ANC-leierstryd al vuiler en openliker

ANC-se-vlag-deur-ANA

Foto: ANA

Die magstryd in die ANC het ‘n openlike oorlog geword wat waarskynlik minstens die volgende jaar lank gaan voortwoed, en dit is niks minder nie as ‘n stryd om beheer van die land se regering, die veiligheidsmagte en die land se belastinggeld.

Die afgelope naweek het ongekende openlike verdeeldheid binne die regerende party se topstruktuur openbaar en dit lyk nou na ‘n absoluut uitgemaakte saak dat Ramaphosa se teenstanders gaan probeer om hom middel 2020 tydens die party se nasionale uitvoerende raad (NGC) te ontsetel.

Die NGC vind halfpad tussen die ANC se nasionale konferensies plaas. Dit het omtrent die helfte van die getal afgevaardigdes as die nasionale konferensie, maar die struktuur is dieselfde – sowat 90% van die afgevaardigdes kom van ANC-takke.

Die doel van die NGC is eintlik om te meet hoe daar gevorder word met die implementering van die partybeleid wat tydens die vorige nasionale konferensie, in hierdie geval Nasrec 2017, aanvaar is.

Ramaphosa se teenstanders – en by name die ANC-streek met die meeste lede naamlik die eThekwini-streek in Durban – het reeds openlik verklaar dat hulle by aanstaande jaar se NGC ‘n mosie van wantroue in hom gaan stel, met dien verstande dat hy sal moet bedank as die mosie deur die meerderheid afgevaardigdes gesteun word.

Hoewel geen NGC al ooit gebruik is om ‘n ANC-leier te ontsetel nie, en Ramaphosa-ondersteuners soos die KwaZulu-Natalse premier, Sihle Zikalala, reeds gesê het die NGC het nie die mag om die ANC-leier te ontsetel nie, sal Ramaphosa prakties alle geloofwaardigheid kwyt wees as hy so ‘n mosie verloor.

Die afgelope week het Ramaphosa se teenstanders baie meer openlik van hulle laat hoor. Eers was daar pres. Jacob Zuma se getuienis voor die Zondo-kommissie oor staatskaping, waar hy verskeie Ramaphosa-ondersteuners probeer sink het in die ANC deur onder meer te beweer dat hy, as hoof van die ANC se intelligensiedienste tydens die gewapende stryd teen apartheid, oor inligting beskik dat verskeie van hulle spioene vir die apartheidstaat was.

Boonop het Zuma die integriteit van die Zondo-kommissie openlik aangeval, en so die weg voorberei vir ‘n massiewe terugvegpoging deur huidige en gewese ANC-magshebbers wat deur die kommissie as staatskapers uitgewys en dus vervolg sal moet word.

Diegene wat ‘n sterk kans het om deur so ‘n bevinding die tronkdeure te sien oopswaai, sal letterlik enigiets doen om dit te verhoed – en sulke desperate mense is gevaarlik.

Dit is daarom geen verrassing nie dat die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, dadelik gesê het Zuma se bewerings van apartheidspioenasie (en dus verraad teen die ANC) moet uiters ernstig opgeneem word. Magashule het verder te gaan deur die Ramaphosa-vennoot oudminister Derek Hanekom (wat steeds ‘n NUK-lid is) van ANC-verraad te beskuldig nadat die EFF-leier, Julius Malema, onthul het dat Hanekom in 2017 saam met die EFF beplan het hoe om ANC-lede te kry om ‘n opposisiemosie van wantroue in Zuma te steun toe dit voor die Nasionale Vergadering gedien het.

Die EFF se rol in die huidige ANC-binnegevegte is interessant. Die EFF is heeltemal gekant teen Zuma en sy kornuite soos Magashule en oudministers Bathabile Dlamini, Nomvula Mokonyane, Faith Muthambi, Mosebenzi Zwane en dies meer gekant, maar is ewe vyandig teenoor Gordhan, Hanekom en verskeie Ramaphosa-ondersteuners, om verskillende redes.

As opposisieparty is die EFF in elk geval daarop uit om die ANC te verdeel, te verswak en uiteindelik te ontsetel. Dit kry hulle tans uitstekend reg, veral omdat hulle so goed ingelig is oor verskillende geraamtes in die ANC-kas.

