ANC-ondersteuners sterf in busongeluk

(Foto verskaf deur Natjoints)

Minstens agt persone is Sondagoggend dood tydens ʼn busongeluk op die R33 tussen Vryheid en Paulpietersburg in KwaZulu-Natal.

Brig. Athlenda Mathe, woordvoerder van die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur (Natjoints), sê volgens ʼn voorlopige verslag was die bus op pad terug van die Moses Mabhida-stadion.

Die ANC se verkiesingsmanifes is Saterdag by dié stadion bekendgestel.

“Die dodetal staan tans op agt met verskeie mense wat beseer is. Diegene wat beseer is, is na verskeie hospitale geneem vir mediese behandeling.”

Die KwaZulu- privaat ambulansdiens is na die toneel ontbied.

“Die bestuurder van die bus het beheer verloor oor die voertuig en die bus het omgeslaan,” berig Arrive Alive.

Paramedici moes ʼn groot getal pasiënte hanteer wat histeries en angsbevange was.

Vier persone het kritieke beserings opgedoen en 22 persone het ernstige beserings opgedoen. Altesaam 28 pasiënte het geringe beserings opgedoen.

Arrive Alive het ook bevestig agt insittendes het noodlottige beserings opgedoen en het aan hul beserings beswyk voor nooddienste by die toneel opgedaag het.

Mahlengi Bhengu-Motsiri, woordvoerder van die ANC, sê die ondersteuners was almal van Mpumalanga.

Nomagugu Simelane, die adjunkvoorsitter van die ANC in KwaZulu-Natal en die provinsiale leierskap van die ANC van Mpumalanga en KwaZulu-Natal is op pad na die ongelukstoneel en hospitale om die beseerde persone en betrokke families te ontmoet.

“Ons kamerade het ʼn onwrikbare toewyding aan die ANC getoon deur te reageer op die versoek om die byeenkoms by te woon. Dit is ʼn ware tragedie dat daar lewensverlies is ná só ʼn gedenkwaardige dag,” voeg Bhengu-Motsiri by. “Hul onbaatsugtigheid en toewyding om ʼn beter toekoms vir toekomstige geslagte te bou sal altyd onthou word.”

Die ANC betuig sy innige meegevoel met die families en naasbestaandes van die oorledenes. “Ons wens ook spoedige beterskap toe aan diegene wat beseer is.”

  • Brig. Mathe het ná die berig gepubliseer is, die dodetal aangepas na nege. “‘n Negende persoon het in die hospitaal gesterf,” het sy gesê. -Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Dit kom nou daarvan om gewone mense in ou busse te druk en na ‘n byeenkoms hondere kilometers vêr te stuur net om met getalle te pronk. Onverantwoordelik.

Piet parys ·

Meng jou met semels dan vreet die varke jou ……seker van toepassing hier . Nog n Anc failure

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.