ANC kyk weer op sy neus oor skuld vir baniere

(Argieffoto)

Die ANC se pogings om ʼn betaling van meer as R102 miljoen aan ʼn bemarkingsmaatskappy te ontduik vir baniere wat hy vir die regerende party gemaak het vir die 2019-verkiesing, het weereens misluk.

Die appèlhof in Bloemfontein het Vrydag die ANC se appèl met koste van die hand gewys. Die regerende party het appèl op appèl ingedien in ʼn poging om hofbevele dat hy Ezulweni Investments moet betaal, ter syde te laat stel.

Die algehele bedrag, met rente en regskoste, beloop nou al R102 465 000.

Volgens Ezulweni het die ANC ʼn kontrak met hom gesluit vir die verskaffing, plasing en verwydering van baniere vir sy 2019-verkiesingsveldtog.

Die ANC ontken dat enige sodanige ooreenkoms gesluit is. Die ANC het eerstens aangevoer dat daar feitelike geskille was en dat die twee amptenare wat na bewering die kontrak gesluit het, nie die magtiging gehad het om dit te doen nie.

Die appèlhof het egter bevind dat die ANC nie bona fide feitegeskille geopper het nie en dat een van die twee betrokke amptenare uitdruklik deur die ANC gemagtig is om kontrakte met betrekking tot verkiesingsaangeleenthede te sluit.

ʼn Beslagleggingsbevel is vroeër uitgereik om dié bedrag te verhaal, onder meer vir die beslaglegging van roerende bates by Luthuli-huis, die ANC se hoofkantoor.

Die ANC het gesê hy neem kennis van die uitspraak. “Ons regspan bestudeer die uitspraak en sal ons raad gee oor die gepaste stappe wat gedoen kan word. Verdere reaksie op die aangeleentheid sal oorweeg word, gegewe die raad wat die ANC se regspan verskaf,” lui die party se verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.