ANC moet R100 m. opdok vir 2019-verkiesingsplakkate

(Argieffoto: Rapitse Montsho/Flickr)

Deur Tania Broughton, GroundUp

Nege regters van drie verskillende howe het beslis dat ʼn KwaZulu-Natalse bemarkingsmaatskappy ʼn bindende kontrak met die ANC gehad het, en dat dié party die maatskappy nou miljoene rand skuld vir die verskaffing van verkiesingsbaniere voor die algemene verkiesing in 2019.

In ʼn eenparige besluit deur die Hoogste Hof van Appèl, het regter Trevor Gorven bevind die regerende party se weergawe dat hy geen kontrak met Ezulweni Investments gehad het nie, is “heeltemal onhoudbaar”.

“Die ANC se ontkenning oor die saak val in die kategorie van onkredietwaardige ontkennings wat ontwerp is om ʼn fiktiewe dispuut van feite te skep,” het die regter gesê.

Die hof het ook ʼn aansoek van die ANC geweier om verdere getuienis, in die vorm van ʼn forensiese verslag, tydens sy appèlaansoek in te dien.

Gorven het gesê die ANC het nie eens die volledige forensiese verslag oor die verkryging van die plakkate ingedien nie, maar net ʼn uitvoerende opsomming wat nie geteken of gedateer is nie.

Die verslag het glo melding gemaak van ʼn WhatsApp-boodskap waarin aangevoer word dat Ezulweni Investments en die ANC se verteenwoordigers “miljoene” uit die ooreenkoms kan maak.

Gorven het egter aangevoer dat dit nie as bewyse aangebied is toe die saak aanvanklik voor twee ander howe gebring is nie. Ezulweni het ook toegang tot die toestel, waarvan die boodskap glo gestuur is, versoek, maar dit is geweier. ʼn Kundige het boonop ook onbetwis getuig dat die boodskappe gewysig, geredigeer of vervals kan word.

Ezulweni het voorheen aansoek gedoen om beslag te lê op bates ter waarde van meer as R102 miljoen van die ANC nadat die party geweier het om dit te betaal ondanks twee uitsprake in die maatskappy se guns: Een wat in September 2020 gelewer is, en ʼn appèl wat deur ʼn volbank van die Johannesburgse hooggeregshof in Junie 2022 aangehoor is.

In dié appèluitspraak het drie regters gesê die ANC se verweer is “vergesog”.

Die ANC het aansoek gedoen om verlof om tot appèl, maar dit het verval.

Nadat Ezulweni die lasbrief van uitvoering bekom het, het die ANC die appèl, wat vroeg in November aangehoor en waarop Vrydag uitspraak gelewer is, weer ingestel.

Die jongste uitspraak het gehandel oor die ANC se standpunt dat daar geen mondelinge ooreenkoms tussen die twee amptenare was wat die ooreenkoms met Renash Ramdas, Ezulweni se uitvoerende hoof, beding het nie en as daar was, het die amptenare geen magtiging gehad om dit te doen nie.

Gorven het gesê Ramdas, wat homself beskryf as ʼn jarelange, lojale lid van die ANC, het tydens ʼn vergadering in Februarie 2014 die party se finansiële bestuurder en die destydse persoonlike assistent van Fikile Mbalula, wat aan die stuur van die verkiesingsveldtog was, ontmoet.

Dit was in daardie vergadering wat ʼn “mondelinge ooreenkoms” gesluit is vir die ontwerp, bestelling, druk en plasing van die baniere.

Ramdas het gesê hy was voortdurend in verbinding met die betrokke amptenare en het byna daagliks WhatsApp-boodskappe aan hulle gestuur, insluitend foto’s van die baniere. Hy het drie fakture vir R87 miljoen, R100 miljoen en sowat R2,4 miljoen gestuur.

