ANC-LP se moordsaak uitgestel

Sibusiso Kula saam met sy vrou Jennifer (Foto: Facebook)

Die ANC-parlementslid Sibusiso Kula (34) wat verdink word van die moord op sy vrou, se saak is in die Orkney-landdroshof tot 17 April 2023 uitgestel vir verdere ondersoek.

Kula se aansoek om borgtog is van die hand gewys en die Noordwes-hooggeregshof het ʼn kennisgewing vir 23 Maart 2023 uitgereik sodat Kula teen die besluit oor borgtog kan appelleer.

“Die eerste appèl oor die borgtoguitspraak is van die rol geskrap omdat sy aansoek nie volledig was nie,” sê Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag. Senior staatsadv. Benny Kalakgosi staan die aansoek teen.

ʼn Aansoek is by dr. Rachel Makhari, direkteur van openbare vervolging in Noordwes, ingedien sodat die saak na ʼn hoër hof geskuif moet word, weens die ernstige aard daarvan.

Volgens die polisie is Kula se vrou op 27 November 2022 dood aangetref ná ʼn oënskynlike rooftog. Sy het ʼn meswond in haar rug gehad, maar die voorwerp waarmee sy aangeval is, is nooit gevind nie. Die saak is deur die mediese fasiliteit aangemeld waarheen Kula haar vir mediese behandeling geneem het. Hy het aangevoer hy was nie by die huis toe die voorval gebeur het nie.

Ná ʼn ondersoek deur die polisie is Kula op 20 Januarie 2023 in hegtenis geneem op aanklag van moord. Die polisie se ondersoek duur voort en Kula bly intussen in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.