Ané se pa motiveer haar vanuit tronk

Ané Coetser van Hoërskool die Wilgers. (Foto: Verskaf)

Ané Coetser van Hoërskool Die Wilgers in Pretoria wou graag haar pa met haar matriekuitslae beïndruk. Dit is deels waarom sy die afgelope jaar so hard gewerk het, al het die druk soms gedreig om haar onder te kry. Nou spog sy met drie onderskeidings.

Ané se pa, Louis Coetser, was amper haar hele hoërskoolloopbaan agter tralies. Hy is in 2019 skuldig bevind aan moord. Hy het destyds in die hof aangevoer dat hy hom teen rowers langs die pad verdedig het. “Hy was in 2014 een aand ná ʼn funksie op pad terug huis toe op die Moloto-pad toe daar klippe in die pad was. Hy het die klippe uit die pad geskuif toe hy en die persoon saam met hom aangeval is,” vertel Ané. “Hy het terugbaklei vir sy lewe.” Een van die beweerde aanvallers het later in die hospitaal beswyk aan sy wonde en haar pa is van moord aangekla. Die hof het nie sy weergawe van die gebeure aanvaar nie en hy is vyf jaar later tot effektief 12 jaar gevangenisstraf gevonnis.

Hoewel die afgelope jare swaar was en veral die matriekeksamen deursettingsvermoë geverg het, het gedagtes aan haar pa agter tralies haar gemotiveer om aan te hou.

“Die tyd was min en die werk soms oorweldigend. My pa se verwagting vir my is om te presteer, vandaar dat ek so hard werk.” Mettertyd het Ané agtergekom dis vir haarself ook dat sy soveel moeite insit. “Ek het ʼn droom om suksesvol te wees en gelukkig te wees in my werk eendag.” Oor haar ma, Marlize, se liefde, omgee en ondersteuning sê sy, “Dit is wat my kop bo water hou”.

Ané het geografie, toerisme en besigheidstudies as keusevakke gehad en sê sy het die meeste van geografie gehou. “Dis ʼn vak met uitdagings en ʼn mens leer waardevolle en interessante dinge wat van toepassing is op die alledaagse lewe.”

Ané gaan vanjaar LLB aan die Universiteit van Pretoria studeer.

“Ek wou oorspronklik ʼn vlieënier word, maar weens omstandighede en ek wat vakke moes verander in gr. 11, het al my planne verander. LLB is baie wyd, so dit hou my opsies oop vir die toekoms. Ek ken ook baie mense wat my daarmee kan help en ondersteun terwyl ek studeer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

domheks ·

Goed gedoen! Sterkte met die pad vorentoe, al is jy tydelik sonder Pa. Die tronk dae sal ook verby gaan.

Wondermaarnet ·

Wel gedaan en nou bid en vertrou ons jou pa is binnekort uit om in jou vreugde te deel. Ek kan nie help om te wonder wat van die aanvallers geword het nie. Loop seker nog vry rond.

Gaitsigubib ·

Eish, vang hierdie berig my nou onkant. Baie geluk, ek is seker jou pa is trots op jou!

Pampoen ·

Sy is van die regte stoffasie aanmekaar gesit. Sterkte vir die pad vorentoe.

Christian Grobler ·

Baie geluk. Jammer om van jou pa se omstandighede te hoor. Maak nie vir my sin nie. Maar laat dit jou motiveer om nog hoër hoogtes te bereik. Sterkte en weereens baie geluk met puik prestasie dit wil gedoen wees.

JohanR ·

Soe alles sou reg gewees het as die booswigte Ane se Pa langs die pad dood gemaak het. Maar hy weg terug, een booswig sterf en hy gaan tronk toe vir 12 jaar. Soe as jy aangeval word in jou huis en dit reg kry om een ou te neuk met ‘n dik swaar asbak en hy gaan dood, dan is JY in die groot moelikheid. In SA moet jy maar jou deure oop los dat hulle jou en familie kom doodmaak!

Renier ·

Dit is jammer die regter in haar pa se saak het die storie anders gesien.

Christian Grobler ·

Die nuusberig oor Anè se pa . Kan daar nie meer duidelikheid verkry word nie want dit klink net nie vir my reg nie.

Thinus ·

Ek wil graag ʼn opvolg berig sien wat meer vertel oor hoe haar pa skuldig bevind is. Dit klink vir my na ʼn baie duidelike geval van selfverdediging

Helgard ·

Mooi vir Anja.

Oor haar pa se selfverdediging: As jy aangeval word en die oorhand kry stop die geweld. As jy dan voortgaan om iemand so te skop en slaan en hom sleep na stopteken waar jy hom verder herhaaldelik teen die stopteken slaan tot hy dood is. 3rde partye wat opdaag op die toneel met die dooddreig en aanval en dan die toneel verlaat is jou saak vir selfverdediging maaar dun.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.