ARRC bied veilige hawe vir verwaarlose diere

(Foto: Verskaf)

Troeteldiereienaars weet maar al te goed dat ʼn uitstappie veearts toe jou ʼn hele paar rand uit die sak kan jaag – selfs vir basiese en voorkomende mediese sorg soos inentings teen dodelike siektes.

Volgens inligting van die niewinsgewende organisasie Wellbeing Internasional (WBI) kan ʼn derde van troeteldiereienaars nie enige veeartseny-uitgawes bekostig nie. In baie gevalle, veral in landelike gebiede, kan inwoners nie eens aan hul diere se dieetvereistes voldoen nie.

ʼn Oorbevolking van honde en donkies met lelike wonde is oral in landelike gemeenskappe te sien. Die diere word meestal gebruik om te werk en is dikwels ondervoed en verwaarloos.

Dit het ʼn groep buitelanders wat al jare in Suid-Afrika woon, in November 2021 genoop om ʼn verskil in die lewens van onskuldige diere te maak en onervare troeteldiereienaars te leer om aan hul diere se basiese behoeftes te voorsien.

Animal Relief in Rural Communities (ARRC) is ʼn organisasie in Phalaborwa, Limpopo, sonder winsbejag en is gestig met die doel om diere in plaaslike gemeenskappe van verskeie gesondheidskwale te verlos.

Hulle meen dat dit niks help om die hond te skop wanneer ʼn mens vir die kat kwaad is nie.

“Baie mense, veral jong mense in landelike omgewings wil baie graag ʼn troeteldier aanhou, maar weet nie hoe om vir die dier te sorg nie”, sê Fernando Prados, medestigter van ARRC.

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

“Benewens die feit dat die meeste van die diere in landelike gemeenskappe aan wanvoeding ly, het talle ook verskeie siektes waarteen hulle nooit ingeënt is nie en beskik die meeste van die troeteldiereienaars nie oor die nodige geld om mediese uitgawes te dek nie.”

Kenners skat dat soveel as 80% van mense met troeteldiere nie weet hoe om na hul vierpotige vriende om te sien nie.

WBI sê baie van hierdie diere word “informeel versorg”.

“Terwyl daar na raming 300 miljoen ‘hawelose’ honde [wêreldwyd] is, is die term verbasend uitdagend om te definieer,” sê WBI.

“Dit is omdat baie honde wat op straat woon deur ʼn spesifieke huishouding ‘opgeëis’ kan word. Navorsing het bevind dat meer as 90% van honde op straat in Suid-Afrikaanse townships deur spesifieke huishoudings opgeëis is.

“Net omdat daar huishoudings is wat diere op straat voer, beteken nie daar word na al hul behoeftes omgesien nie. Hierdie diere ontvang selde enige behandeling vir siektes of beserings en word as haweloos beskou.

Volgens Tracy Mobley, medestigter van ARRC, het diere in landelike gemeenskappe heel dikwels ʼn tekort aan verskeie voedingstowwe en kry hulle nie die nodige mediese behandeling wat hulle benodig nie.

“Van die allernodigste inentings vir honde tot praktiese harnasse vir donkies, sowel as sterilisasie van diere en dringende mediese sorg, dít is wat ons doen.

“Ons werk daaraan om ʼn positiewe impak op die lewens van diere en mense in landelike gemeenskappe in Suid-Afrika te maak.”

Donkies en honde hier gehelp

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Mobley sê hul missie is om veeartsenykundige sorg, kos en skuiling aan behoeftige diere te verskaf, terwyl hulle ook die gemeenskappe aan wie dié diere behoort ondersteun en opvoed.

“Daar is ʼn paar redes waarom ons gekies het om in die gemeenskap van Selwane te begin. Eerstens is die naaste dorp 35 km ver en daar is geen veeartsenykundige ondersteuning naby beskikbaar nie.

“Tweedens is die donkies werkende donkies en is hulle noodsaaklik vir die alledaagse lewe van die gemeenskap. Hulle word gebruik om water en hout mee te vervoer – dit is baie swaar vragte en word meestal met draadharnasse gedoen wat baie ernstige en lelike wonde veroorsaak.

“Derdens is die hondepopulasie baie groot, uitgeteerde honde hardloop in die strate rond en teel aan, landelike gemeenskappe is vol ongewenste werpsels en het ʼn magdom gesondheidskwessies wat die lewe van duisende diere eis,” sê Mobley.

“Laastens grens die gemeenskap aan ʼn natuurreservaat en is inentings baie belangrik om kruisbesmetting met wild te minimaliseer.”

Sy vertel dat hulle ook betrokke geraak het by ʼn kinderprojek met die doel om die volgende geslag oor wildbewaring en dierewelsyn op te voed.

“In die begindae het ARRC na baie gemeenskappe omgesien, maar Selwane was veral kwesbaar in die opsig dat watervoorsiening werklik gebrekkig is.

“Ons is met ope arms verwelkom en ons geniet die tyd wat ons in die gemeenskap deurbring. Dit is baie opwindend en so wonderlik om te sien hoe die kinders oor die paar jaar gegroei het. Die werk eindig nooit nie, maar ons streef daarna om elke dag ons beste te doen.

Sy sê lede van die organisasie het al talle sterwende honde se lewens gered en hul harnasprojek vir die donkies maak ʼn reuseverskil. “Dit is regtig lekker om te sien hoe ons die lewens van diere en selfs die mense in hierdie gemeenskappe ten beste verander.

“ARRC bied ʼn veilige en vertroude omgewing, sonder oordeel, vir diere in nood en ʼn plek vir eienaars om te leer en eienaarskap van hul diere se welsyn te neem.”

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.