Ramaphosa se teenstanders is voorts kennelik aangevuur deur die ernstige bevindings wat die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, teen Ramaphosa gemaak het. Die hooggeregshof neem tans daardie bevinding op hersiening. Daardie hofbeslissing is die belangrikste in jare. As Ramaphosa wen, sal Mkhwebane se kanse om deur die Nasionale Vergadering afgedank te word, baie versterk. Maar as Ramaphosa verloor en die hof bevind Mkhwebane is reg, gaan Ramaphosa bitter moeilik as president kan voortgaan.

Op die NUK-vergadering die naweek het adjunkminister Thandi Mahambehlala, ʼn uitgesproke Zuma-ondersteuner, Ramaphosa openlik aangeval omdat hy nie vir die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, dadelik van sy pligte onthef het nadat Mkhwebane onlangs ernstige bevindings teen Gordhan gemaak het nie.

Mahambehlala het uitgewys dat hy oudministers Gigaba en Mokonyane dadelik uit hul kabinetsposte gehaal het toe die Openbare Beskermer teen hulle bevind het.

Ramaphosa-ondersteuners het teruggeslaan deur uit te wys dat die Gordhan-bevinding op hersiening is. Die Ramaphosa-kamp het dan ook vandag ‘n klinkende oorwinning behaal toe die Noord-Gautengse hooggeregshof beslis het Mkhwebane se Gordhan-bevindings is nie geldig tot die hersiening voor die hof afgehandel is nie.

Ramaphosa se meerderheid in die ANC se topses-leierskap het tot nog ‘n groot oorwinning vir sy kamp gelei toe die topses besluit het Magashule mag voortaan geen openbare uitsprake oor ANC-kwessies maak tensy die topses dit goedgekeur het nie.

Ramaphosa sal egter weet hy het daardie meerderheid net te danke aan die steun van adjpres. David Mabuza, wat al dikwels in die verlede gewys het hy is nie skaam om in politieke eiebelang op te tree nie.

Mabuza het in ‘n ongewone stap twee weke gelede tydens die parlementêre debat oor die presidensie se begrotingsrede ‘n innige en emosionele belydenis van sy onveranderlike steun en bewondering vir Ramaphosa uitgespreek.

As mens vir Mabuza kan glo sal dit ‘n blokstem uit Mpumalanga vir Ramaphosa verseker en sy teenstaanders se taak ontsettend bemoeilik. Maar Ramaphosa en sy binnekring sal weet dat Mabuza die meeste onmiddellike politieke wins te maak het uit ‘n mosie van wantroue in Ramaphosa. As daardie wantrouemosie slaag sal Mabuza kan oorneem as ANC-leier en waarskynlik as president.

Die Ramaphosa-mense sal dus hoop Mabuza verander nie weer van lojaliteit nie.

Tydens die NUK het Ramaphosa in sy leierstoespraak ‘n kwalik bedekte hou na Zuma – wat reg voor hom in die gehoor gesit het – gegee. Hy het ook gesê dat hy weet sy teenstanders gaan poog om hom by die NGC te ontsetel, maar hy is gereed vir hulle.

Ramaphosa en sy binnekring sal weet hulle is in vir ‘n vuil en moontlik korrupte stryd. Mense wat deur staatskaping fortuine gemaak het wat hulle nou kan verloor, sal sekerlik baie geld bydra in die hoop dat hulle uit die tronk sal kan bly indien Ramaphosa verdwyn.

Ramaphosa se span sal voorts moet verreken dat baie van die Zuma-kamp se sterkste organiseerders – soos Zuma self, Bathabile Dlamini. Supra Mahumapelo en Nomvula Mokonyane, om maar ‘n paar te noem – min verantwoordelikhede en baie tyd het om op grondvlak te organiseer terwyl baie van Ramaphosa se staatmakers minder tyd vir organisasie het omdat landsbestuur hulle besig hou.

Een ding is seker: die vuilste ANC-stryd sedert 2007 lê voor, en as Ramaphosa wil wen, sal hy alles moet insit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Stand for change ·

Die magsbehepte mense dink net aan hulself. Die land en volk beteken vir hierdie korruptes net mooi niks.

Johanna Botha ·

Kan nie wag vir die IMF lening sodat al die nonsence net kan STOP !

