ANC-ineenstorting wink dalk in 2024

(Argieffoto: Megan Swart/Maroela Media)

Die volgende verkiesing is oor twee jaar en volgens ʼn onlangse meningspeiling lyk dit of die ANC hom nou vierkant in die “minder as 50% van die stemme”-kategorie bevind.

Dit is egter nie net die regerende party vir wie ʼn opdraande stryd voorlê nie; alle ander politieke partye gaan moet uithaal en wys om kiesers te oortuig om hul kruisies in 2024 langs hul name te gaan trek.

Ipsos se navorsing is verteenwoordigend van alle stemgeregtigde kiesers – nagenoeg 40 miljoen mense – maar diegene wat geregistreer is om te stem, is ʼn veel kleiner groep van tussen 27 miljoen en 28 miljoen Suid-Afrikaners.

Hoewel die opname dus as ʼn aanduiding van die huidige politieke gevoel gesien kan word, moet dit glad nie beskou word as ʼn voorspelling vir die toekoms nie, sê Ipsos.

Die ANC sal steeds los voor wees indien kiesers môre hul kruisies moes gaan trek.

Mari Harris, direkteur van Ipsos Suid-Afrika, sê sy sou verbaas wees indien die ANC in 2024 meer as 50% van stemme in die nasionale verkiesing op hom verenig.

“Steun vir die ANC landwyd is laer as voor die plaaslikeregeringsverkiesing in November verlede jaar. Dit dui daarop dat die nuwe rade nie ʼn verskil gemaak het nie,” sê Harris.

Ander politieke partye het klaarblyklik nie juis die stemme by die ANC afgerokkel nie.

Luidens Ipsos se peiling lyk dit of die EFF op 9% vasgehaak het. ActionSA, wat eintlik maar onlangs deur sakemagnaat Herman Mashaba op die been gebring is, se steun staan volgens die peiling op 3%. Die party het veral goed gevaar in Johannesburg, maar woeker die afgelope ruk om landwyd strukture op die been te bring om ook elders stemme op die party te verenig.

Volgens die meningspeiling is moontlike steun vir die ANC vyf persentasiepunte laer as die 42% wat op die stembrief aangedui word. Dit wys dat ʼn groep ANC-kiesers vir die party stem omdat hulle meen dat hulle geen ander opsie het nie.

“Dit skep ʼn ander dilemma vir die ANC wanneer dit met dié van opposisiepartye vergelyk word: hoe oortuig hulle kiesers om die party weer te steun en op te daag om te gaan stem,” sê Harris.

Wanneer daar gekyk word na diegene wat “beslis” of “dalk” vir ʼn party sal stem, is daar egter heelwat moontlike steun vir alle politieke partye – behalwe die ANC.

Die uitslae behoort as aansporing vir alle opposisiepartye te dien omdat hul boodskappe moontlik veel meer aanklank by kiesers vind as wanneer hulle gevra word om bloot “ja” of “nee” te antwoord oor of hulle vir ʼn bepaalde party sal stem.

Die vraag is egter hoe politieke partye hierdie borrelende steun in stemme kan omskakel.

“As ʼn opposisie- politieke party, moet jy bewys dat jy ʼn geloofwaardige alternatief is, sonder om oor alles te kla wat die regering doen of nie doen nie. Gee aan kiesers ʼn werkbare alternatief en wees ʼn ander opsie. ʼn Politieke party moet ʼn positiewe mag wees, dit lok steun,” sê Harris.

Dawie Scholtz, ʼn verkiesingsontleder, sê in reaksie indien die syfers aangepas word vir almal in die meningspeiling wat nie gaan stem nie, lyk die syfers heel anders.

Dit plaas die ANC op 49%, die DA op 13%, die EFF op 10%, ActionSA op 3% en diegene wat nie kan besluit nie, op 14%.

Scholtz sê op sigwaarde lyk dit of die ANC ver van die 50%-kerf af is, maar dat die alternatiewe berekening die regerende party veel nader aan 50% plaas terwyl talle kiesers nog nie ʼn besluit geneem het nie.

Rapport het die afgelope naweek berig luidens ʼn vertroulike landwye peiling geniet die ANC slegs 38% van kiesersteun, heelwat minder as die 46% van stemme wat die regerende party in November verlede jaar op hom kon verenig.

Luidens die berig is die meeste opposisiepartye volgens die peiling egter besig om te groei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Waarnemer ·

Bevolkings gewys hoeveel blankes teenoor nie blankes is in SA?Wit teen swart?So ha;tensy die DA n haas uit n hoed trek sal fie uitxlag nie juis verbasend wees nie.

Esme ·

My ondervinding van die DA is dat hulle nie werklik ‘n Opposisie Party is nie. Hulle wil niemand te na kom nie en gevolglik swyg hulle oor korrupsie, staatskaping en selfs teen die Regering se beleid oor Covid 19.

Cate ·

Regering moet net op 2 partye besluit vir hele land soos in die verlede

Cherokee ·

Lei af jy praat van die Natte en Sappe.
As daar op net 2 partye besluit word, moet dit Vryheidsfront en Vryheidsfront wees.

De Villiers ·

Ek dink die ANC gaan meer as 60% van die stem kry in 2024.

Gaitsigubib ·

De Villiers ek wens die afmerkers wou verder verduidelik. Ek skat die ANC gaan so 55% kry (al moet hulle knoei om dit te kry), maar my naam is nie Siener v Rensburg nie. As die ANC begin verloor gaan dit nie noodwendig goeie dinge voorspel nie – Ek het gesien wat gebeur in Zim toe die MDC begin wen teen Zanu PF.

JohanR ·

Agh laat die gebeure asseblief tog! Die gouer wat hulle @Voertsak te beter vir die land.

Manie ·

Ek steur my nie veel aan hierdie vroeë peilings nie, dinge verander baie op stemdag.

Swerwer ·

Solank die Anc en EFF heuning om die monde smeer en lëe beloftes maak sal hul landgenote vir hul stem. Wanneer die klomp wakker skrik gaan dit in elk geval te laat wees.

Koos 100 ·

Kyk wat gebeur in Kenia. Dink julle vir een oomblik die ANC sal vrywillig die mag oorgee????

Swerwer ·

Nope, waar gehasie. ‘n Ou Burgeroorloggie is al wat hierdie geharde Kommuniste sal laat steier

domheks ·

Ons weet wat ons nou het – maar weet nie wie/wat ons gaan kry nie!

annie ·

Moenie te veel hoop op die ANC se val nie. Mens raai eerder dat die ander meer aggressiewe faksie van die ANC gaan oorneem en dit kan dalk al sommer teen Desember gebeur.

Jannie van Niekerk ·

Hiep hiep Hoera!
Hier kom ‘n beter Suid Afrika!

Esme ·

Ipsos maak die voorspellings en die ANC deel t-hemde uit – die uiteinde van die saak is ‘n meerderheid stem vir die ANC want Suid-Afrikaners kry swaar en die geringste uitreiking van iets bruikbaars gee die deurslag.
Enige party wat werkskepping voorop stel, staan ‘n kans om teen die ANC op te staan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.