Ape in ‘haglike toestande’ aangehou

DBV-inspekteurs het Dinsdag ‘n draai by Monkey Town gemaak. (Foto: Cape of Good Hope SPCA)

Die Kaap van Goede Hoop-dierebeskermingsvereniging (DBV) het ʼn waarskuwing aan die bekende primaat-en-wildsentrum in Somerset-Wes, Monkey Town, uitgereik, met verwysing na 14 oortredings van die Dierebeskermingswet.

Luidens ʼn verklaring uitgereik deur die DBV het sy inspekteurs Dinsdag ʼn anonieme wenk van ʼn lid van die publiek ontvang oor die swak toestand van die sentrum. Inspekteur Werner Taljaard en wildbeampte Jon Friedman het ondersoek gaan instel en bevind dat die diere onder haglike toestand verkeer.

Volgens die DBV was daar nie voldoende toegang tot drinkbare water vir die diere nie. Die inspekteurs het ook op ʼn verwaarloosde donkie afgekom met hoewe wat erg vergroeid is en van die apies wat hulself oormatig gekrap het.

“Hierdie diere moet so gou as moontlik deur ʼn veearts ondersoek en behandel word,” lui die verklaring.

Volgens die verklaring was een van die krimpvarkies se hokke glo met maaiers besmet. Die hok was volgens die inspekteurs nat en het gestink.

Van die hokke het leë waterbakke gehad. (Foto: Cape of Good Hope SPCA)

“Die inspekteurs het ook ʼn hok met bruin Kapusyn-ape aangetref met die hok wat nie voldoende skuiling teen die wind en weer bied nie.”

Volgens die verklaring was daar ook ʼn personeellid van die sentrum wat ʼn petrolaangedrewe onkruidvreter in die eekhoringape se hok gebruik en die diere ontsenu het. “Die ape was duidelik benoud oor die harde geluid.”

Volgens die inspekteurs was die Ara-papegaaie se hok ook nie op standaard nie. “Die hok is nie hoog of groot genoeg nie.”

Die verklaring maak ook melding van verskeie operasionele kwessies wat tydens die inspeksie uitgelig is.

“Inspekteurs het op elektriese verwarmers met blootgestelde elektriese kabels in die slaapplekke van primate afgekom. Dit kan ʼn aansienlike groot brand- of skokrisiko inhou. Daar was ook blootgestelde besproeiingspype in die grysbok se hok wat ʼn gevaar vir die diere kan inhou.”

Die DBV het die sentrum sewe dae gegee om die 14 oortredings reg te stel of gereed te maak vir vervolging.

Volgens Hannes Pretorius Bock, regsverteenwoordiger van die eienaars van Monkey Town, gaan die sentrum hom daartoe verbind om met die DBV saam te werk om beter lewensomstandighede vir sy diere daar te stel.

“Mnr. René Grobler is ʼn bekende plaaslike diereliefhebber en verbind daartoe om die beste moontlike lewensomstandighede vir sy diere te skep. Hy is al langer as 20 jaar by sy diere betrokke en die verantwoordelike wyse waarop hy sy diere behandel word, is wyd bekend,” het Bock gesê.

Grobler was in hierdie stadium nie bereid om enige verdere kommentaar rakende die saak te lewer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Di ·

Hierdie tipe berigte laat letterlik my bloed kook! Hoe op dees aarde begin jy so iets en dan word diere aangehou onder hierdie haglike omstandighede? Maar die plek toe en kry ‘n ander heenkome vir hierdie arme diere. Ek noem hierdie in plein afrikaans “Diere Mishandeling”

Magda G ·

Plaas die diere in ander skuilings, maak die skuiling toe en dagvaar die eienaar/s vd skuiling vir duisende rande. Moet nie eers boetes oorweeg nie. Die werkers kan lom maar hulle werke verloor want selfs hulle is ongevoelig teenoor die diere. Sal hulle leer. Dis n skande en dit teenoor n dier. Hulle het geen skaamte. Patete

Mamma Landa ·

Dit is nie die eerste keer wat hierdie plek in die nuus is oor die halglike omstandighede waarin die diere hulself bevind nie… Ek stem saam dat dit met onmiddelike effek gesluit behoort te word.

Elmarie ·

Dankie aan die DBV wat so vinnig op die wenk gereageer het. Hopelik verbeter omstandighede.

Sê maar net ·

Maak my briesend! Maak die plek toe. Diere kannie praat as hulle honger, of dors, of in pyn is nie. Dis mishandeling.

Oujongvrou ·

Maak toe die plek. Kort kort in die nuus oor die diere. Is n geldmaak ding en hulle gee nie n vlenter om oor die diere nie. Vorige keer was dit bob ejane. En voor dit n chimp op n eiland in die plek.

Marius ·

Net n vraag wanneer laas het julle n paar rand and DBV gegee of aan mense wat probeer help geld gaan net so ver

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.