In reaksie op een van die fakture het die amptenare ʼn dokument gestuur met die handtekening van Mbalula, gerig aan Paul Mashatile, waarin aangedui is dat een van die amptenare aangewys is as die ondertekenaar vir besprekings en geld vir die duur van die verkiesingsveldtog.

ʼn Foto van ʼn brief wat aan Mashatile gerig is, is ook gestuur. Dit het die handtekening van Mbalula gehad wat hulp met die betaling van die eerste faktuur versoek het.

Fakture nie betaal

Die fakture wat Ezulweni gestuur het, is egter nooit betaal nie.

Die ANC het aangevoer dat daar geen ooreenkoms was nie, daar vir Ramdas gesê is dat slegs Mashatile enige verkiesingsmateriaal kon magtig en dat Mashatile se handtekening elektronies deur een van die amptenare gebruik is.

Gorven het egter daarop gewys dat die ANC se weergawe van gebeure “ernstige tekortkominge” het.

Hy het bevraagteken waarom Ezulweni op sy eie koste verkiesingsmateriaal sou laat maak en waarom Ramdas voortdurend die twee ANC-amptenare op hoogte sou hou as daar geen kontrak was nie.

“Die ANC se weergawe is nie betroubaar nie, veral omdat van die kommunikasie met Ramdas nie eens deur die ANC betwis is nie. Die enigste geloofwaardige reaksie van ʼn entiteit in sy posisie, indien sy weergawe waar was, sou gewees het om die rekord dadelik reg te stel sodat Ezulweni nie met die bedrywighede voort sou gaan nie,” het Gorven gesê.

“Diegene wat vir die verkiesingsveldtog verantwoordelik was, het bewyse ontvang van die werk wat gedoen is om die plakkate te vervaardig. Hoe het die amptenare hul voorgestel dat dit gebeur het, behalwe op grond van ʼn ooreenkoms met Ezulweni?”

Gorven het die ANC se appèl van die hand gewys en hom gelas om miljoene rand aan Ezulweni te betaal.

Shafique Sarlie, Ezulweni se prokureur, het aan GroundUp bevestig dat nou net minder as R150 miljoen, met regskoste ingesluit, aan sy kliënt verskuldig is.

“Ek het nou dadelik betaling van die ANC geëis. Dit sal die beslaglegging en verkoop in eksekusie van bates behels. As dit tekort skiet van wat aan ons verskuldig is, sal ons likwidasieverrigtinge teen die party instel.”

  • Die berig is oorspronklik deur GroundUp gepubliseer en word met vergunning op Maroela Media gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Manie ·

Die geld sal nou in ‘n vooroggend uit die staatskas verdwyn en oorbetaal word.

JohanR ·

Lekker! Hoe lekker kry ek noe. In alle geval hoe weet ons die publiek oot dat as dit soe kom R100 miljoen IS betaal?

DEON ·

Stem saam, staatskoffers sal seker weereens geteiken word om dit te betaal. Iemand skep ook seker weer. 100mil vir baniere en advertensie. Moet so ñ besigheid begin.

Blikkies ·

Laat Cyril en kie die geld betaal. Ons lees mos hoe hulle Biljoeners geword het met al hulle aandele in SA besighede.

Wondermaarnet ·

Lekker man! Kan ook nie eers salarisse betyds betaal nie. Ontbind die hele party.

SwartBees ·

Raai bietjie presies WIE betaal die R100m rerig. Ek en jy die belasting betaler….so wie wen eintlik?!

electricmango ·

hulle het sekerlik net vergeet om te betaal. Het skaars geld vir salarisse maar order 100m se postertjies….

Anel ·

Kry vir julle, pappie! Betaal die geld terug. Verkoop julle luukse motors en huise en wat ook al. Solank dit nie ons belastinggeld is nie. Skelms!!!!

Pietertjie ·

Elke ANC lid behoort sy/haar kop in skaamte te sak dat hulle so ‘n kriminele organisasie steun. As hulle dit níé doen nie, wys dit dat die hele spul skaamteloos is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.