Pieter ·

Dit is al waar oor dit nog altyd gegaan het oor ons belasting geld en niks anders nie dit is hoekom als in duie stort want hulle weet ons betaal mos getrou ons belasting dit het tyd geword dat die koeie se melk op droog soos in zimbabwe laat ons sien wat gaan hulle doen

Grompie ·

Tipies regte ou afrika.Hier sal dit nog gaan soos in Rwanda twee faksies.Zimbabwe twee faksies.Reg deur afrika want afrika is nog nie gereed vir demokrasie.Dit is n realiteit en n feit.Om mag te kan hanteer verg n diepe insig en wysheid , Afrika demokrasie is onderdrukking en om die armes te misbruik vir politieke mag want hulle gee mense n valse hoop met valse beloftes.Stemgeregtes pluk die vrug van stemmery.

Elna ·

Al waarvoor ons nou kan bid is dat iemand soos Trump sal toeslaan op SA en ons red uit die helool uit. Wonderwerke gebeur nog steeds ons moet net hoop glo en vertrou dis al. Anc gaan alles nog verder vernietig tot daar niks meer oor is nie en dan weet ek nie wat gaan dan gebeur nie.

Elna ·

Ons almal trek alreeds so swaar in hierdie land met die ANC in bewind
Wanneer gaan hulle die uitstaande gelde verhaal van Soweto wat miljarde aan Eskom skuld? Wanneer gaan die regering dit betaal vir Eskom? Alles tuimel net in mekaar in en die ANC voel net vir hulle self.

Vonkprop ·

‘n Sirkus het darem ‘n struktuur en het goed opgeleide mense. Hierdie is meer soos ‘n shebeen

Gert van Wierdapark ·

Klaarblyklik gaan die stryd gaan in wese dat die CR teenstanders die Soustrein nie wil verlaat, of laat spoed verloor nie. Die Triljoene onder die OBK is skynbaar die eerste prys in die Swart Monopolie speletjie wed-hard-loop!

marous ·

Dit gaan oor die paar krummels wat op die vloer gestrooi le . Drie kaalkoppe vreet
tesame ….

Christa ·

Dis nou n regering wat veronderstel is om respek AF te dwing. Wat n klomp onderkruipers en moeilikheidmakers. Lagwekkend

Kobus ·

Mabuza & Magashule & Zuma vennootskap gaan katastrofiese gevolge hê en sal die laaste doodsklok vir hierdie land wees.

Tom ·

Ken niemand meer van ons God nie? Waar is gebed?
Dankie tog dit bestaan nog onder alle Suid-Afrikaners, wit en swart. Dit sal die verskil maak.

Petrus ·

Kerke skeur te veel. Geloof gaan nou oor geld en gemaksug. Suid Afrikaners is alles behalwe godsdienstig. Sondae oggende is winkelsentrums besiger as kerke.

Kobus ·

Hier gaan ‘n burgeroorlog uitbreek tussen ANC faksies, met die EFF ook betrokke. Wittes gaan in die kruisvuur beland. Ten minste het die Suidlanders’n noodplan om hul lede te beskerm.

hercu ·

“Vir wat stry en baklei julle so? Wat is verkeerd? Is dit nie omdat elkeen altyd net aan homself dink nie? Kom dit nie van daardie gevoel dat net wat vir jou lekker of belangrik is, saak maak nie? Dit is maar hoe ons as mense is. Julle wil gedurig allerhande dinge hê. As julle dit nie kry nie, is die duiwel los. Dan wil julle sommer moord pleeg. Julle gaan omtrent dood van jaloesie omdat iemand anders dit het. Op dié manier kan julle dit natuurlik nie kry nie. Om te baklei en mekaar te wil vernietig gaan julle niks in die sak bring nie. Julle het nie al daardie dinge nie, omdat julle dit op die verkeerde manier wil kry. Hoekom vra julle nie ’n slag opreg vir God nie? Julle sê dalk: “Ja, ons bid tog, maar God gee nie vir ons wat ons vra nie.” Daar is ’n goeie rede voor: julle motiewe is verkeerd. Julle vra die goed van God sodat julle dit soos stout kinders net vir julleself kan hê. Dit gaan net om julleself en om niemand anders nie” – Jakobus 4:1‭-‬3 DB

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.