat tans in die land geld. ʼn Video van die toespraak is op sosiale media gedeel.

Onder luide gelag van homself en die weermaglede verwys hy na die inwoners van Bronville, wat in die apartheidsjare die bruin woonbuurt van Welkom was en steeds deur baie bruin mense bewoon word, as “boesmans”. In die video kan gehoor word hoe Speelman sê, “jy weet mos, party van die boesman hy kuier” [sic].

Lede van die polisie en weermag op patrollie tydens die staat van algehele afsondering. (Foto: SA Weermag/Twitter)

Hy vra ook dat die weermaglede sommer langer moet bly omdat hy “probleme het met mense wat nie Suid-Afrikaners is nie” en verwys dan by name na mense wat in Nigerië en Pakistan gebore is.

Speelman sluit dan sy spreekbeurt af met ʼn versoek dat die weermaglede enigiemand wat die rampmaatreëls oortree, moet “skop en d*nner”.

Dit is regstreeks in stryd met pres. Cyril Ramaphosa se opdrag om so min moontlik geweld teen landsburgers te gebruik.

“Beamptes van die ANC het byeengekom en die rassistiese en betreurenswaardige uitsprake van die burgemeester van die Matjhabeng-munisipaliteit, Nkosinjane Speelman, bespreek. Die uitsprake was onnodig en verteenwoordig nie die ANC se siening oor bruin mense in hierdie land nie,” sê Paseka Nompondo, provinsiale sekretaris van die ANC in die Vrystaat.

“Daarom het ons besluit om Speelman tydelik as lid van die ANC én as politieke verteenwoordiger van die party te skors,” sê Nompondo.

Die leier van die DA in die Vrystaat, Patricia Kopane, het gesê die DA verwerp die rassisme, xenofobie en aanhitsing tot geweld waaraan Speelman hom skuldig gemaak het in die sterks moontlike taal, en sal sorg dat hy aan die pen ry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Scalla ·

Sal graag wil sien hoe hul die saak gaan hanteer en bevindinge na aanleiding van vorige gevalle.

Michael 1 ·

Het hy die B woord gebruik die stouter hoe belaglik is hierdie nie.

netekalleen ·

Nou wat is die polities korrekte term? Want binnekort gaan bruin of swart mense ook rasisties wees.

Jaco ·

Ek wil net graag weet wat is die ANC se amptelike beleid teenoor kleurlinge dan, want ek weet van baie gevalle waar kleurlinge werk geweier is met as redes:
You are not black enough
En
Ons personeel samestelling moet die nasionale demografies weerspieël
By party van dié sake was selfs Solidariteit betrokke

Johan ·

Hoekom word hy nie soos Vicky behandel nie, is dit omdat hy ANC is

Michael 1 ·

Ek het nie geweet die woord is diskriminerend nie wat nou van die kalahari boesmans wat word hulle nou genoem.

HESM ·

Sekerlik die swakste burgemeester wat ons stad nog ooit gehad het.

Jaco ·

ek hou nie van sy houding teenoor kleurlinge nie, maar kan die man asseblief die res van sy ANC aanmoedig om dieselfde houding as hy teenoor onwettige buitelanders in SA te he?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.