ANC-raadslid laat vaar borgtog in verkragtingsaak

(Foto verskaf)

Die saak teen ʼn 43-jarige man, ʼn ANC-wyksraadslid van die Matlosana-munisipaliteit in Noordwes, is in die Orkney-landdroshof tot 24 Augustus 2023 uitgestel vir verdere ondersoek.

Die man het Vrydag in die hof verskyn vir sy formele aansoek om borgtog, maar het besluit om sy aansoek te laat vaar ná gesprekke met sy prokureur, sê Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

Die staat wag vir die finale uitslag van die ondersoek om moontlik nog aanklagte teen die man aanhangig te maak voor die saak afskop.

Die man staan voorlopig tereg op 11 aanklagte, waarvan twee vir statutêre verkragting, drie vir die oortreding van ʼn kind, een vir die vervaardiging van pornografiese materiaal, vier vir verkragting en een vir seksuele intimidasie.

Sy saak spruit uit ʼn ondersoek deur die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, seksuele oortredings en kinderbeskerming in Klerksdorp wat ʼn saak van crimen injuria en twee aanklagte van statutêre verkragting ondersoek het. Die sake is by die Kanana-polisiestasie aangemeld.

Die man bly in aanhouding.

Maroela Media het vroeër berig die man is aangekeer nadat video’s van die beweerde dade op sosiale media gedeel is. ʼn Saak van crimen injuria is in Junie 2023 aanhangig gemaak nadat die verdagte glo ʼn foto van sy geslagsdeel met een van die vermeende slagoffers gedeel het.

In ʼn tweede afsonderlike saak – teen dieselfde verdagte – is twee aanklagte van statutêre verkragting deur die ouers van twee tienerseuns (15 en 17 jaar oud) aanhangig gemaak. Dít nadat ʼn eksplisiete video van die man en een van die seuns op sosialemediaplatforms, onder meer op WhatsApp, aangestuur is.

Die NVG het mense gevra om nie seksuele inhoud van enige aard op enige platform te deel nie, aangesien dit die slagoffers en hul gesinne, asook die ondersoeke kan benadeel.

  • Die man se naam word weerhou om die slagoffers te beskerm weens die aard van die aanklagte teen hom.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.