Ashwin Willemse se kontrak met SuperSport het verval en hy sal nie weer op die kanaal verskyn nie.
Clinton van der Berg, woordvoerder van SuperSport, het dit aan Maroela Media bevestig. Van der Berg het intussen ook bevestig dat hulle nog niks van die gelykheidshof gehoor het nie. Willemse het vroeër gesê hy gaan dié hof nader.
“Ons is in verbinding met die Menseregtekommissie. Ons het adv. Vincent Maleka SC se verslag na die kommissie verwys, soos hy voorgestel het ná sy onafhanklike hersiening van die voorval.” Van der Berg het gesê hulle gaan geen verdere kommentaar oor die aangeleentheid lewer nie.
Willemse het in Julie gesê hy sal wag op die verhoor van die MRK om sy “geldige pyn” te deel. Willemse het in ʼn onderhoud op Talk Radio 702 en Cape Talk kortliks gepraat oor sy besluit om nie aan die bemiddelingsproses by SuperSport deel te neem omtrent konflik tussen hom en sy mede-aanbieders, Nick Mallett en Naas Botha, nie.
Willemse het Mallett en Botha van rassisme beskuldig, en nadat SuperSport ʼn ondersoek na die beskuldigings van stapel gestuur het, het Willemse gesê die ondersoek is “nie die gepaste forum om die kwessie te bespreek nie”. Hy het daarna aangedui dat hy die gelykheidshof oor die saak gaan nader.
Maroela Media het vroeër berig Willemse het in Mei tydens ʼn regstreekse uitsending uit die SuperSport-ateljee gestap ná ʼn oënskynlike meningsverskil met Mallett en Botha. Dit is steeds onduidelik wat presies die voorval voorafgegaan het, maar Willemse het sy ongelukkigheid duidelik gemaak voordat hy van die stel afgestap het.
“Jy weet wat, ek speel al lank hierdie sportsoort, nes almal van ons hier. Ek, as speler, is vir ʼn lang tydperk as kwotaspeler bestempel. Ek het hard gewerk om my eie respek in dié spel te verdien, ek gaan nie verkleineer word deur twee enkelinge wat in apartheid, ʼn gesegregeerde era, gespeel het en my wil kom ondermyn nie. Ek dink ek het nou genoeg gehad, ek kan nie met mense werk wat ander ondermyn nie,” het Willemse tydens dié regstreekse uitsending gesê.
SuperSport het daarna ʼn ondersoek na die voorval van stapel gestuur waarin daar bevind is daar was geen verskuilde of openlike rassisme wat tot die voorval gelei het nie.
Die ondersoek het ook aangedui daar was twee faktore wat ʼn logiese verduideliking vir die voorval bied. Die eerste faktor was ʼn tegniese fout wat tot gevolg gehad het dat al die kommentators nie ʼn spreekbeurt gekry het nie, en die tweede een dat Willemse Botha en Mallett as neerhalend beskou het toe hulle aangedring het hy moet eerste praat ná die advertensiebreuk.
Botha en Mallett was kort ná die ondersoek afgehandel is weer terug op die kassie.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
83 Kommentare
So bly. Sal hom nie mis nie. Wie is hy nou weer.
Wat ñ verlossing
Ja, ek kan net sê “bye-bye, thanks for leaving”. Daar is nie miljoene wat die man sal mis nie.
Ek wonder hoekom, wat het nou van al sy brawade geword, nie dat ek hom sal mis nie.
Dit is beter vir sport as ‘n geheel asook vir hom. Goeie besluit